Die mense met die verjongingskure, -pille, -poeiers en -rome, moet dalk so ’n oomblik opsystaan en luister.
Want, die afgelope week of ses het ek sowaar die put van ewige jeugdigheid ontdek.
Of ten minste: Die bodemlose put van kommentaar oor hóé jónk ék dán ís.
Sien, ek het aan die einde van ’n warrelwind 2014, op die ouderdom van ’n beweerde jeugdige 37, ’n histerektomie gehad.
Nié omdat ek nie rêrig vakansieplanne gehad het nie. Nié omdat ek ’n vreemde verslawing aan narkose en hospitaalkos het nie. Nié omdat ek versot is op seperige sponsbaddens om kwart-voor-vyf soggens nie. En, ook nié omdat ek my heimlik verbeel ek is twintig jaar ouer as wat ek is nie.
Nee. Bloot omdat my ginekoloog – wat op ons dorp as die beste in sy veld gereken word; en boonop in die hele provinsie as deskundige, ook op die gebied van onkologie – dit met ’n roetine-ondersoek aanbeveel het. Soos sowat drie jaar gelede ook, maar toe was ’n ses weke-herstelproses moeilik om in te pas met twee kleuters.
Ek en die dokter stap al ’n pad van een-en-’n-kwart dekade. So, hy kén my. En ek wéét dat hy wéét wat die beste is.
Ons beplande somerskoolvakansie het dus binne die bestek van ’n week ’n taamlike omwenteling ondergaan. Die kinders, verlede jaar graad R en graad 2, sou hulle laaste skooldag mis, Manlief sy laaste drie werksdae van 2014 en ek sou skemerdag op 10 Desember inboek by ons plaaslike “Club Med”.
Die fynere besondere van die voorbereidings wat op daardie oggend geskied het, sal ek sensitiewe lesers en my geheueself spaar. Dit was plein rof en onbeskof. Ek, wat nie kleinserig is nie, was nogal bly dat ek nie vooraf geweet het van al die aksie wat op my wag nie.
Wat ek wel op daardie oggend onwillekeurig saam met my teater toe geneem het, was meelewende goedvoel-wense.
Regte vriende was regtig bekommerd oor my.
Toe ek inboek in my kamer in die nuut-aangeboude “kraamsaal”, het ’n ruiker en giggelkaartjie van twee dierbare vriendinne my ingewag. En boonop ’n asemrowende vensterbed-uitsig oor die Worcester-berge.
Skielik het die hospitaalbesoek ’n sweem van vyfster-bederf gehad. Alles danksy liefde en sorg (en ’n mediese fonds).
My gesin het gegroet en sou kort voor teatertyd inloer. Goeie vriende se geestesversterkende glimlagboodskappe het my laat vergeet van die “stukkende” hospitaaljurk sonder knope en die knop in my keel.
Mense het my gewaarsku dat my emosies dalk klimtol sal speel na afloop van dié “lewensveranderende” operasie. Ek het my nie veel gesteur nie, want hierdie was nie vir my traumaties en ’n wysiging in my toekomsplanne nie. Ek was tevrede om die ma van twee kinders te wees. En ek is ook ’n ferm voorstander van “as iets pla, haal dit uit”.
Maar, toe tref emosie my wel. In die vorm van ongeloof en verstomming en irritasie oor die belaglikhede wat mense goeddink om in die ure voor en na die teaterbesoek aan my te stuur.
Die paar dae voor die operasie het verskeie mense hulle gruverhale met my gedeel oor presies hoe erg en seer so ’n operasie is en wat alles kan foutgaan. As ek na ’n kwart moes luister, sou ek nou nog weens verwysde pyn (dis nou as iets eintlik op ’n ander plek – hier effe laer – die pyn op ’n plek veroorsaak) op die naat van my rug gelê het. Ek het my dikvellig probeer hou hierteen.
Maar, toe ek rondom die middaguur bykom van narkose, lê daar buiten die gewone sterktewense en vrae oor hoe dit gaan, ook nie minder nie as vier selfoonboodskappe van “besorgdes” wat “hoop” dat ek “nie oor ’n jaar of twee gaan spyt wees” dat ek “nie nog kinders kan hê nie”. Rêrig? Is dit hulle héélbeste sterktewense?
Daar was ook iemand wie se boodskap begin het met “Jy is seker nog nie heeltemal by na die operasie nie, maar watter goeie restaurante kan jy aanbeveel?” In hierdie stadium was ek reeds sestien uur nil per mond. So ek het dit ignoreer. Gelukkig het ek ook in dié stadium nog nie geweet dat ek nog minstens 24 uur op ’n ysblokkiedieet sou wees nie. En ook nie dat my eerste ete na die sestien-uur-suurstof-en-24-uur-ys, ’n verdagte bakkie kookwater met geelgroen hoenderpoeier sou wees nie. Anders het ek haar dalk nét geantwoord.
Die een wat my egter baie na aan die doemprofete se “vroeë menopouse en warm gloede” gebring het, was die boodskap wat gelui het: “Sterkte met jou herstel. Sal jy ons kompetisie-inligting share op jou Facebook, maar jy moet ook ’n donasie gee, asseblief, dan kom jy ook in aanmerking vir die prys.”
Ek het, wetende dat sy weet ek is die oggend opereer, effens geïrriteerd geantwoord dat ek sopas ’n histerektomie gehad het en nié nou enigiets gaan skenk óf “share” nie (en in my enigheid: Veral nie my morfienpompie nie). Sy het nog aanhou karring en my vertel hoe gelukkig ek is. Sowat ses ure na ’n seer teaterbesoek, is dit net dáár waar ’n mens se humorsin in die hek duik.
In die aanloop tot my operasie, was my grootste bekommernis hoe ek vier weke gaan oorleef waarin ek nie mag bestuur nie. Want, ek is sedert die oggend 19 jaar gelede wat ek diepdankbaar in die spietkop se oë gestaar het toe hy vir my die bestuurslisensiepapier oorhandig, bitter baie lief vir bestuur. Self bestuur. Dis vryheid en dis gou heen-en-weer en dis langpadgenot.
Manlief was gelukkig immergewillig om my daagliks op uitstappies te chauffeur en die vier weke het verbasend gou verbygesnel. Seker ook omdat die bestuur van die stofsuier óók in hierdie tyd sý verantwoordelikheid was.
Die oproep van my ginekoloog een skemeraand so twee weke na die operasie met die toetsuitslae, was ’n verdere hoogtepunt. Die uitslae het bewys dat die operasie noodsaaklik was (stilgesnoer was alle monde wat my slim dokter en my oordeel in twyfel getrek het), maar ook dat niks kwaadaardig getoets het nie. Verligting met ’n hoofletter V.
My sesweke-ondersoek vroeër vandeesweek het ook ten spyte van effense twyfel weens ’n skielike ongemaklikheid en (verwysde?) pyne, baie voorspoedig verloop.
My ginekoloog het verklaar dat alles geheg het soos dit moes en van hier af was dit voorwaarts mars.
Ek kon, volgens hom, ook weer begin met ’n oefenroetine. Soos die deeglike, omgeedokter wat hy is en ek hom die laaste amper dertien jaar leer ken het, het hy vermaan: “Maar jy moet versigtig begin oefen. Onthou dat jy nou onfiks is na ses weke sonder enige oefening.”
Waarop ek hom gelukkig gerus kon stel dat ek al om en by ses jaar arbei aan hierdie “sesweke-onfiksheid”.