In Wonderland Heuwels heers daar vanoggend weer ’n gedempte atmosfeer. Superman loop al ’n halwe week soos ’n beer met ’n seer tand op en af deur die buurt en gluur almal wat durf waag om te groet, met sy staalblou kykers aan.
Hy loop met geboë skouers, koponderstebo, hande agter die rug. Op en af. Op, en weer af.
Wat niemand weet nie, is dat Superman sedert die naweek met ’n kriptonietklip in sy bors rondloop. Die rede? Superseun het die naweek gebieg dat hy eendag eintlik regtig nie soos sy pa wil rondvlieg en nou en dan ’n bad guy opdons nie.
Hy wat Superseun is, wil regtig ook nie by Wonderland Universiteit gaan studeer om die fyner kunsies van superheld-wees aan te leer nie.
O nee. Superseun wil eerder ’n musikant word. Superman ril sommer.
Wat sal Spiderman en Batman sê as hulle dít moet uitvind? Hulle sal hulle mos doodlag! Hulle was nog altyd effens afgunstig op hom wat Superman is en hierdie sal mos net olie op hulle spotvuur wees!
Nee, hy weet nie waar die kind se kop is nie. Hy het soveel ideale vir Superseun gekoester om eendag by hom oor te neem. Superman is mos ’n naam om instand te hou! Wat word van tradisie? Hy sal met Supervrou moet praat – dalk kan sy sin in die kind se kop praat.
Die toneel wat hom in Wonderland Heuwels afspeel, speel daagliks in enige woonbuurt van ons land en wêreld af.
Al meer en meer ouers wil die ideale wat hulle vir hulle kinders koester, op die kinders afdwing.
’n Ma van drie pragtige, talentvolle kinders het onlangs haar lot bekla omdat haar middelkind, ’n akademiese uitblinker, glad nie belangstel in sport soos haar sportiewe sibbe nie. “Ek kan nie verstaan dat sy eerder met haar neus in ’n boek sit as om ook te probeer span haal nie. Sport maak soveel deure oop vir die kinders.”
Ek het nie mooi geweet hoe om haar te antwoord nie, want hoewel ek ook graag deelgeneem het aan sport en ander buitemuurse bedrywighede, was dit wel die akademie wat deure opgemaak het vir my.
En, as mens die geopende deure ’n oomblik miskyk – wat maak die kind gelukkig en pas in by sy of haar geaardheid? Is dit nie die heel belangrikste om te konsentreer op dit wat die kind gelukkig maak, en waarin hy of sy as individu uitblink nie? Hoekom so klem daarop lê dat ’n kind in álles moet uitblink?
’n Oud-laerskoolonderwyser, ma en tans dosent gee haar mening oor dié verskynsel: “Ouers doen dit om hulleself beter te laat vertoon of dan self beter te voel. Amper iets soos: ‘Kyk hoe ’n goeie ma is ek…!’”
Superman, of dan nou Superma, raak só vasgevang in die ideale, dat sy bang is Spiderman en Batman se vroue lag vir haar as haar kind nié in die tradisionele spoor volg en uitblink nie.
’n Kindersielkundige, dr. Elzette du Plessis, noem dit “prestasie-angs” en beskryf dit as “die druk wat ons prestasiegedrewe opvoedingsomgewing op kinders plaas”. Sy verduidelik: “Dit verwys nie net na die druk om al beter te presteer nie, maar ook na die wanfunksionele sosiale dinamiek wat daarmee saamgaan.”
Sy beskryf dit as ’n “enorme sweer in ons skoolstelsel”.
“Baie van ons skole – en ek verwys spesifiek na laerskole – is deesdae so über-mededingend dat dit nie net kinders van hul sorgvrye kinderjare beroof nie, maar baie kinders daarvan weerhou om belangrike lewensvaardighede aan te leer. Ons vergeet dat die belangrikste doelwitte van die laerskooljare is om te leer lees, skryf, wiskunde te doen, sport te geniet, toesprake te hou, gedigte op te sê en miskien ’n musiek-instrument te leer speel.
“In ons hipermededingende samelewing is dit egter nie wat gebeur nie. Want pleks daarvan dat skole die verantwoordelikheid neem om al die kinders – die goeies én die slegtes, die slimmes én die nie-so-slimmes – in hierdie vaardighede te onderrig, is ons skole niks anders as ’n beoordelingspaneel nie. Dit is ’n plek waar kinders van die beste na die slegste gerangskik of in die eerste en tweede span verdeel word,” sê dr. Du Plessis.
