Studente, stres en selfdood – hier is hoe mens kan hulp kry deur Salomé Delport. Hooffoto: Boyloso/iStock
Studente, stres en selfdood
Om ’n student te wees is stresvol. SADAG sê een ondersoek wys dat sowat 20% van studente al selfdood oorweeg het. Hoewel ons universiteite nie syfers oor selfdood onder studente beskikbaar het nie, sê Jerome September, dekaan van studentesake aan die Universiteit van die Witwatersrand, dat dit in Oktober ’n hoogtepunt bereik.
Sielkundiges, opvoedkundiges en ma’s verstaan dit: Jongmense het uiters groot uitdagings. Een van die moeilikstes van die lewe is om jou eie identiteit te vestig en om jou plek in die wêreld in te neem – een waar jy gerespekteer word vir wie jy is en wat jy bydra. In groot studentegemeenskappe waar twee-, tien-, twintig-, dertigduisend mense net soos jy om erkenning veg, is dit nóg moeiliker.
Lees ook: 9 dinge wat jy moet weet om ’n sukses van jou eerste jaar op universiteit te maak
Nie net verloor hulle grootliks hul ouers en onderwysers se aanmoediging nie maar in so ’n sterk gemeenskap staan mense wat altyd presteer het nie meer uit nie. Hier is hulle bra gemiddeld. Hulle druip selfs. Seksuele prestige en identiteit word nie meer deur skoolklere op ’n gelyker basis geplaas nie. Statussimbole soos klere, besittings, unieke ondervindings en veral sosiale vaardigheid tél. Daarby kom die aanlyndruk ingevolge die aantal “likes” op elke FB-inskrywing en Instafoto. Die werklikhede van Suid-Afrika – onveiligheid, geldtekort en moeilike huislike omstandighede – is hárd en skep ontsettend stres.
As ma hou jy hou hart vas. Wat kan jy vir ’n jong volwassene doen wat uit jou hande moet beweeg? Ons het ’n paar idees bymekaargemaak.
Lees ook: 12 tekens wat wys dat jou antidepressante werk – en raad vir as dit nie werk nie
Praat met jou desperate tienerstudent
Neem inisiatief van jou kant af. Depressiewe mense vertel selde uit hul eie hoe erg dit vir hulle is. Al is dit moeilik en al wonder jy of jy indring, is ’n omgeegesprek die beste wat jy kan doen vir iemand wat “af” lyk.
Uitvra kan nie die situasie vererger nie, sê SADAG in ’n bron-artikel oor selfdood onder tieners. Dit kan werklik help as hy kans kry om sy eensaamheid, hooploosheid en negatiewe gevoelens teenoor iemand uit te druk. Luister met onverdeelde aandag – en luister meer as wat jy praat.
As sy/haar reaksie jou ongerus laat voel, vra beslis of hy/sy selfdood oorweeg. Wys ook jy gee om – met iets wat jy weet hy nodig het en geniet: bring saam tyd deur; help hom met takies; bederf hom ’n bietjie.
Gesels ook oor selfdood: wys uit selfdoodgedagtes is tydelik, dat dit lateraan weggaan, dat depressie behandel kan word en dat daar vir elke probleem ’n plan is.
Moenie die persoon uit depressie probeer praat nie, met idees soos dat hy “so baie het om voor te dankbaar te wees” of dat sy selfdood “sy huismense sal ontstel”.
Iemand met depressie en/of selfdoodgedagtes móét hulp kry.
Universiteitsgesondheidsdienste is gratis. As dit vol bespreek is – wat juis in piektye die geval is – kyk ook na ander opsies, soos ondersteuningsgroepe, ’n mentor, terapeute, jul dokter of ’n sielkundige.
Lees ook: Die verkeerdste maniere om depressie te hanteer
Probeer dié teenstrestegnieke
Saam met sielkundige hulp en medikasie, is hier ses dinge wat jy kan probeer om die depressie en angstigheid te bekamp.
Lees ook: 5 maklike dinge wat jy kan doen om depressie te bekamp
1 Diep, ritmiese asemhaling
Dit is so maklik: jy sê ’n paar keer vir jouself iets soos “Ek is kalm; ek is rustig” terwyl jy drie keer diep in- en uitasem. Dan begin jy ritmies asemhaal: asem vir ses tellings diep in, hou jou asem vir vier tellings op, asem vir ses tellings uit en hou weer jou asem vir vier tellings op. Jy kan dit opstoot na tien en agt of selfs meer tellings, solank dit jou rustiger help maak. Party mense sit ’n vinger op hul pols en gebruik hul polsslag om telling te hou.
Lees ook: Alles wat jy moet weet oor seks en depressie
2 Troeteldierterapie
’n Splinternuwe tendens is troeteldier-besoekterapie. Dit is so suksesvol dat AVPs (animal visiting programs) reeds by meer as duisend tersiêre instellings in die VSA ingebring is. Studente kry die kans om tien minute saam met ’n hond of kat deur te bring en om die dier te troetel. Ondersoeke wys dat as die studente kan kies, bly hulle gemiddeld 35 minute by die dier.
