Op ‘n Kaapse wintersdag nooi Erica Wessels my in Woodstock by haar knus skakelhuisie met sy mooi plankvloere en antieke stoele in: ‘n Grys, koue, nat dag met reënvlae wat kort-kort uitsak. Kaggelweer. En sy begin sommer ook dadelik om ‘n vuurtjie brand te maak.
“Ek was amper nie hier nie,” sê sy. “Ek was so naby aan die dood. Ek was nog nooit in my lewe só bang nie!” Erica en haar vriend was saam met ’n veldwagter op ’n uitstappie in ’n wildreservaat toe drie leeuwyfies skielik so 15 meter voor hulle verskyn – dreigend en reg om te storm.
“Die veldwagter het omgeswaai en sy oë was pieringgroot. Hy het met sy voete ge-stamp en op die wyfies geskel en ons beveel: ‘Bly baie kalm. Moenie hardloop nie. Ons gaan stadig agteruit tot in die droë rivierloop beweeg waar hulle ons nie kan sien nie.’“
Die leeus se boodskap was duidelik: “Julle is in óns gebied, en ons is honger.” Die drie knewels het met hul omsingelingsmaneuver begin. Uit die gesonke droë loop het Erica-hulle hul pad na ’n rotskoppie gekry, met die leeus steeds op hul spoor.
“Wat ek ook onthou, is hoe gefokus ek was; kalm, met massas adrenalien wat deur my are pomp. Nou, agterna, voel ek geëerd. Dit was ’n wonderlike spirituele ervaring.
“Vrees soos wat ek daar ervaar het, sal ek op die verhoog kan uitbeeld, maar daardie innerlike vrees is iets anders. Ek sal dit kan speel, maar ek dink nie ek sal dit kan vóél nie.”
Sy bly ’n rukkie stil: “Ek sal daardie vreesgevoel nie mis as dit nooit weer met my gebeur nie.” Vrees is nie haar metgesel in Woodstock nie, al is dit een van die ouer en armer woonbuurte in die Kaap. Sy voel veilig in die buurt met sy labirint van nou eenrigtingstraatjies, historiese en sommer net ou geboutjies, in verskillende stadiums van verval en vernuwing.
En tog dink baie mense Johannesburg is die plek waar jy moet wees, veral met ’n be-roep soos joune? Nee, sê sy, dis nie nodig nie. Sy werk in die teater, vir plaaslike TV (soos nou in die kykNET-reeks Vloeksteen), die BBC en talle ander instellings. Sy doen baie stemwerk en is in aanvraag vir al die aksente wat sy bemeester het. Sy is ’n kreatiewe mens wat haar in die stad uitleef, sy is dol op struktuur en energie, openingsaande by galerye, rolprente, teater en goeie vriende. Etes aan huise, maar dan in klein groepies. “In groter groepe mis jy te veel, moet jy op te veel plekke gelyk luister.” Sy hou van soesji en filet met groente. “En ek hou van rooiwyn.”
Die Johannesburgers dink die Kaap is kliekerig, maar dis nie haar ondervinding nie. En as sy in Gauteng moet gaan werk, is dit ‘n bonus omdat sy by haar ma-hulle bly. Maar sy is ook ’n berg-mens wat dol is op wegkom, soos in wég, alleen of saam met ander.
“Ek kan ook baie maklik alleen wees met net my eie geselskap.”
As die jongste van vyf kinders het sy met baie liefde en ondersteuning grootgeword. Die gesin is geheg aan mekaar en sy is die tannie van elf kinders en die peetma van twee. En sy het mooi herinneringe aan haar kinderjare.
“Een van die mooistes en vroegstes wat ek onthou, was by die see. Ek was in my pa se arms in die branders. Dit was groot pret, en ek onthou die gevoel van liefde, vertroue en beskerming; om heeltemal sonder vrees te wees. Dis ’n kosbare herinnering.”
