Die kykNET-sepie Suidooster se sterre skitter weer helder by vanjaar se Suidoosterfees by die Kunstekaap.
Dit is die derde jaar wat hierdie gewilde Suidooster Stormsterk-konsert aangebied word en volgens die sepie se publisiteitsbestuurder, Wilmer Müller, het dit nog elke jaar soos soetkoek uitverkoop.
“Verlede jaar was die konsert reeds ’n paar dae voor die vertoning uitverkoop en ten spyte daarvan het talle desperate Suidooster-aanhangers steeds op die dag van die vertoning by die Kunstekaap opgedaag met die hoop om dalk kaartjies te kry,” sê hy.
Die hoofgroep akteurs wat optree, is Natasha van der Merwe, Jawaahier Petersen, Irvine van der Merwe, Jill Levenberg, Eden Classens, Craig Adriaanse, Richard September, Simone Biscombe en Dean Smith.
Die res van die sepie se rolverdeling maak ook verrassende verskynings en daar word ouder gewoonte ’n storielynkinkel of twee wat nog op televisie moet uitspeel, tydens die konsert onthul.
Lees ook: Die Brug is terug! Wat wag in die tweede seisoen?

Foto: Jaco Marais
“Vanjaar se konsert is ook die afskop van Suidooster se tiende verjaarsdagvieringe en dit beloof om die gehoor weer eens op hul voete hê met talle liedjietreffers,” sê Müller.
“Sepiekarakters soos Mymoena, Kaashifa, Wade, Bennie, Gary, Juicy Justin, Suzy, Bianca en die sluwe Nazeem gaan nie net vir vermaak uit die boonste rakke sorg nie, maar hulle gaan ook die gehoor om die beurt ’n traan laat pik en skaterlag,” sê hy.
“Ons sien veral ook uit om Alistair Izobell op die verhoog te verwelkom om die Suidooster-temalied te sing.”
Volgens Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die fees, stap Suidooster al ’n lang pad met die Suidoosterfees.
“Ons het vir die eerste keer in 2020 tydens die Covid 19-pandemie met die sepie hande gevat toe ons saam ’n inryteater by Atlantic Studios, die tuiste van Suidooster, in Montague Gardens aangebied het.
“Sedertdien het ons saam talle suksesvolle projekte aangebied. Verder is Suidooster ook ’n vennoot in die Suidoosterfees se jaarlikse Talentsoektogkompetisie.”
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Sean Aucamp-van Noordwyk oor sy draai in Suidooster
Die musiekregie van die konsert, wat op Saterdag 3 Mei om 17:00 plaasvind, word deur Melissa van der Spuy hanteer. Dit word ook in samwerking met The Stage Performing Arts Studio van Durbanville gedoen, wat onder meer help met die choreografie en verhoogbestuur, terwyl kykNET, Tafelberg Meubels en Biggi Popcorn die borge is.
Suidoosterfees vind van 30 April tot 4 Mei by Kunstekaap plaas. Vir die volledige feesprogram, besoek www.suidoosterfees.com. Kaartjies kan bespreek word by Webtickets, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695.
Lees ook: Groot feesmakietie in die volstruisdorp