Deur Maryke Roberts. Foto’s: Maryke Roberst en verskaf/Departement Kultuur en Toerisme, Abu Dhabi
Suid-Afrika is deel van ‘n unieke uitstalling wat by die Louvre Abu Dhabi op Saadiyat-eiland geopen het. Maryke Roberts was by die opening.
- Saans word die mure van die een aansig van die indrukwekkende museum, wat aan die ander kant deur die see begrens word, met ‘n projeksie van veelkleurige geometriese patrone deur die bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar, Dr. Esther Mahlangu, verlig.
- Maryke Roberts wat by die amptelike opening van die uitstalling en deel van die museum-simposium by die Louvre Abu Dhabi.
Van die 359 kunswerke wat deel vorm van die “Kings and Queens of Africa: Forms and Figures of Power” uitstalling, is 311 van die Musée du quai Branly-Jacques Chirac in Parys se bestaande versameling afkomstig en die res van Suid-Afrika, Nigerië, die Ivoorkus en Senegal. Die uitstalling dek van die 11de tot die 21ste eeu en is aan tot 25 Mei 2025.
Maar dis Suid-Afrika wat ook op ‘n ander manier skitter daar: Saans word die mure van die een aansig van die indrukwekkende museum, wat aan die ander kant deur die see begrens word, met ‘n projeksie van veelkleurige geometriese patrone deur die bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar, Dr. Esther Mahlangu, verlig.

Die ingang na die uitstalling, “Kings and Queens of Africa: Forms and Figures of Power”, waar raar artefakte van Iziko Museums Suid-Afrika ook uitgestal word.
Die hele doel van die Afrika-kunsuitstalling is eerstens om Midde-Oosterlinge se perspektief oor Afrika en Afrika se kuns-erfenis te verander. Manuel Rabaté, Direkteur van Louvre Abu Dhabi, sê die Emirate is die perfekte plek is vir hierdie dialoog, omdat die lang geskiedenis van die VAE, nie die gedeelde geskiedenis tussen Europa en Afrika is nie.
“Ons is dus die plek waar ons met albei wêrelde kan praat. Ons bied ‘n nuwe manier om na Afrika en sy majesteuse geskiedenis te kyk.”

Manuel Rabaté, Direkteur van Louvre Abu Dhabi en Tayla Hollamby, kurator en uitstallingsbestuurder van die Norvalstigting Kunsgallery in Kaapstad.
Hy het vertel dat verskeie kurators uit Afrika deel was van die samestelling van die uitstalling om dit só divers en inklusief moontlik te maak. Hieronder is El Hadji Malick Ndiaye, mede-kurator, hoof van die museumafdeling en kurator van die Musée Théodore Monod d’Art Africain, Institut Fondamental d’Afrique in Dakar; Cindy Olohou, medekurator, hoof van versamelings by die streekversameling van kontemporêre kuns, Île-de-France, en onafhanklike kunskritikus; en Hélène Joubert, Hoof van die Afrika-versamelings by die Musée du quai Branly – Jacques Chirac.
- Emmanuel Kasarhérou, President van die Musée du quai Branly – Jacques Chirac, praat by die opening van die uitstalling.
- El Hadji Malick Ndiaye, mede-kurator, hoof van die museumafdeling en kurator van die Musée Théodore Monod d’Art Africain, Institut Fondamental d’Afrique in Dakar, Dr. Bongani Ndhlovu, uitvoerende direkteur van Iziko Museums Suid-Afrika en Valérie Sandoz, wetenskaplike koördineerder van die simposium.
Hierdie baanbreker-uitstalling word in vennootskap met Musée du quai Branly-Jacques Chirac en France Muséums aangebied.
Manuel sê: “Hierdie uitstalling beklemtoon die rykdom en diversiteit van hierdie uitgestrekte en wonderlike kontinent.”
Verskeie afgevaardigdes van Suid-Afrika was sprekers by die simposium, “Afrika museums: vandag en môre” waar 32 sprekers van 30 instellings soos museums en gallerye uit Afrika, hul stories kom deel het. Hierdie afgevaardigdes was ook by die eksklusiewe openinn van die uitstalling.
Charlene Houston het die Desmond en Leah Tutu-stigting; Dr. Bongani Ndhlovu, die Iziko Museums en Tayla Hollamby, die Norval Stigting en Kunsgallery, verteenwoordig.
