Katryn was ’n tiener toe sy in ’n winkelsentrum deur onder meer ’n akteur “ontdek” is. Na daardie dag het haar lewe handomkeer verander en is sy vandag ’n bekende internasionale model wat al vir groot name soos Prada, Givenchy en Vogue Paris werk gedoen het. Sy het ook al op rooi rose se voorblad (Mei 2015) verskyn.
Katryn het pas haar eie blog begin en eksklusief met ons daaroor gesels!
Jy is op die jong ouderdom van 15 ontdek. Hoe het jy dié uitdaging ervaar?
Dit was alles vreeslik oorweldigend. Aan die een kant was ek opgewonde oor die nuwe avontuur, maar ek was ook vreeslik onseker omdat ek op daardie stadium niks van die industrie geweet het nie. Ons Afrikaners leef mos ’n baie “sheltered” lewe: ons gaan skool, speel netbal, kuier met vriende en kamp saam met familie. Dit was so buite my gemaksone en verwysingsraamwerk! So, ek het nie eintlik verstaan wat aangaan nie. Aan die begin was ek gefokus op die amper onmoontlike taak om my lewe tussen skoolwerk en modelwerk te balanseer. Ek het ook nie besef hoe vinnig ek vorder in my loopbaan nie. Eintlik was dit ’n goeie ding dat ek nie altyd 100% geweet het wat aangaan nie.
Ek wil graag weet, wie het jou ontdek? Daardie persoon het baie duidelik ’n oog vir talent gehad!
Haha, dankie! Ek is deur die akteur en model, Robert Bester, ontdek. Ek en my gesin was in Canal Walk toe hy my raaksien en my ouers vra of ek modelwerk doen. Ons was uit die veld geslaan, want dit was nie iets wat ek of hulle ooit oorweeg het nie. Hy het ons oortuig om Y Models (waar hy was) te gaan sien. Ons het dit gedoen en ek het ’n kontrak met hulle geteken. Ek het nie veel daarvan gedink nie en net nou en dan ’n casting gaan bywoon as dit nie met my skoolwerk ingemeng het nie. Een van die castings was vir IMG (die grootste modelagentskap in die wêreld). Hulle het kom scout vir nuwe modelle en van my gehou, soveel so dat ek gevra is om na hul kantore in Parys te gaan. So is ek en albei my ouers in die Junie-skoolvakansie oorsee (ek was toe skaars 16 jaar oud).
Jy is oorspronklik van Kaapstad, maar het jou lewe daar verruil vir ’n glanslewe in die buiteland. Hoe het jy aangepas by ’n lewe van reis, uit ’n tas uit leef en vir lang tye van die huis af wees?
Dit was vir my vreeslik erg! En, na 5 jaar, is dit steeds nie vir my lekker nie. Dis ook nie altyd ’n glanslewe om so uit ’n tas te leef en alleen in ’n hotelkamer te wees nie. Maar dis deel van my werk en elke beroep het mos maar sy voor- en nadele. Aan die begin was dit veral moeilik omdat ek vreeslik huisvas is. Skielik was ek sonder roetine, my ouers en boonop in ’n onbekende omgewing. Die drome wat ek gehad het, soos om eendag universiteit toe te gaan, het skielik vêr gevoel. Dit was ook ekstra moeilik om so weg van die huis te wees omdat ek en my man (Cilliers) toe al saam was.
Jy skryf in jou blog dat jy later besluit het om skool te los om voltyds modelwerk te doen. Hoe het jou familie en vriende hieroor gevoel?
Dit was ’n reuse besluit wat my lewe vir altyd verander het. Ek was mal oor skool – om tyd saam met vriende te spandeer, netbal te speel en sommer net kind te wees. En skielik was ek daarsonder! Ek het nie net skool verlaat nie, maar ook die lewenspaadjie wat ek gedink het ek gaan stap. Ek sou nie saam met my vriende matrikuleer, ’n matriekafskeid hê of selfs universiteit en die koshuislewe ervaar nie.
Die grootheid van my besluit het my eers later getref, toe ek stadig maar seker al my skoolvriende verloor het omdat ons wêrelde te veel verskil het. Vir my ouers was dit ook ’n groot besluit – hulle is verantwoordelik vir my en mens het geen waarborg oor besluite nie. Maar hulle het my ondersteun en bly hoop en bid dat dinge mooi sal uitwerk. Ek word gereeld gevra of ek spyt is oor my besluit, en ja met tye was ek, maar waar ek tans is in my lewe is ek nie spyt nie.
Vertel ons meer van jou man en jul troudag. Jy is op 20 getroud?
Ek en Cilliers (hy is 6 jaar ouer as ek) het pas begin uitgaan toe ek voltyds begin werk het, so hy is al van die begin af saam met my. Ek sou dit verseker nie kon doen sonder sy ondersteuning nie! Hy is my beste vriend – ek kon nie vir ’n beter man vra nie.
