Tamaryn is eerste prinses by Mej. Heelal-kompetisie verwerk deur Catherine Schenck. Hooffoto: Yolanda van der Stoep.
Tamaryn Green is gekroon as Eerste Prinses, terwyl Mej. Fillipyne, Catriona Gray, gekroon is as Mej. Heelal. Suid-Afrikaner Demi-Leigh Nel-Peters, Mej. Heelal 2017, het die kroon aan Gray oorhandig by die 67ste Mej. Heelal-kompetisie.
Lees ook: Demi-Leigh Nel-Peters: Die mooiste in die heelal
Die 24-jarige Green, van die Paarl in die Wes-Kaap, het Suid-Afrika verteenwoordig teen 93 ander deelnemers in hierdie kompetisie. Green was een van die gunstelinge in die oploop tot die finale ronde van die Mej. Heelal-kompetisie.
Lees ook: Mej. SA 2018
Tamaryn vertel ons waarna sy uitsien by die Mej. Heelal-kompetisie
Green het na die tyd die volgende gesê van haar ervaring as deelnemer by die Mej. Heelal-skoonheidskompetisie: “Die Mej. Heelal-ervaring het verby my wildste verwagtinge gestrek en ek is verheug dat ek só ver gekom het. Veels geluk aan Catriona. Al die deelnemers was wonderlik – ek weet ek lewenslange vriendinne gemaak. Dit was werklik ’n reis van die susterskap. Thailand is ’n fantastiese land met vriendelike mense wat ons almal welkom laat voel het. Ons het hard gewerk, maar dit wat ons terug gekry het is van onskatbare waarde. Die ondersteuning wat ek gekry het, het my regtig aangespoor om my beste te doen. Baie dankie aan almal tuis wat my ondersteun het.”
Toe Tamaryn die Mej. SA-titel gewen het in Mei vanjaar, was sy ’n finalejaar mediese student by die Universiteit Kaapstad. Sy wil graag spesialiseer in pediatrie sodra sy gekwalifiseer is.
Tussendeur het sy aangehou om haar #BreakTheStigma-veldtog te bemark by die Mej. Heelal-kompetisie waar sy sukses behaal het met haar bewusmakingspogings oor TB. Sy het ook in September New York toe gereis waar sy ’n spreekbeurt by die heel eerste VN Algemene vergadering oor tuberkulose gehad het. Sy is ook genooi om by die Unie-konferensie oor Longsiektes in Den Haag te praat, waar sy vertel het van haar persoonlike ervaring en stryd met TB.