Die uitstalling is in drie afdelings verdeel. Wes-Afrika beklemtoon die artistieke nalatenskap van Ife, Benin, Akan, Yoruba en Danhomè, met rare beeldhouwerke, koninklike regalia en kuns se rol in die vorming van mag en identiteit. Sentraal-Afrika bevat die Kongo-, Luba- en Teke-koninkryke, met seremoniële voorwerpe en beelde wat die verband tussen kuns, spiritualiteit en leierskap weerspieël. Suider- en Oos-Afrika plaas die kollig op die Zoeloe- en Ethiopiese koninkryke en bied artefakte aan wat die streek se ryk artistieke tradisies vier. Die reis word afgesluit met ‘n Afrika-popkuns-afdeling, met kontemporêre strokiesprente en videospeletjies.
- Van die raar artefakte en kunswerke wat deel vorm van die uitstalling wat tot 25 Mei 2025 te sien is.
Die Louvre Abu Dhabi-gebou vorm deel van ‘n uitsonderlike besoekers-ervaring, want die dak het oop dele wat lig deurlaat en verskeie oop mure waardeur die stad en die see gesien kan word. Die gebou en gallery is ‘n gesamentlik projek tussen die regerings van Abu Dhabi en Frankryk. Die gebou se planne is in 2007 deur Jean Nouvel ontwerp en gesamentlik deur beide regerings onderteken en het in November 2017 op Saadiyat-eiland geopen.
Louvre Abu Dhabi is omring deur water en besoekers kan per bootjie, kano of te voet arriveer. Nouvel se inspirasie was dat mense – net soos om in die nou straatjies van ‘n Arabiese medina te dwaal – die 55 geboue, waarvan 23 galerye is, kan verken. Hy is argitektonies geïnspireer deur die lae huise van die streek.
- Die Louvre Abu Dhabi is gedeeltelik in die see gebou en die argitektuur is deel van die besoekers-ervaring.
- Hier is die Guggenheim Abu Dhabi wat tans in aanbou is, duidelik sigbaar.
Die museum het ‘n baie indrukwekkende kindermuseum waar kinders selfs kan leer wat nodig is om op die maan of mars te oorleef. Hierdie ruimtes is omskep om soos ruimteskepe te lyk en is baie interaktief en tegnologies-gevorderd.
- Saans as die son sak, kry die museum ‘n hele nuwe ander aansig.
- Die Louvre Abu Dhabi se indrukwekkende dak vorm deel van die hele ervaring, met lig wat op verskeie maniere patrone teen die mure en vloer gooi.
- Die ingang na die indrukwekkende museum met die aankondigingsbord van die uitstalling in die agtergrond sigbaar.
- Die museum het verskeie eetplekke, wat wissel van informeel tot meer formeel, met heerlike Franse kookkuns. Die argitektuur kom selfs hier tot sy reg in die wêreldbekende Fouquet’s.
Emmanuel Kasarhérou, President van die Musée du quai Branly – Jacques Chirac het gesê die uitstalling ontgin die delikate begrip van mag.
“Dis verryk met kontemporêre verwysings en is ‘n reis wat hulde bring aan die kreatiewe krag van ‘n hele kontinent. Bo en behalwe die narratief salueer ek die benadering: ‘n multivokale projek beliggaam deur ‘n gedeelde kuratorskap, wat in ‘n gees van vrugbare samewerking bedink is. Ek is bly dat hierdie uitstalling die verhouding tussen die Musée du Quai Branly – Jacques Chirac en die Louvre Abu Dhabi verder sal versterk in hul gedeelde ambisie om ons erfenis en die kennis wat dit openbaar, te bevorder.”
Dr. Bongani Ndhlovu, uitvoerende direkteur van Iziko Museums Suid-Afrika, sê die kunsuitstalling was divers en het ‘n breë geo-kulturele gebied gedek. “Die artefakte uit die Iziko-versameling wat deel vorm van die uitstalling, het die storielyn goed gekomplimenteer. In konteks het hulle vordering getoon in hoe mense gereedskap en innovasie oor ‘n tydperk gebruik het.
Tayla Hollamby, kurator en uitstallingsbestuurder van die Norvalstigting Kunsgallery in Kaapstad was ook tydens die openingsweek by die gallery en sê sy was baie beïndruk om ook kontemporêre werke deur die uitstalling te sien, wat ‘n dinamiese element bygevoeg het.
“Die voorstelling en veelsydigheid van die museums wie se werke uitgestal is, was werklik indrukwekkend, en dit was inspirerend om só ‘n diverse reeks instellings te sien,” het sy gesê.
Lees ook: 10 redes waarom jy die Februarie-uitgawe van rooi rose móét lees!