Die afgelope paar weke moes Suidooster-aanhangers toekyk hoe hul geliefde Kaashifa-karakter ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Ná die geboorte van haar seuntjie, Dullah, was dit gou duidelik dat sy sukkel met haar nuwe rol as ma en het haar gedrag by die dag vreemder begin raak.
“Dit is in wese die ervaring van ’n nuwe ma. Alhoewel dit nie almal se ervaring is nie, gebeur dit wel. En hier is ’n vrou wat al deur soveel moeilike dinge is wat haar baie kwesbaar laat. Kaashifa kan byvoorbeeld nie haar baba borsvoed nie omdat sy borskanker gehad het wat tot ’n dubbele mastektomie gelei het. Sy het ook nie eie bloedfamilie nie en voer deurlopend ’n stryd met haar selfvertroue. Daarvoor probeer sy dan in oormaat vergoed,” vertel Jawaahier Petersen, wat die rol van Kaashifa vertolk.
Kaashifa se optrede, wat aan nageboortelike psigose toegeskryf word, het ontstellende gevolge gehad en is op ’n spits gedryf toe sy vir Dullah met ’n kussing in Maandag se episode probeer versmoor het.
Volgens Jawaahier, wat ook ‘n opgeleide maatskaplike werker is, wys dié storielyn die impak van ’n onbehandelde nageboortelike psigose op verhoudings, huwelike en familiebande – veral op die ma se verhouding met haar baba en diegene wat haar ondersteun.
Jawaahier het met ons oor haar opspraakwekkende storielyn gesels.
Jou karakter, Kaashifa, kry baie kritiek van kykers oor hoe sy optree. Hoekom dink jy is dit so?
As ’n kliniese maatskaplike werker maak dit my hart eintlik baie seer om die kommentaar te sien en die goed wat mense kwytraak op sosiale media oor hierdie storielyn. En veral van vrouens af…
Dit spreek duidelik van ’n ekstreme gebrek aan begrip en bewustheid en inligting oor ’n onderwerp wat vir baie jare taboe was. Ek besef nou dat mense nie baie inligting daaroor het nie en dat hulle dus nie baie deernis en begrip daarvoor openbaar nie. Maar dis baie maklik om iets te veroordeel wat jy nie verstaan nie, nie bewus van was of nie self ervaar het nie.
Van ’n kliniese professionele standpunt: Nageboortelike depressie is in 1994 vir die eerste keer as sulks in Amerika gediagnoseer. Hierdie diagnose het eers later na die res van die wêreld versprei. Suid-Afrika het deur sy eie dinge gegaan in 1994. Daarom is dit te verstane dat nageboortelike depressie eers aansienlik later hier erken is.
Daar is baie ouer vroue wat sê ‘ons het dit nie in ons jare gehad nie’ en ‘ek het nie deur dit gegaan nie’ of ‘ek het nog nooit so iemand ervaar nie’. Party noem dit selfs afgesaag of verregaande of whatever. Daar was beslis baie vrouens wat nageboortelike depressie ervaar het, maar hulle het net nooit ’n naam of diagnose daarvoor gehad nie.
Selfs vandag is daar mense wat nog skaam is om te erken dat hulle hierdeur gaan omdat hulle veroordeel word – en daar is waarskynlik selfs ’n groter stigma aan nageboortelike psigose. Niemand praat daaroor nie. Woorde soos mal en gek, stapelgek en kêns … sulke woorde word gebruik. In plaas daarvan moet ons eerder ondersteun en begrip toon. Dis juis hoekom vroue nie hieroor praat nie. Hulle is bang vir etikette met daai woorde.
Wat my ook ontstel, is die feit dat daar baie vrouens is wat sê ‘O, Kaashifa makeer ’n klap’ of ‘Kaashifa se eksman moet terugkom en vir haar bliksem’ of ‘Rhafiek moet maar net haar in die bek klap’ of soortgelyke goed. Ons geslagsgeweld-statistiek is van die hoogstes in die wêreld, dalk selfs die hoogste. En die publiek se algemene reaksie is om geweld teen ’n vrou aan te moedig as oplossing vir ’n toestand wat hulle nie verstaan nie. Dit maak my baie bekommerd!
Nog iets: Mense raak ongemaklik wanneer hulle iemand sien sukkel met geestesgesondheid. Mense is meer gemaklik met fisiese ongesteldheid as met die geestelike elemente van geestesgesondheid. Dis juis omdat mense dit nie verstaan nie of nie daaraan blootgestel word nie of net hul kop in die sand daaroor druk dat hierdie toestand so afbrekend benader word. En vroue ly in stilte.
Hoe was dit vir jou om dié storielyn aan te pak, terwyl jy as Jawaahier self swanger was?
Ek het gedink die kankerstorielyn en die emosionele mishandeling toe ek met Imraam (Marlo Minnaar) getroud was, was taai. Maar ek was nie voorbereid op hierdie een nie. Tot dusver was dit die moeilikste storielyn vir my omdat ek self ook swanger was.
