Weens ’n onderonsie op die soms asosiale media waarby ek onwillig betrek is vanweë my rol as administrateur van ’n blad, dink ek die laaste paar dae weer oor die skaamkwaad-verskynsel.
Sonder om te veel derms te ryg oor wat presies die persoon se aanhoudende aanklagte was, kom dit daarop neer dat ’n tikfout wat gemaak is, die persoon telkens op ’n ander instansie se blad laat beland as die beoogde blad.
Dan verklaar die persoon onomwonde op dié openbare forum dat dit dié blad se skuld is.
’n Week lank is talle diplomatiese verduidelikings en raad oor hoe om die probleem op te los (m.a.w. spel net rég!) afgemaak as geen oplossing nie.
Nou ja, mens kan nie ’n perd water toe lei, die dier laat drink én boonop ’n woordeboek en sosiale mediagids voer om te eet nie, maar dit is tog frustrerend as iemand aanhou krap waar dit nie jeuk nie.
Om ’n fout te erken is dikwels een van die moeilikste dinge wat jy kan doen – en behoort te doen.
Die lewe is soveel eenvoudiger as mens vrede maak met jou eie feilbaarheid.
Ek moes nou die dag toe my tienjarige koponderstebo is oor ’n spelfout in ’n klastoets, eers weer aan hom verduidelik dat dit geheel en al toelaatbaar is om foute te maak. Ons is almal nét mense.
Ek het hom skryfstukke laat lees wat ek as taalpraktisyn met growwe foute tot my eie verleentheid laat publiseer het. Mens is soms haastig, mens is soms onkundig, mens is mens. Almal maak foute.
Ons kon darem later lekker lag oor die ironie van sy foutjie met “nalaatig” – nalatige spelfoute sluip immers soms deur voor ’n mens kan sê “A!”.
Die lewe is soveel eenvoudiger as mens vrede maak met jou eie feilbaarheid.
Die verskil is egter dat ’n spelfout in ’n klastoets nie eintlik iemand anders as jouself raak nie.
Waar dit egter kom by foute wat jy aanhoudend maak en deurgans ander voor blameer, raak dit meer ingewikkeld. Die een of ander tyd moet jy besluit of jy skaamkwaad gaan aanhou skuldiges soek – en of jy die groter prentjie gaan insien, terugstaan en sê: “Jammer, my fout.”
Uit my amper vier dekades ervaring wéét ek dit kan ’n baie bitter pil wees om te sluk, maar, soos dit nou eenmaal met pille gaan, het dit die potensiaal om ’n olike situasie weer gesond te maak.
Dit stel dan sommer ook die speelveld gelyk vir ander om in die toekoms weer met vrymoedigheid húlle foute te erken – en só kan almal aanbeweeg sonder om op foute en vieswees te talm.
Mense maak foute. Ek maak foute. Ek hoop ek sal altyd kan erken as ek ’n fout maak en dit dan kan probeer regstel.
Die lewe is té ingewikkeld en kort om nog ’n swaar skaamkwaad-masker op te hou.