Tandsteen
Wat is dit?
Dit begin by plaak. Bakterieë, kos en verteringsprodukte vorm plaak, ’n klewerige, taai materiaal wat aan jou tande vasklou. Mondsure word hier gevorm, wat jou tandemalje afbreek en gaatjies in jou tande – en tandpyn – veroorsaak. Maar dit is nie al nadeel van plaak nie. As jy plaak nie goed afborsel nie, begin dit ná net 26 uur in klipsteenharde tandsteen omsit.
Hoekom is dit ’n probleem?
Tandsteen is selde opvallend en soms is ons min gepla daaroor. Maar as tandsteen op jou tande opbou, kan jy hulle nie goed borsel nie, en ook nie vlos nie, want die tandsteen breek die vlos. Dit verskaf ekstra “blyplek” vir bakterieë. So vorm meer plaak, en meer tandsteen.
Die probleem bou op. Aanvanklik sal jou tandarts die tand se lewe kan verleng deur dit eers te stop; later word die senuwee verwyder, waarna die tand “doodgaan” en verkleur, van geel tot bruin, blou en selfs pers en swart. As die wortel in ’n goeie toestand is, kan die tand gekroon word, of deur ’n brug oorspan word. Jou laaste opsie is ’n implantaat – baie duur en net ’n opsie as jy genoeg been in jou kaak het. Die uiteinde is dat jy die tand verloor.
Dit laat jou nie net met ’n gat in jou glimlag nie maar jou ander tande skuif en “val” uit hul gesonde, stewige posisies en is uiteindelik ook in gevaar.
2 x 2 minute
Hoe keer jy?
Borsel jou tande twee keer per dag vir twee minute – een minuut bo en een minuut onder. Volg dit met vlos mini-tussentandborseltjies om tussen jou tande skoon te hou.
6 x 1 minuut
Wat is tandvlekke?
Jy kan enige van drie soorte tandvlekke hê: Jou tandemalje kan vlek, veral van sterk koffie, rooiwyn en rook. Dié soort vlekke lê bo-op jou tandemalje en kan verwyder word. Die tweede soort vlek of verkleuring gebeur binne jou tand, meestal weens tandbeserings, soos ’n harde slag teen jou tande, wat die tandpulp beskadig en selfs interne tandbloeding kan veroorsaak.
Sekere antibiotika – spesifiek die tetrasikliene – kan jou tandemalje laat vergeel. En as jy in die fluoriedryke Karoo grootgeword het, is jou tande waarskynlik geel weens ’n hoë persentasie fluoried in jou tande. Die derde soort tandvlekke ontstaan weens ’n kombinasie van binne- en buitevlekke wat oor jare opbou, en verskyn meestal eers ná vyftig.
Hoekom is dit ’n probleem?
Al maak eksterne tandvlekke jou te selfbewus om ontspanne te glimlag is hulle meestal onskadelik. Die laaste twee dui gewoonlik op tandskade – skade wat dikwels reeds te ver gegaan het.
Hoe kry jy jou tande weer wit?
Oppervlakkige tandvlekke
Spoel jou mond met gewone water ná elke koppie koffie en glasie rooiwyn of ander kos met ’n sterk kleur wat jou tande moontlik kan vlek. Borsel jou tande deeglik. Die skuuraksie help om enige kleurneerslag af te borsel. Laat ’n mondhigiënis jou tandemalje skoonmaak. Probeer ’n tandbleikmiddel. Maar dit is nie vir jou nie as jou tandemalje al redelik verweer het, baie sensitief is en/of as jy gaatjies het.
En oppas vir bleiking as jy krone en brûe het: die bleikmiddels maak net jou natuurlike tande witter terwyl jou sintetiese tande dieselfde kleur bly. Jy gaan met ’n bont mond sit. Die tuistoestelle werk net vir baie ligte vlekke. Professionele behandeling is doeltreffender maar kan jou tande vir ’n paar dae sensitief laat voel.
Interne tandvlekke
Ongelukkig kan jy min hieraan doen – voorkom vlekke as jy kan. As julle in ’n fluoriedryke gebied woon, laat jou kinders gebottelde water drink omdat dit minder fluoried bevat. Moet jou kinders fluoriedpillejties drink? Vra jou tandarts, omdat jou gebied se water bepaal of dit nodig is of nie. Vermy tetrasikliene as jy swanger is, en by kinders jonger as twaalf. Laat die gevlekte tand met ’n kroon, veneer of ’n implantaat regstel.
Lees ook: Hoekom jy elke dag jou tande moet vlos