Ek was heeltyd bewus daarvan terwyl ek Kaashifa se storie en Kaashifa se emosies moes uitspeel dat my liggaam nie die verskil geken het nie en dat my babatjie ook nie geweet het wat die verskil is nie.
Alhoewel ek my alles gegee het vir elke toneel, het ek versoek dat ek tyd gegun word om net met my babatjie te gesels sodat ek net geestelik en fisies ontslae kon raak van Kaashifa se emosies. Ek wou nie daarmee rondloop nie.
Die vervaardigers, regisseurs en vloerbestuurders het ook baie, baie begrip gehad. Daar is besluit as ek alles in een take kan doen, dan gaan ons net vir een take, en as dit te veel vir my raak, dan stop ons net daar. Ek het dit as baie ondersteunend ervaar, en dit het dit effe makliker gemaak om die storie te vertel.
Omdat ek as maatskaplike werker met pasiënte in psigiatriese geriewe gewerk het, het ek ervaring opgedoen met vrouens wat deur nageboortelike depressie gaan. Ek het ook gesien op Facebook sê mense ‘ja, maar as jy deur nageboortelike depressie gaan, huil jy net, jy’t nie ’n band met die kind nie of jy wil niks met die kind te doen hê nie’. Dit is maar één deeltjie of element van nageboortelike depressie. As dit nie behandel word nie, kan dit in iets veel ergers ontwikkel, soos nageboortelike psigose, wat Kaashifa nou ervaar.
Ek het op my ervaring staatgemaak, maar daar moet in gedagte gehou word dat Kaashifa se geskiedenis net op haar van toepassing is. Daar is navorsing gedoen, want ’n mens wil seker maak jy is eerlik met jou storie, want jou storie behoort aan daai mense. Dis nie my storie om te vertel nie.
Dis vir vroue wat in stilte swaarkry. Dis vir die vroue wie se mans hulle in die 50’s en 60’s gelos het omdat hulle dit nie verstaan het nie. Dis vir die vroue van die 70’s en 80’s wat alkoholiste geword het, want hulle het nie geweet hoe anders om dit te behandel nie. Dit behoort aan die vroue wat hierdeur gaan. Elke dag, in elke toneel, het ek ’n keuse gemaak om die storie so eerlik moontlik te vertel.
As ’n ma het ek met my tweede kind nageboortelike depressie ervaar. My man reis gereeld. So, ek was baie kere op my eie met twee kinders. Dit het oorweldigend geraak. Ek het gelukkig nie nageboortelike psigose ontwikkel nie. Danksy my geloof, met die ondersteuning van my ma, my sibbe en ander, het ek nie opgeëindig met die paranoia wat Kaashifa nou ervaar nie.
Wat is jou advies aan nuwe ma’s wat sukkel met nageboortelike depressie en psigose?
My eerste stukkie raad gaan nie vir die ma’s wees nie. Hulle besef nie aan die begin wat werklik aan die gang is en waardeur hulle gaan nie.
Ons moet ingelig wees en die publiek inlig en só ’n bewustheid kweek sodat diegene wat in die sfeer van die nuwe ma is, hierdie simptome kan raaksien. Hulle moet ingelig wees sodat hulle kan weet waarvoor om op die uitkyk te wees en nie ook soos Mymoena (Jill Levenberg) en Rhafiek (Irshaad Ally) al die simptome en tekens miskyk nie. Haar lewensmaat, haar familie . . . hulle moet bewus wees van wat aangaan. Hopelik skep hierdie storielyn ’n bewustheid sodat mense kan leer om die tekens raak te sien.
Dan kan jy die nuwe ma nader en sê jy vermoed sy hanteer dalk nie alles so goed as wat sy mense wil laat glo nie. Kom, laat ons hulp vir jou kry. Daar is hulp beskikbaar, en daar is ondersteuningsgroepe. Jy kan ook uitreik na South African Depression and Anxiety Group (SADAG). Ek glo die ondersteuningsgroep moet die ma help op haar pad na herstel. Sy gaan nie noodwendig aanvanklik besef wat besig is om met haar te gebeur nie.
Ek het ook ’n plasing hieroor op Facebook gemaak, en soveel vroue het daarop reageer en dankie gesê. Van hulle het erken hul mans of families het baie keer nie geweet wat besig is om te gebeur nie. Ons moet die stigma laat verdwyn en die gevoel van skaamte uitroei. Dis nou die tyd om daaroor te praat. Geen vrou moet ooit alleen ly nie.
Lees ook: Nageboorte-depressie: toets jouself
Hoe gaan dit met jou en Leyla?
Oooo, ek en Leyla. Sy is nou amper ’n maand oud en, ag, sy is te pragtig. Ek moet sê, dis nogal ’n aanpassing om weer oor te begin, want jinne, my twee kinders is al groot. Die oudste gaan al op kampe, en my dogtertjie is besig met buitemuurse aktiwiteite en dan sit ek met ’n baba op 39!
Maar sy is so ’n bondeltjie vreugde. En ja, ek bly in ’n borrel van geluk met ons prinses.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream, Catch Up en Showmax.