Stroop – die moet-kyk dokumentêr oor renosterstropery deur Ilse Salzwedel. Foto’s © Susan Scott vir ‘STROOP’
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
STROOP – journey into the rhino horn war is ‘n moet-kyk Suid-Afrikaans vervaardigde dokumentêre rolprent oor renosters. Dit ondersoek nie net renosterstropings en die sluikhandel daarin nie, maar bied ook waardevolle insig oor renosters, die spesie wat op die rand van uitwissing staan. Ons kan jou verseker jy sal vasgenael sit en kyk.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Die rolprent is al by dertig internasionale rolprentfeeste vertoon, en met 23 toekennings bekroon. Ons het reeds twee jaar gelede – toe die vervaardigers Bonné de Bod en Susan Scott nog net gedroom het van die eindproduk – met Bonné oor hierdie besondere projek gesels. Lees hier:
Bonné de Bod, een van die aanbieders van ‘50/50’, het vir haar ’n reuse-taak gekies: kampvegter vir renosters. En vir dié taak mag jy nie ’n bang haar op jou kop hê nie, het sy op haar omswerwinge agtergekom …
Die videogreep is effens skeef, want dis opgeneem deur ’n klein kameratjie wat op pad na hierdie afspraak in die agterstrate van Hanoi aan Bonné de Bod se borskas vasgeplak is.
Om die kamera te verdoesel het haar reisgenoot, Susan Scott, regisseur van die dokumentêre rolprent waaraan hulle werk, ’n serp om Bonné se nek gedrapeer. As die serp vandag opwaai of afval en iemand die versteekte kamera gewaar, kan dinge erg skeefloop.
Hierdie mense speel nie. Dit het Bonné en Susan geleer uit die talle verminkte renosterkarkasse wat hulle al aanskou het. Gróót geld is op die spel, en mense sal moor om hul geheime en bates te beskerm. Net een of twee ingeligtes sal weet om in Hanoi in Viëtnam na hulle te kom soek, maar waar sal hulle begin soek? ’n Lyk kan maklik verdwyn in die rooibruin water van die Sông Hongrivier, of Rooirivier, wat deur die stad vloei …
Die vroue is omring deur ’n groepie Oosterse mans. Die “winkel” is in ’n huis en die besige huishouding gaan ongesteurd voort terwyl die mans besigheid doen. Op die tafel is ’n verskeidenheid voorwerpe uitgepak, alles uit olifant- en buffelhoring gemaak. En renosterhoring. Dis ’n skokkende ontdekking wat Bonné-hulle hier in Asië kom maak het: renosterstropery gaan oor veel meer as die sogenaamde medisinale waarde van die horing. Juweliersware van renosterhoring is ’n gewilde, peperduur bykomstigheid onder ryk Oosterlinge.
Pas aan, pas aan! por die verkoper deur ’n tolk.
Bonné voel die walging in haar opstoot, maar durf niks laat blyk nie. Sy is immers, volgens hulle, ’n ryk Hollandse toeris wat haar versameling eksotiese juweliersware wil aanvul. Aan haar pols pryk reeds ’n geleende buffelhoring-armband en sy dra ’n geleende, handgekerfde ivoorring. Niemand het rede om te vermoed dat sy nie regtig graag ’n renosterhoring-armband wil koop nie.
Sy slaak ’n sug van verligting toe die armband te klein is. Dit word ontwerp vir dun, Oosterse polse, nie vir die pols van ’n lang, lenige vrou uit Afrika nie. Maar die aanpassery het haar en Susan die kans gegee om meer te wete te kom oor ’n aspek van die handel in renosterstropery waarvan hulle tot nou bitter min geweet het. Nou kan hulle genadiglik hier uitkom.
Skielik is daar ’n roering in die vertrek. Die mans praat hard onder mekaar. Die verwarring op die tolk se gesig laat haar onrustig voel. Toe die opdrag: kom, nou gaan julle saam met ons ry. Hulle word by die deur uitgeboender.
Die tolk het geen idee waarheen hulle op pad is nie.
Paniek is die laaste ding wat enigeen nou mag wys. Het iemand die kamera gesien en snuf in die neus gekry?
Die goue Lexus 4 x 4 waarin die vroue moet klim, is opvallend in die andersins armoedige omgewing. Die duur voertuig beteken geld – gróót geld. Wat wag op die twee Suid-Afrikaners en hul tolk?
