Dié vyf storielyne gaan kykers op hete kole laat:
- Daar is sonder twyfel ’n slang in die gras ten opsigte van Imelda (Ilse Klink) se doen en late in Ruiterbosch. Dié selfversekerde sakevrou het beslis ’n verskuilde agenda en sy sal enigiets doen om dit te beskerm. Sy het dit wel reggekry om vir JPD en selfs haar niggie, Kaashifa (Jawaahier Petersen), ’n rat voor die oë te draai, maar Riaan het snuf in die neus dat alles nie pluis is nie. Hy is vasbeslote om agter die kap van die byl te kom. Boonop smeer Imelda al te kwistig heuning om Gary (Craig Adriaanse) se mond. Is dit alles dalk deel van ’n groter prentjie?
Lees ook: Ilse Klink oor haar ‘Suidooster’-karakter: Dié sakevrou gaan dinge laat gebeur
- Angie (Char Carrie) is verpletterd na die verbrokkeling van haar en Wade (Dean Smith) se verhouding en sy sukkel om tot verhaal te kom. Boonop vryf Wade en Zoë (Lauren Joseph) nog dieper sout in haar wonde. Voordat jy kon sê “mes” is dit duidelik dat ou liefde toe nie geroes het nie, en die twee besluit om weer ’n paartjie te wees. Dit is nie net vir Angie ’n bitter pil om te sluk nie, maar ook vir Wade se familie en vriende.
- Siya (Gantane Kusch) ontmoet Brendan (Caleb Arnolds) se nuwe vriendin, Mo (Alushay Klazen), en besef dat sy nogal ’n hartseer verlede het. Tog is alles nie wat sy voorgee om te wees nie en is daar is ’n paar kinkels wat Siya onkant vang.
- Die Samsodiens, wat vanjaar al ’n hele paar terugslae gehad het – met Kaashifa se tydelike verlies van haar reuksintuig en Mymoena (Jill Levenberg) se dobbelverslawing – kry eindelik goeie nuus. Dit gaan ’n groot impak op hul almal se lewens hê.
- Die Jacobs-gesin kom voor ‘n groot toets te staan wanneer hul wêreld op sy kop gekeer word. ’n Skokkende voorval het dramatiese gevolge vir hulle, en dit dwing die aartsvyande, Bridgette (Denise Newman) en Nazeem (Irvine van der Merwe) om kragte saam te snoer.
Lees ook: Om weer in Andries se skoene te klim: De Klerk Oelofse oor sy pad met ‘Nêrens, Noord-Kaap’
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook op Catch-Up, DStv Now en Showmax beskikbaar.
Lees ook:Willie Esterhuizen gaan jou nog ‘n slag laat lag, dié keer met ‘Banana Air’