Drie weke gelede. Amper vier. Dink ek terwyl ek die groeiende hopies op my lessenaar voor die naweek regskuif. Ek lees dit op Facebook, iewers in die middel van die nag. “It’s with incredible shock and sadness that I’m letting our friends and family know that my amazing brother, Dave Goldberg, beloved husband of Sheryl Sandberg, father of two wonderful children, and son of Paula Goldberg, passed away suddenly last night." Die skrywer, Robert Goldberg, is ’n vreemdeling. Sy broer, Dave, ook.
Dis Sheryl oor wie ek wakker lê. Sy’s ’n suster, ’n virtuele een. Op my lysie van mense by wie ek nog eendag wil gaan kuier. Soos Oprah, Margaret Thatcher en ons eie Precious Makgosi Moloi.
Sheryl bly in my kop. Op 45 amper so oud soos ek. Twee kinders, so oud soos myne. Sy’t ’n MBA van Harvard, het die binnekant van die Google-masjien gesien, is sedert 2008 Facebook se hoofbedryfsbeampte en het miljarde in die bank.
Dít beïndruk my nie. Ek leer ken haar tussen die blaaie van Lean In: Women, Work, and the Will to Lead, een van die afgelope dekade se suksesvolste sakeboeke. Hier skryf sy (onder meer):
"Careers are a jungle gym, not a ladder.”
“I want every little girl who’s told she’s bossy to be told instead she has leadership skills.”
En:
"When it comes time to settle down, find someone who wants an equal partner. Someone who thinks women should be smart, opinionated, and ambitious. Someone who values fairness and expects or, even better, wants to do his share in the home. These men exist and, trust me, over time, nothing is sexier."
Eerlik, op die vrou af. Sien, ek sê mos sy’s ’n suster. Een wat weet dat die wêreld vir vroue steeds anders draai as vir mans.
Nou’s háár man dood. Op sy begrafnis staan sy braaf op en praat oor haar rots.
“When I got upset, he stayed calm. When I was worried, he said it would be ok. When I wasn’t sure what to do, he figured it out. He was completely dedicated to his children in every way . . .”
Ek lees hoe sy ’n week na Dave se dood by haar kinders se sokkerwedstryd opdaag. Langs die veld sit die ma van ’n vriendin, ’n leë stoel langs haar staangemaak. “Vir jou,” knik die vrou. Sien, ook sy was op ’n jong ouderdom manloos.
“Welkom by ’n nuwe klub,” skryf ’n blogger later.
My hart krimp. Vir Sheryl. Vir vroue soos sy.
Wat my laat dink aan vroue soos ek, en jy. Vroue met soveel meer as sy.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za