Gelukkig net ’n besoek aan ’n vakman wat dalk wel ’n groot genoeg renosterhoring-armband vir die “Hollandse toeris” se arm het.
Later sou Bonné-hulle agterkom dat daar versteekte kameras in die eerste handelaar se winkel is. Die vakman het op die videovoer gesien dat die armband te klein is en sy kontakte laat weet dat hy dalk een het wat groot genoeg is. Die groep was vasbeslote om nie ’n potensiële koper uit Europa deur hul vingers te laat glip nie.
“Kom kyk hoe maak hy die juwele,” het die tolk vertaal.
Dis ’n gesig wat vir ewig in Bonné se geheue ingegraveer is. In die piepklein vertrekkie op die boonste verdieping het die vakman kruisbeen op die vloer gaan sit en met vaardige hande begin sny en kerf aan ’n stuk rou ivoor. Eenkant was ’n olifanttand, bruin geverf om soos hout te lyk. Dit, het die man verduidelik, is hoe hulle die ivoor kamoefleer sodat dit saam met vragte hout ingesmokkel kan word. Toe sien sy dit: ’n renosterhoring …
“Ek is verlig om vandag veilig hier te sit,” vertel Bonné de Bod (33) terwyl sy ’n volgende video op haar skootrekenaar oopmaak. Die omvang van die sluikhandel in renosterhoring het haar eers werklik op die besoek aan die Ooste getref.
“Ek en Susan, die regisseur, was in Bangkok, Luang Prabang in Laos, Hanoi in Viëtnam en ook in Hongkong om te gaan kyk hoekom die vraag na renosterhoring toeneem.
Ek wou weet of dit werklik net oor die medisinale waarde gaan, en of daar iets meer agter alles skuil. Ek moet die volle verhaal kan vertel sodat mense kan verstaan.”
Lees ook: Mensmammas vir renosterwesies
Lesers sal Bonné herken as een van die aanbieders van 50/50, die gewilde natuurleweprogram op SABC2. Dis juis deur haar werk vir die program dat sy haar ware roeping ontdek het: kampvegter vir die renosters. Sy onthou die presiese oomblik toe sy besef het sy moet meer doen as net oor slagtings berig.
“Ek het tussen twee verminkte, ontbindende renosterkarkasse gestaan vir ’n 50/50-insetsel. Ek was kwaad, hartseer. Hoe kan ons dit toelaat? Ek het besef ons is by ’n keerpunt: óf ons red ’n spesie, óf ons verloor hulle vir altyd.”
Die handel in renosterhoring is omgeef van mites. Dit gee glo woema in die bed, en kan kanker genees. Maar was dit die enigste rede hoekom 1 215 renosters in 2014 en meer as 1 500 in 2015 in Suid-Afrika doodgemaak is? Daar is ander redes ook.
“Dit word wyd deur tradisionele genesers voorgeskryf as ’n geneesmiddel vir dinge soos koors, verkoue en griep, en ryk sakemanne drink dit as teenvoeter vir babelaas. Boonop is dit ’n gróót statussimbool, waardevoller as goud. Die horing word teen honderde rande per gram verkoop – ek wil nie eens vir jou die regte prys sê nie, want dit moedig die handel net verder aan. In plekke soos Viëtnam word ’n stuk renosterhoring byvoorbeeld as geskenk gegee aan iemand wat dalk ’n tender na jou kant toe kan laat kom. Dit wys hoe magtig en ryk jy is, en word ‘rhino horn gifting’ genoem. Dis ook ’n gewilde geskenk in Viëtnamese regeringskringe, selfs al is dit onwettig om dit te besit.”
Hulle het gehoop om gebruikers van die horing eerstehands te kan uitvra oor iets soos die medisinale waarde, en ná baie navrae en doodloopstrate kon hulle wel met ’n kankerpasiënt in Viëtnam praat. Die vrou het ingestem om dit op kamera te doen, op voorwaarde dat haar gesig nie gewys word nie.
Het dit haar kanker genees, wou Bonné weet? Sy is nie seker nie, erken die vrou, want sy het ook chemoterapie gekry. En eintlik het die renosterhoringdrankie haar so naar gemaak dat sy dit net ’n paar keer gebruik het en toe opgehou het.
Maar hoekom het sy dit dan hoegenaamd gebruik? “My vriendin het dit vir my gegee toe sy hoor ek is siek, en ek kon dit nie weier nie. Dit sou ’n belediging wees,” het die vrou verduidelik.
