Tamatie-en-waatlemoen-slaai met ’n rooi soetrissie-slaaisous en geklopte feta deur Vickie de Beer, bygestaan deur Gilionelle Kaba. Foto: Lee Schwagele
Bestanddele
Rooi soetrissieslaaisous
- 20 ml (2 t) olyfolie
- 2 rooi soetrissies, pitte en wit vliesies verwyder en in blokke gesny
- 200 g aarbeie, gewas en stingels afgesny
- 15 ml (1 e) witwynasyn
- ’n knypie sout
Geklopte feta
- 200 g fetakaas
- 250 ml (1 k) suurroom
Tamatie-en-waatlemoen-slaai
- 2 groot ryp tamaties, in kwarte gesny
- 100 g kersietamaties, middeldeur gesny
- 100 g rosatamaties, middeldeur gesny
- 150 g waatlemoen, geskil en in skywe gesny
- 100 g aarbeie, middeldeur gesny
- 40 g granaatpitte
- ’n hand vol kruieslaaiblaartjies
- sout
Metode
Soetrissieslaaisous
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Sit die soetrissieblokke op ’n bakplaat en gooi die olyfolie oor. Geur met sout en meng goed deur. Rooster vir 20-25 min. of tot sag.
- Verwerk die geroosterde soetrissies, aarbeie, witwynasyn en sout in ’n voedselverwerker tot glad. Gooi die olyfolie stadig by terwyl die masjien aangeskakel is en meng goed. Sit in die yskas en haal net voor opdiening uit.
Geklopte feta
- Breek die fetakaas in ’n mengbak in klein stukkies – maak seker daar is nie groot stukke nie. Gooi die suurroom by. Klits die mengsel met ’n elektriese handmenger tot lig en donsig.
Tamatie-en-waatlemoenslaai
- Meng die gesnyde tamaties in ’n groot slaaibak, en geur met sout.
- Rangskik die tamaties, waatlemoen, aarbeie, granaatpitte en kruieslaaiblare in ’n mooi opdienbak. Sit die slaai met die soetrissieslaaisous en geklopte feta voor.