Tamaryn Green: Slim en sjarmant deur Ilse Salzwedel. Foto’s: Leana Clunies-Ross. Foto’s geneem by Thaba Eco Hotel.
In die tydskrifbedryf werk ons gereeld met glansmense. Sommige se natuurlike skoonheid slaan jou asem weg, ander se nederigheid is opvallend, en soms is dit van begin tot einde net ’n vreugde om saam met ’n bekende te werk. En dan is daar iemand soos Tamaryn Green, wat al hierdie boksies (en nog ’n paar ander) aftik.
Sy is beeldskoon, vriendelik, uiters professioneel en nog gemaklik voor die kamera ook. Nie eens ’n onnutsige wind of ’n onverwagse reënbui tydens ons buitelugfotosessie kon haar van stryk bring nie, en wat ook al ons fotograaf wou hê sy moet doen, het sy met ’n glimlag gedoen. Een ding is duidelik: hierdie beeldskone donkerkop se voete is stewig op moederaarde. Sy is maar net Tamaryn, die Kaapse mediese student wat verlede jaar as Mej. Suid-Afrika aangewys is.
Ons fotosessie gebeur net ’n paar weke voor haar vertrek na Thailand vir die Mej. Heelal-kompetisie, en Tamaryn se dagboek is reeds propvol soos wat sy voorberei vir die groot geleentheid. Sy kan nie uitgepraat raak oor die opwindende, besige maande sedert haar kroning as Mej. Suid-Afrika nie. “Ek moes vinnig grootword – ná my kroning moes ek Johannesburg toe trek. Dis die verste wat ek tot nog toe van die huis af gewoon het, en ook die eerste keer dat ek alleen in ’n woonstel woon – tot voor my kroning het ek in ’n universiteitskoshuis gebly.”
Maar sy geniet die onafhanklikheid, die talle amptelike geleenthede en nuwe uitdagings wat saam met haar titel kom. “Daar het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan, en ek het vir seker as mens gegroei.”
Wat beskou sy as die hoogtepunte van haar jaar tot dusver? “Oe, daar is so baie! Maar beslis om president Cyril Ramaphosa te kon ontmoet en ’n verhoog met hom te deel by ’n Vrouedaggeleentheid in Mbekweni, ’n woongebied in die Paarl, my tuisdorp.”
Dit was net so lekker om as genooide gas op televisieprogramme soos die Dan Nicholl Show en Top Billing te verskyn. Nog ‘n droom wat waar geword het, was om te kon reis. “Ek was Thailand toe om as genooide bekende aan die World Swimsuit-kompetisie deel te neem.”
Sy is ook genooi om oor haar bewusmakingsveldtog teen tuberkulose te gaan praat by die Verenigde Nasies in New York en daarna in Den Haag by die Union Conference on Lung Health. “Ek raak nou nogal gewoond daaraan om uit ’n tas te leef,” skerts sy.
Maar moenie dink dit is net die groot hoogtepunte wat haar bybly nie. “Daar is soveel kleiner oomblikke ook, soos wanneer meisietjies op ’n mens afstorm om te kom gesels. Ek was onlangs in die Paarl en is die Sondagoggend saam met my ouers kerk toe. En daar bars ’n meisietjie sommer in trane uit toe sy my ontmoet.” Dit, vertel sy, hou ’n mens nederig – om te weet jy leef die droom van duisende meisietjies en jong vroue. In meer as een opsig. “’n Ander keer het ’n meisietjie na my toe gekom en gesê sy droom ook daarvan om ’n dokter te word. Dit het my skielik getref dat sy weer ’n ander deel van die prentjie sien en oor ander goed droom.”
Daar is nie iets soos ’n tipiese dag vir Mej. Suid-Afrika nie. “Elke dag is anders met ander verpligtinge, maar ja, die roetine is seker dieselfde. Staan op, besluit wat om te dra vir die okkasie, doen hare en grimering … Maar my dae is volgepak met verskillende dinge, wat wissel van fotosessies en onderhoude tot geleenthede waar ek as spreker moet optree, of ’n gasverskyning moet maak.”
Natuurlik wil ons weet hoe sy vir die Mej.Heelal-kompetisie voorberei het. “Jong, die grootste voorbereiding is seker maar die klomp uitrustings wat ek moet saamneem. Daar is dikwels meer as een geleentheid per dag, en jy kan nie dieselfde uitrusting twee maal dra nie.”
Tamaryn en Werner Wessels (’n kreatiewe konsultant wat ook betrokke was by vorige Mej. SA-wenners) het baie tyd daaraan bestee om seker te maak sy lyk eksie-perfeksie vir al die uitstappies en ge- leenthede gedurende die drie weke lange kompetisie. Kenners het haar geleer om haar eie grimering en hare te doen, en natuurlik moes sy gesond eet en gereeld oefen sodat sy op haar mooiste kan lyk.
Maar hedendaagse skoonheidskoninginne moet ook hul sê kan sê, wat glad nie vir die sjarmante, borrelende en slim Tamaryn ’n probleem behoort te wees nie. “Ek skryf my eie toesprake en het al ontsettend baie geleer,” erken sy beskeie.