“Jy sien, dis die soort kultuur waarteen ons stryd is. Soms maak dit my moedeloos,” erken Bonné nadat ons na die videogreep gekyk het. Nog ’n videogreep wys ’n vooraanstaande Viëtnamese onkoloog wat vertel hoe baie van haar pasiënte steeds daarop aandring om renosterhoring te gebruik al kry hulle ook chemoterapie en bestraling. Volgens haar is daar inderdaad geen medi-
sinale waarde daarin nie, maar selfs mediese uitsprake soos hare keer nie die bygeloof nie.
Die kankerlyer was bereid om op kamera te wys presies hoe die horing gemaal word vir medisinale gebruik. Toe sy haar stuk renosterhoring gaan haal, het Bonné die reuk van iets soos gebrande hare geruik. Sy ken die sterk, bitter reuk. “Ek het dit al geruik waar renosters onthoring word.”
Die horing word fyngemaal in ’n spesiale bakkie wat in sekere Oosterse lande vrylik te koop is. Daar is selfs ’n renosterembleem op die bakkies. “Die boom is baie grof, en jy maal die horing deur dit heen en weer oor die boom te vryf.” Om genoeg vir ’n brousel te maal, duur omtrent 45 minute. “Dan meng jy dit met water en drink dit net so uit die bakkie, wat ook ’n spesiale tuit het.
“Toe ek die Viëtnamese vrou vra of sy besef ’n renoster is doodgemaak vir die horing, het sy gesê sy sien dit glad nie so nie. Vir haar is dit net ’n kosbare kommoditeit, ’n geskenk van haar vriendin af. Sy voel geen verbintenis met die dooie dier nie. En daarin lê die oplossing: Ons moet veg om mense daardie konneksie te laat maak. Hulle moet my rolprent sien en besef drie tot vier renosters word daagliks net in Suid-Afrika doodgemaak vir hul horings. ”
As joernalis staan sy neutraal teenoor die onlangse wettiging van die binnelandse handel in renosterhoring.
“Wêreldwyd is die handel in renosterhoring reeds in 1977 gestaak, en plaaslik is binnelandse handel tot omtrent 2007 toegelaat, maar ’n moratorium is toe weer ingestel weens ’n toename in stropings. Die moratorium is onlangs deur die hof opgehef. Gaan dit mense keer om te smokkel? Gaan hulle dit wil koop as hulle dit kan steel? Ek weet nie. ”
Sy besef sy het ’n reuse-taak gekies. “Maar hoe dieper ek delf en hoe meer betrokke ek raak, hoe meer wil ek doen. Die tyd vir hierdie geveg is nou, nie later nie.”
Bonné wil Stroop, haar dokumentêre rolprent oor die renosterkrisis nie net in Suid-Afrika in teaters vertoon nie, maar wêreldwyd. Sy glo dis die enigste manier om mense van renosters se lot bewus te maak. Sy maak die fliek in Afrikaans, maar onderskrifte sal verseker dat almal dit kan verstaan.
Aan kritiek dat sy dit in Afrikaans maak, steur sy haar min. “Dis mý taal, mý reis. Ek wil ‘renoster’ kan sê, nie ‘rhino’ nie. En onthou, behalwe die Viëtnamese sindikate, is al minstens twee sindikaatgroepe wat uit Afrikaners bestaan, vasgetrek. Ek wil weet hoekom hulle dit gedoen het. Dink mooi wie is almal betrokke – die stropers op die grond verdien die minste en is arm mense uit die omgewing. Hy is eintlik onbelangrik in hul opset. Word hy doodgeskiet, is daar môre iemand wat hom vervang.”
Internasionale verspreiders is baie opgewonde oor Stroop en hou daarvan dat die fliek in Afrikaans is. “Hulle sê dis vir ’n slag ’n eg Suid-Afrikaanse invalshoek deur mense wat hier woon en werk en nie net invlieg en uitvlieg nie.”
Sy en Susan werk reeds twee jaar aan die fliek, en het honderde ure se videomateriaal. Sy het gepraat met alle belanghebbendes: van mense in bewaringskringe, tot regsgeleerdes, stropers en renosterhoringgebruikers.
“Ek wil die harde werklikheid wys. Ons sensureer niks.”
Lees ook: Stroop wen nog ’n prys
Kyk hier na die lokprent
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.