Swart op wit: Is jy nog hier? deur Valiant Swart. Foto: Johan Wilke. Produksie: Cornel Dunn
Is jy nog hier?
Teen die tyd dat jy hierdie rubriek lees, sal dit reeds meer as twee maande wees sedert die onderstaande stuk geskryf is. Dit is hoe tydskrifte werk.
Reg aan die begin van daardie twee maande – nou, vanaand, terwyl ek hier sit en skryf by die lig van my lamp, die krag wonderbaarlik aan – is dit aan die vooraand van “Lockdown”.
Die dag toe ons almal in ons huise moes begin bly, vir drie weke lank.
Hoe het dit uitgewerk? Het ons dit gemaak? Is ons steeds ingekluister?
Laas toe ek hier my naam gat gemaak het met ‘n vooruitskouing aan Hillary Clinton se seker sege in die Amerikaanse presidentsverkiesing, het ek besluit om nie weer enige aannames te maak nie. Die tema vir daardie uitgawe was “sterk vroue”.
Normaalweg neig die tema vir Meimaand na “wintermodes en –skoonheidswenke”.
Meimaand, hier waar ek bly, is wanneer daar vir ‘n week of wat so ‘n “tweede somer” gebeur, wanneer die strand sommer skielik weer vol mense is, en almal swem en vrolike sambrele wapper vir oulaas in die bries. Dis vir my ‘n gunsteling-klein fase in die jaargety. ‘n Laaste kopknik en ‘n wuif aan die lekkerste seisoen.
Die Maartmaand waarin ek nou sit, egter, se herfsstorie is ‘n onsekere, onheilspellende vooruitsig.
Hopelik lag jy nou hartlik, die ongerief en die verveling van “bly in jou huis” reeds ‘n grap onder jou en jou vriende, terwyl julle op die patio kuier, jy in jou mooi nuwe herfstrui, die nare ou virus verslaan en vergete.
Of miskien was daar onvoorspelbare wendings en nog ingrypende maatreëls, en die nare ou virus het regtig nasty geraak en die ganse wêreld is in konsternasie, en ons sit toegesluit in ons wonings, en al die apokaliptiese Hollywood-flieks lyk meteens soos profesieë wat waar geword het.
Is dit waar ons is?
Ek hoop van harte nie so nie – maar van waar ek nou sit, is daar geen waarborge nie – net onsekerheid.
Onsekerheid. Dis die ding wat ‘n mens vang. Die knaende vermoede dat al jou aannames moontlik op ‘n dwaling geskoei is, en dat die uitkoms wat aan jou voorgehou is, dalk ‘n blote hersenskim was.
Want hier waar ek nou sit, is hierdie skrikwekkende virus, volgens sommige bronne, nog maar in die eerste fase van ‘n meer omvattende aanslag.
Soos jy hier lees, is daardie verdoemenisse dalk en hopelik reeds gefnuik en geblus.
Laas toe ek hier my naam gat gemaak het met ‘n vooruitskouing aan Hillary Clinton se seker sege in die Amerikaanse presidentsverkiesing, het ek besluit om nie weer enige aannames te maak nie.
Of dalk is die nare gogga nou in “fase drie” of iets dergeliks, en paramedici en hospitale kan nie byhou nie, en mense met infeksies beset die strate, en ons bejaarde ouers en ongestelde armes word almal slagoffers van die nagmerrie, en die neerdaal van ‘n wrede apokalips raak ‘n dreigende werklikheid.
Ek weet nie wat om te dink of te verwag nie, hier aan die vooraand van die intree van die landwye tuisbly-bevel.
Dis die onsekerheid wat ‘n mens vang.
Ek raak kriewelrig wanneer my persoonlike ruimte en my bewegingsvryheid in die gedrang kom. Die beperkinge wat so ‘n toedrag van sake meebring, besorg jou maklik ‘n gevoel van limbo – ‘n tussen-toestand wat jou disoriënteer en vervreem van die wêreld soos jy dit gewoond is.
Die magteloosheid wat gepaardgaan met so ‘n staat is geweldig frustrerend. Afgesien van jou roetine wat aan bande gelê word, is daar die proses van gewoond raak aan die nuwe omstandighede en die uitdagings wat dit meebring.
En synde creatures of habit, is ‘n skuif in roetines of gewoontes ‘n geweldige ontwrigting vir die moderne, mobiele mens.
Ons wil ons ding doen, kom wat wil. ‘n Beduidende persentasie van ons, ek inkluis, is boonop toegerus met ‘n stroomop streep; ons slaan nie graag ag op advies nie, en volg maar meestal ons instinkte en impulse.
Feitlik my ganse volwasse lewe lank al, is ek my eie baas.
Wel, soort van.
As jy, soos ek, ‘n gesin het, sorg jy vir die welstand en oorlewing van meer liggame en siele as net jou eie. As deel van die stoffasie waarvan ons aanmekaargesit is, is ons darem ook toegerus met ‘n sin vir verantwoordelikheid – nie net teenoor die geliefdes in jou onmiddellike omgewing nie, maar ook teenoor die samelewing in die breë.
Soos ek nou hier op ‘n laataand in Maartmaand by my tafel sit en voor my uitstaar, kan ek nie help om te bly wonder hoe die wêreld gaan lyk waarin ek en jy ons oor twee maande gaan bevind nie – wanneer jy (hopelik) hierdie skrywe lees. En of die gevaar dan reeds sou gewyk het, en ons almal oukei en verlig sal wees, en opnuut sal moet begin sin maak uit ‘n katastrofe wat ons ganse planeet onherroeplik verander het.
Maar dis alles tans gehul in onsekerheid en bespiegeling.
Hopelik sou ons verantwoordelik genoeg gewees het om die ondenkbare die hoof te bied, en hopelik is jy nog hier.
En hopelik is bostaande vooruitskouing aan verdoemenis iets waaroor ek my naam gat gemaak het.
Loer hier vir nog pitkos as jy van Swart op wit gehou het