Stres minder: kyk na dié 6 denkpatrone. Deur Mariette Snyman.
Die kern van stres lê daarin dat ons ’n gebrek aan beheer ervaar. Ons reken ’n situasie val buite ons kontrole terwyl ons wel iets daaraan kan doen, of ons dink ons kan ’n situasie beheer wat ons eintlik nie kan nie.
So kan ons ons vakansieplanne verander, ons gedagtes beheer (natuurlik met moeite!) of meer selfgeldend wees – maar aan die weer, die verkeer, ander mense se persoonlikhede of ouer word kan ons min doen.
Soms is stres die gevolg van aangeleerde denkpatrone. Dit mag ’n onaangename oefening wees en vra ’n goeie dosis eerlikheid, maar herken jy jouself in die volgende denkwyses?
1 Jy aanvaar onnodige verantwoordelikheid
Wat doen jy wanneer dinge skeefloop? Soek jy die fout outomaties by jouself?
Mense wat hulself moeilik handhaaf is baie keer eerder oorakkommoderend as om ander te konfronteer. Hulle is geneig om hulself te blameer wanneer hulle nie die probleem veroorsaak het nie, of wanneer dit eintlik iemand anders se verantwoordelikheid is.
Beheer en verantwoordelikheid loop hand aan hand. Jy kan nie verantwoordelikheid neem vir ’n familielid se geldsake as daardie persoon die geld na goeddenke spandeer nie.
Vra jou af: Wanneer ek feitelik na die situasie kyk, wie se verantwoordelikheid is dit regtig?
2 Behoefte om te beheer
Skuil daar ’n beheervraat in jou? Wil jy byvoorbeeld elke aspek van jou huishouding of besigheid self hanteer? Daar is gewoon nie genoeg tyd en energie om alles self (goed) te doen nie.
Vra jou af: Watter take kan ek delegeer, of wanneer is 80% pleks van 100% voldoende? (Sal dit byvoorbeeld iemand se dood veroorsaak as ek die matte minder dikwels stofsuig?)
Lees ook: Asemhalingoefeninge wat jou help om minder te stres
3 Slagoffermodus
As jy glo niemand se lewe was nog ooit so moeilik soos joune nie, of gereeld dink: “Hoekom moet alles altyd skeefloop?” moet jy die moontlikheid oorweeg dat jy in poor me mode is. Dit is natuurlik geen maklike taak om hierdie modus te herken nie!
Probeer vasstel wat die kernprobleem agter hierdie gedrag is en maak werk daarvan. Dalk is dit nie so ingewikkeld nie. Indien dit is, kan professionele hulp soos ’n paar sessies by ’n knap sielkundige wondere verrig.
Vra jou af: Beskou ek my as die slagoffer?
4 Alarmistiese denke
’n Lewendige verbeelding of ’n hoë angsvlak kan veroorsaak dat jy “katastrofeer”. Dis ’n moeilike gewoonte om af te leer, veral wanneer die oorsaak angstigheid is. Ook hier kan professionele hulp van waarde wees. Sien ook ons artikel, Die onsigbare tronk
Vra jou af: Dink ek altyd eerste aan die ergste wat kan gebeur?
5 Oorveralgemening
Wye stellings wat woorde soos “altyd”, “nooit”, “niemand” of “almal” bevat kan gesaghebbend voorkom, maar in werklikheid is hulle selde in die kol. Omvorm sulke stellings om die feite van die presiese situasie oor te dra. Pleks van “Almal kyk my vandag skeef aan,” is die waarheid dalk “My man was vanoggend te ingedagte om my behoorlik te groet en my kollega het duidelik nie lus vir geselskap nie.”
Die lewensafrigter Martha Beck sê wanneer die begrip “almal” in jou gedagtes opduik, moet jy ses mense noem wat pertinent te kenne gegee het dat hulle voel soos jy dink “almal” voel. Byvoorbeeld: almal dink ek het ’n groot neus. Watter ses mense het so gesê, en speel hulle vandag ’n belangrike rol in jou lewe?
Vra jou af: Is my gebruik van “altyd”, “nooit”, “niemand” of “almal” realisties?
6 Neem kritiek persoonlik op
Plaas kritiek jou op die verdediging, en voel jy onmiddellik veroordeel of verwerp? Dit gebeur maklik wanneer ons weerloos voel (om watter rede ookal) of wanneer iemand ’n teer punt aanraak. Luister goed na wat die persoon sê terwyl jy emosioneel afstand probeer handhaaf. Om oop te wees, pleks van op die verdediging, kan die angel uit hierdie denkpatroon haal.
Vra jou af: Wat hoor ek as ek neutraal na die kritiek luister?
Bron: “Natural Superwoman” deur Rosamond Richardson, Celestial Arts, 1999.
Hooffoto: Garon Piceli vir Pexels
Lees ook: Raad vir ongesonde vriendskappe