“In ons laerskoolomgewing behoort daar baie meer klem gelê te word op die proses van deelname. Dis veel belangriker dat dit genotvol is en dat dit bydra tot die ontwikkeling van goeie interpersoonlike verhoudinge as dat daar ’n wenner of ’n verloorder is. In plaas hiervan word daar dikwels verkeerdelik veronderstel dat ’n mededingende geneigdheid dui op ’n sterk karakter, terwyl daar misgekyk word dat mense wat goed voel oor hulself, hulle nie gedurig met ander hoef te vergelyk nie,” sê sy verder.
Volgens dr. Du Plessis behoort die belangrikste doelwit van skoolsport te wees om kinders lief te maak vir sport en om hulle dié vaardighede aan te leer en te help ontwikkel. Maar, dikwels moet wen en prestasie ’n hupstoot aan die skool en afrigter se status verleen en só verloor talle jong deelnemertjies hulle lus en liefde vir sportbeoefening omdat dit net gaan oor wen.
Sy is van mening dat ouers ewe maklik statusbehep kan raak danksy hulle kind se prestasies.
Om hierdie status en “goed-voel” as ouers te behou, word kinders al meer en meer gedruk om te presteer.
As ma van jong laerskoolkinders sien ek raak dat van my kinders se maats se ouers hulle prestasies van destyds toe hulle op skool was, as maatstaf voorhou vir hulle kinders om ook te presteer.
Erger nog, sommige ouers wat op skool nié uitgeblink het nie, probeer hulle verlore ideale en drome deur hulle kinders uitleef. Sussie moet dus uitblink in atletiek sodat sy nie soos haar mamma destyds net op die paviljoen hoef te sit en sing nie. Ander ouers stuur hulle kinders met goeie bedoelings skool toe, maar word ingetrek in die maalkolk van mededinging.
Dr. Du Plessis noem dit “onwillekeurige kompetisie” en verduidelik: “Hierdie onwillekeurige kompetisies maak ’n belangrike deel van die sosiale dinamiek van ’n skoolgemeenskap uit. Dit beïnvloed die ouers bewustelik of onbewustelik in so ’n mate dat hulle nie meer ’n gesonde oordeel het oor dit wat die beste vir hulle kinders is nie. Dit veroorsaak druk deur ouers, ongesonde insette deur ouers ten opsigte van leerwerk of take, oorreaksie ten opsigte van sportdeelname, konflik, spanning en in uiterste – maar allermins seldsame – gevalle, selfs oneerlikheid.” (Rapport, 29 Oktober 2001).
So, wat staan ons as ouers te doen om te keer dat ons kinders in die meëdoenlose stroom van prestasie-ten-alle-koste meegesleur word en só hulle greep op wat belangrik is in die lewe, en boonop hulle entoesiasme om nuwe dinge te ontdek en hulle vaardighede te ontwikkel, verloor?
Ouers wat ’n standpunt inneem en ’n stelsel kritiseer wat kinders van kleins af etiketteer as “belangrik” omdat hulle presteer en “onbelangrik” omdat hulle nie heeltemal uitblink nie, word dikwels gesien as afgunstig op ander wie se kinders wel as “wenners” gemerk word.
Maar, daar is wel onderwysers wat saamstaan met hierdie ouers en besef dat die ongesonde praktyk van wen-ten-alle-koste, op die lang duur die kind se menswees en die lesse wat hy uit deelname aan sport, kultuur en akademie behoort te leer, laat verlore raak.
In sommige skole word daar reeds in ’n gees van vriendskaplike kompetisie, aan almal ’n kans gegee om deel te neem. Elke outjie kry ’n beurt, ongeag of hy “goed” of “minder goed” is – hetsy dit in ’n sportspan of as klaskaptein. Die ouers wie se kinders deel het aan sulke gesonder maniere van vaardigheidsontwikkeling, sien die verskil wat dit aan hulle kinders se selfvertroue en menswees maak.
Kom ons vergeet ’n oomblik van wat die kompeterende gemeenskap van ons kinders verwag, en ons sien hulle unieke menswees raak. Kom ons fokus op dít wat hulle goed doen en graag wil doen. Sonder onnodige druk, sonder vergelykings, sonder ons ewige behoefte aan erkenning danksy prestasie.
Dit mag dalk net wees dat die Boekwurm of C-spanspelertjie in ’n gebalanseerde jong volwassene ontwikkel wat gehou het van sport omdat die gevoel van samehorigheid en spanbou vir sy menswees en sosiale vaardighede iets beteken het.
Eerder as dat hy as onvergenoegde volwassene eendag die stowwerige trofees wat hy ten alle koste moes versamel, bekyk en wonder waaroor dit alles nou eintlik gegaan het.