Natuurlik wil sy graag Mej. Heelal word – sy pak immers alles in haar lewe aan met sukses as oogmerk. “Maar dit sal ook nie die einde van die wêreld wees as ek nie wen nie. Die jaar as Mej. SA het my al klaar so ’n wonderlike kans gebied om mense te ontmoet, netwerke te bou en ’n platform vir my TB-veldtog te kry. Dit gaan alles vir my oor persoonlike groei.” (Tamaryn is uiteindelik as naaswenner aangewys. Catriona Gray van die Filippyne was die wenner.)
Ons gesels oor bekendheid. Dit kan nie maklik wees om heeltyd in die openbare oog te wees nie. Hoe ervaar en hanteer sy dit? “Eintlik is ek heel oukei daarmee. Dit word deel van ’n mens se werk en wêreld, en ek moes maar net gewoond raak daaraan.” Dit was wel ’n uitdaging om aan die media se belangstelling in haar loopbaan en lewe gewoond te raak. “Ek het vroeg al ’n harde les geleer toe die media sommer in die eerste week ná my kroning my woorde verdraai het. Dit het baie seergemaak.”
Gelukkig is haar familie altyd daar vir haar. Tamaryn is die middelkind van David en Ellirine Green, albei in die onderwys. Ousus Lauren (27) is ’n fisioterapeut en kleinboet Dawson (20) studeer nog. Wanneer haar besige program dit enigsins toelaat, bring sy graag tyd saam met haar familie en vriende deur. “En om in die natuur te wees maak my rustig. Ek hou daarvan om in mooi tuine of langs die strand te gaan stap.”
Geloof is haar ander anker in die warrelwindwêreld waarin sy haar as die mooiste vrou in die land bevind. “Ek dink my verhouding met God het ná my tuberkulose verdiep. Dit was vir my die moeilikste tyd in my lewe, maar ek het geleer dat God my deur alles sal dra. Dit gee my krag vir my pad.”
Verbreek die stigma rondom TB
Tamaryn was besig met die sesde en finale jaar van haar mediese studie toe sy as Suid-Afrika se mooiste aangewys is.
Die Universiteit van Kaapstad het haar toestemming gegee om haar studie tydelik te onderbreek, maar sy is vasbeslote om haar graad te voltooi en die gemeenskap as mediese dokter te dien. “My vriende het onlangs gehoor by watter hospitale hulle volgende jaar hul praktiese jaar moet gaan doen. Ek het so ’n bietjie melancholies gevoel toe ek dit hoor. Maar ek weet God het ’n ander plan en tyd vir my in gedagte. Ek glo alles in ’n mens se lewe gebeur om ’n rede.”
Dis juis hierdie ingesteldheid wat daartoe gelei het dat sy besluit het om haar bekendheid in te span vir bewusmaking oor tuberkulose. Dié siekte is in 2015 in haar derde studiejaar by haar gediagnoseer. (Mediese personeel – en veral dié wat in oorvol staatshospitale en klinieke werk – is besonder blootgestel aan TB-kieme .)
“Ek was eers te bang om vir my familie en vriende daarvan te vertel, juis vanweë die stigma. Ek het dadelik met behandeling begin, maar het so siek geword dat ek moes terugtrek huis toe – ek kon eenvoudig nie deur lesings sit nie. Toe moes ek daaroor praat. Gelukkig was almal baie ondersteunend.”
Boonop het sy hepatitis opgedoen weens die behandeling (tuberkulose-medikasie het kwaai newe-effekte, wat daartoe kan lei dat mense nie hul behandeling voltooi nie). “Ek is vandag gesond, maar die ervaring het my laat besef waardeur pasiënte tydens behandeling gaan. En hoe kom ’n mens daardeur as jy nie kos het om te eet nie, of as jou werkgewer en familie en vriende jou nie ondersteun nie? Of as jy te bang is om vir mense te sê daarvan omdat jy bang is om verwerp te word?
“Ek is ’n sterk, onafhanklike vrou, maar toe ek so siek was, was ek weerloos en op ander aangewese. Ek moes leer dat dit nie nodig is om alles alleen te hanteer nie,” vertel sy oor daardie traumatiese paar maande. Deur haar #breakthestigma-bewusmakingsveldtog – wat ook deur die Departement van Gesondheid en die Wêreldgesondheidsorganisasie ondersteun word – hoop sy om duisende mense se lewe te verbeter en uiteindelik te help om TB uit te roei.
“Enige mens kan TB kry. Dis nie ’n skande nie. Dit het my drie jaar geneem om in die openbaar oor my diagnose te praat, en ek besef nou ek kon my baie trauma gespaar het deur dit vroeër te doen. Daarom wil ek mense aanmoedig om hul stories te vertel. Die enigste manier waarop ons TB kan klop, is om daaroor te praat en mense aan te moedig en te help om die behandeling te voltooi.”
Sy is steeds verstom oor die positiewe reaksie op haar veldtog. “Natuurlik was ek bang mense sou my daarna anders behandel, maar toe begin hulle hul eie verhale deel en raad vra.”
Dit was vir haar ’n hoogtepunt dat die Verenigde Nasies haar genooi het om oor haar ervaring te praat.
“Tuberkulose het nog nooit voorheen amptelike erkenning van die VN gekry nie, en ek is danksy die Stop TB Partnership genooi om by die heel eerste VN-vergadering daaroor te praat. Ek veronderstel dit het gehelp dat ’n bekende bereid was om oor TB te praat.”