Suid-Afrika se golden girl, Tatjana Smith (voorheen Schoenmaker), het haar plek in die 100 m-borsslag-eindstryd by die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk verseker. Sy is ‘n sterk aanspraakmaker op die goue medalje.
Lees ook: Swemkampioen Tatjana Schoenmaker en Joel Smith hak die knoop in Robertson deur
Tatjana het vanjaar se Olimpiese Spele met hoë verwagtinge betree, nadat sy ‘n silwer medalje in die 100m-borsslag en ‘n goue medalje in die 200m-borsslag by Tokio in 2020 gewen het.
Sy het Sondag by die Parys La Defense Arena twee skouspelagtige oorwinnings in haar uitdun- en halfeindrondes behaal en haar beste tyd in die item geswem sedert haar prestasie in Tokio drie jaar gelede.
Smith het die eerste plek met identiese tye van 1:05.00 in beide wedrenne behaal – ‘n merkwaardige vertoning van konsekwentheid en uitsonderlike vorm.
Die prestasie plaas haar as ‘n top-aanspraakmaker op die goue medalje in die eindstryd Maandagaand, berig Span SA.
China se Qianting Tang, wat die wêreldranglys met ‘n tyd van 1:04.39 voor die Olimpiese Spele gelei het, het die eerste halfeindstryd met ‘n tyd van 1:05.83 gewen, wat haar algeheel vierde op pad na die eindstryd plaas. Mona McSharry en Lily King is ook aanspraakmakers, met tye van onderskeidelik 1:05.51 en 1:05.64.
Smith het in 2020 by Tokio die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword om ‘n Olimpiese goue medalje in swem sedert 1996 te wen.
Lees ook: Ontmoet die vasberade gimnas wat SA by die Olimpiese Spele gaan verteenwoordig