Om op ’n baie jong ouderdom te trou, was ’n groot besluit (dit lyk asof my lewe uit ’n hoop buite-die-norm-besluite bestaan!), maar dit was die beste besluit. Ons was 4 jaar saam toe ons getroud is. Ons het lank daaroor gepraat en gebid, met ons ouers gesels en besef dat dit die regte besluit is. Ons wou nie saam woon tensy ons getroud is nie.
Ek dink daar was baie mense wat gereken het ek is te jonk om te trou, maar onthou, ek moes vreeslik vinnig groot word omdat ek op 16 voltyds begin werk en alleen om die wêreld gereis het. En wat maak dit nou saak wat ander mense dink? Dit was besonders om ons naaste vriende en familie by ons troue te hê en om te sien hoe almal ons ondersteun en met totale liefde en seën omvou het. Om jou lewensmaat op ’n jong ouderdom te ontmoet, is voorwaar ’n voorreg.
Jy het toe wel in 2013 huis toe gekom om matriek te voltooi. Was dit vir jou moeilik om weer dissipline te moet hê of dink jy juis dat dit makliker was omdat jy ouer en meer volwasse was?
Dit was moeilik omdat ek deur korrespondensie gestudeer het, so die roetine en hulp van die gewone skoollewe was nie daar nie. Maar in ’n mate was dit makliker, omdat ek geweet het ek wil dit baie graag voltooi en het dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie.
In ’n artikel wat vroeër in rooi rose verskyn het, het jy met Ilse Salzwedel gedeel dat jy graag universiteit toe sou wil gaan om ’n graad in bemarking en sakebestuur te doen. Het jy toe jou graad gekry?
Ek het nog nie verder gaan studeer nie. Dit is steeds ’n droom van my en wanneer ek dit wel eendag doen, sal dit wees net omdat ek dit vir myself wil doen en nie omdat dit van my verwag word nie. Dis nog net nie die regte tyd nie, en ek weet dit sal nog eendag wees. Tans werk ek nog voltyds en werk ek ook daagliks aan my blog. Ek doen wel verskeie kort kursusse deur UCT se aanlynprogram, GetSmarter. Dis lekker, want so kan ek my horisonne verbreed en studeer waarvan ek hou (of uitvind of ek van iets hou of nie). Die kursusse is gewoonlik so 12 weke lank. Dis alles aanlyn, wat ideaal is vir my wat rondreis.
Hoe voel dit om jouself so dikwels in advertensie-veldtogte te sien?
Dis steeds vir my vreemd! Ek kan lekker lag, want gelukkig herken mense my nie sommer nie. Cilliers raak kinderlik opgewonde en wys gewoonlik na my werk (soos in Woolworths). Dan raak ek lekker skaam en loop vinnig weg. Ander kere kyk ek natuurlik met hope kritiek na my werk en dink dat ek dit beter kon doen, of dat ek soms simpel lyk. Maar op die ou end maak dit nie regtig saak nie – solank die kliënt gelukkig is, is ek gelukkig.
As jy moes teruggaan, sou jy iets verander het of anders gedoen het?
Ek is gelukkig met al die keuses wat gemaak het, van skool verlaat tot vroeg trou. Maar dit was met tye regtig moeiliker as wat mens besef. Ek het soms aande om gehuil en was bang vir wat die toekoms inhou want niks was verseker nie. Maar dis die paadjie wat ek moes stap om te wees waar ek nou is. Ek het baie gegroei en groeipyne is nooit lekker nie. Nou is ek gelukkig met die persoon wie ek is. Ek dink nie mens gaan ooit weet of jy “regte” of “verkeerde” besluite in jou lewe neem nie. Ek dink wel die “regte” ding om te doen is om die beste te maak van die omstandighede en voluit te leef.
Wat doen jy in jou vrye tyd?
Ek is ’n totale boekwurm en ek lees maklik ’n boek ’n week! My gunstelingplek is ’n boekwinkel. Ek is ook ’n movie-fanatic en kyk sommer enige iets, van ou classics tot nuwe flieks. Ek lees ook graag op oor die boeke en films waarvan ek hou. Ek geniet dit om op Goodreads te gaan en boekresensies te skryf of om op die internet op te lees oor die boek. Ek kyk nie graag sport nie maar ek is mal oor verhoogproduksies en gaan nou en dan na simfoniekonserte toe saam met my ma. Ek doen ook graag joga, soveel as wat ek kan.
Lewe jy volgens ’n lewensmotto?
Daar is verskeie stukkies wysheid wat ek deur die jare by verskillende mense versamel het. Cilliers se raad aan my, wanneer dinge of planne skeilik verander, is: “Kom ons regroup.” Die “ons” in die sin help my die meeste, want ek weet ek is nie alleen nie.
My joga-instrukteur se raad is: “Haal net diep asem.” Dit werk wonders om net rustig te raak en diep asem te haal.
My pa se wyse woorde is: “Always be true to yourself.” Dis die motto wat ek daagliks toepas, in alles wat ek doen.
Lees meer oor wat Katryn aanvang, wat sy beleef en waar sy tans is op haar baie nuwe blog: katrynkruger.com/