Die Washington State University het amptelik ondersoek of dit werklik die besoekers se stresvlakke verlaag – en kon vasstel dat studente ná selfs net tien minute se direkte kontak met ’n hond vir ’n tydjie beduidend minder kortisol (een van jou stres-hormone) afskei.
Kortom, ’n band met ’n hond of kat kan jou kind ongelooflik baie help. Oorweeg dit om ’n ouer, rustiger hond van ’n diere-reddingsorganisasie soos die DBV aan te neem.
Lees ook: Lig jou kind uit depressie
3 Aktiewe én passiewe oefening
Oefening bly een van die beste maniere om jou stresvlakke te beheer – sport, draf, dans, fietsry, stap, YouTube-video’s … énige iets wat jou asem laat jaag en jou spiere laat werk.
Passiewe oefening is óók ontspannend. Al wat jy doen, is om jou spiere van jou tone af tot by jou gesig saam te trek en dan te ontspan. Jy kan dit selfs in die middel van ’n vraestel doen, want dit neem maar dertig sekondes. Dit werk ook om jou te laat ontspan as jy sukkel om aan die slaap te raak.
Maak so: Krul jou tone op, dan jou voete; trek jou kuitspiere, dye (voor en agter) en jou boudspiere saam. Asem uit en trek jou maag-spiere, rug en borskas saam. Trek jou vingers, hande, voorarms, boarms en skouers saam. Laastens trek jy jou nek saam en vertrek jou gesig in ’n grynslag. Haal diep asem en ontspan elke spier van jou gesig af tot by jou tone. Herhaal drie tot vyf keer.
Lees ook: Mans kry ook depressie! Dis hoe jy hom kan help
4 Oorvryfterapie
Die vagussenuwee is jou langste senuwee, en toestelle wat hierdie senuwee stimuleer, is reeds goedgekeur vir mense met epilepsie en depressie wat nie op medikasie reageer nie. Hierdie toestelle word ingeplant en is dus darem net te drasties vir gewone gebruik. Maar jy kan jou vagussenuwee op ánder maniere stimuleer. Die vagussenuwee kom by jou oor naby aan die oppervlak voor.
Massering of elektriese stimulasie van die oor is een van die moontlike maniere om jou vagussenuwee te bereik – en klein ondersoeke wys dat daaglikse stimulasie vir twee weke en langer werklik depressie verlig.
Dit is dalk moeilik om jóú vagussenuwee raak te vryf omdat die posisie daarvan effens van mens tot mens verskil, maar probeer ’n daaglikse ferm massering van die effense knop op jou kopbene agter jou oorskulp. Ferm druk binne-in jou oorskulp kan ook die regte plek wees.
Lees ook: Alles wat jy moet weet oor homeopatie en depressie
5 Psigobiotika
Baie van hoe ons voel, begin in ons dermkanaal, verduidelik Harvard Health Publishing van die Harvard Medical School. So word sowat 90% van jou goedvoelhormoon, serotonien, in jou dermkanaal gemaak. En daarom maak dit sin om die verband tussen kos en stres te ondersoek. Min werk is nog gedoen maar hier is iets om te herkou: een klein ondersoek wat in die bekende vaktydskrif Gastroenterology verskyn het, het bevind dat vroue wat jogurt met spesifieke laktobasille (die organismes wat melk in jogurt verander) twee keer per dag vir vier weke geëet het, was kalmer in ’n stressituasie en het ook minder breinaktiwiteit (wat op stres dui) getoon.
So ver is daar bewyse dat veral die laktobasille en die bifido-bakterieë (wat jy van rou vrugte en groente kry) angs verlig. Prakties vertaal beteken dit jogurt met ’n appel vir ontbyt en as nagereg ná aandete is goed vir angs en depressie
Lees ook: Hulp vir eksamenstres
6 Gil- en lagterapie
Albei stel endorfiene vry, en verlig stres geweldig baie. Moenie almal rondom jou ontstel nie – demp jou gille met ’n kussing voor jou mond.
Maar deel gerus jou lagbuie – álmal ontspan as iemand lekker lag. Humor en selfs lag-apps help mense ontspan.
Aanknopingsvrae wat jy kan gebruik om oor angs en depressie te praat
Vrae om mee te begin
- Ek is effens bekommerd oor jou. Vertel my hoe dit gaan?
- Dit voel vir my asof jy anders is. Ek wonder of jy ontsteld of ongelukkig is?
- Ons het lank laas gesels. Ek wil inhaal met jou en jou dinge.
Vrae as hy sê hy is ongelukkig, sonder hoop, negatief of depressief
- Hoe lank voel jy al so?
- Het iets gebeur wat erg is vir jou?
- Hoe het jy dit sover gehanteer?
- Dink jy aan sommer net opgee en selfdood?
- Dink jy dit is tyd dat ons iemand kry om te help?
Lees ook: Stres: Gee aandag aan jou liggaam se waarskuwingstekens