Op skool het sy tennis, hokkie en netbal gespeel. Sy was van laerskool af versot op drama, dans en kunsklasse maar het haar op Stellenbosch vir ’n graad in die sielkunde ingeskryf – net om twee weke later die groot sprong na ’n dramakursus te maak. Sy het nie eintlik geweet ’n mens “swot” drama nie, maar ‘n vriendin het haar na ’n teorieklas genooi. Die “ekspressiewe, passievolle, dinamiese en kreatiewe mense wat gil en sweet” het haar aangegryp en “die res is geskiedenis”. Sy was verstom toe sy ontdek dat 90% van haar klasmaats teen hul ouers se wense drama swot. Háár ouers, broer en susters was anders: “Volg jou drome, God sal voorsien.”
Dit was die regte besluit en sy leef vir die teater, hoewel sy ook ’n liefde vir rolprente en TV ontwikkel het, beginnende ses jaar gelede met Charlie Jade en die TV-weergawe van Deon Meyer se boek Orion. Haar jongste TV-rol is dié van Elle Fourie in die kykNET-reeks Vloeksteen. Sy speel ook ’n rol in Katinka Heyns se rolprent Die Won-derwerker wat op 5 September bekend gestel word. Dit handel oor die lewe van Eugène Marais, met Dawid Minnaar in die hoofrol.
“Die Vloeksteen-reeks was groot pret, al het ons soos monsters gewerk om 11 tot 14 minute per dag op ’n klein begroting te skiet. Dit was fantasties om met sulke kreatiewe mense en ’n regisseur soos Regardt van den Bergh te werk – iemand wat ook oop is vir idees en almal op die stel gelyk behandel. En dit was ses maande se gewaarborgde werk – wat altyd wonderlik is!”
Vir die teater werk jy báie harder, vertel sy. Die dissipline is heeltemal anders as vir televisie en betrek elke enkele element van die hele proses. Dit verg báie meer voorbereiding, massas werk en lang ure in die repetisie- lokaal. Op die verhoog is daar nie ’n tweede kans nie – jy repeteer om “in die oomblik” te kan wees en jy moet almal se teks ken. Voor die kamera kan jy instinktief reageer.
“Vir Who’s Afraid of Virginia Woolf het ons lank repeteer, en toe was ons elke dag drie uur lank op die verhoog – sewe dae per week, ses maande lank! Dit was wonderlik!”
Sy en haar mede-akteurs het ook baie hard gewerk vir Sarah Kane se drama Smag. Die oorspronklike titel is Crave en Willem Anker het die drama meesterlik in Afrikaans vertaal. Dis die donkerste stuk waarin sy nog op-getree het en handel oor stemme in ’n vrou se kop en haar smagting na die dood (die dramaturg het ook twee jaar later op 28 selfmoord gepleeg).
“My karakter mediteer heeltyd oor die dood, die negatiwiteit van die lewe, angs, vrese en leuens. Ek het baie uit die stuk geleer. Ek het geleer dis hoe ek nié wil leef nie. Dis net hartseer om so hard te werk vir net vyf opvoerings.”
Die vermaarde akteur Ben Kingsley (Gandhi) stel dit sterk as hy sê: “Dit sal so ’n tragedie wees om die voorreg van toneelspel weg te gooi. Jy is die sjamaan, die heler, dis jy wat die storieverteller is en dis belangrik dat akteurs dié feit waardeer. Hulle dink te dikwels dit gaan oor hulle, wanneer dit eintlik daaroor gaan dat die gehoor homself in jou moet herken. Hoe verder jy van die publiek onttrek, hoe minder krag het jy op die verhoog.”
Stem sy saam? “O, ja. Dis ’n wonderlike opsomming. Van al die goed wat ek al gelees het, kom dit die naaste aan hoe ek daaroor voel. Wat hy hier sê, is die essensie van die begaafde akteur.
“Ek is ’n storieverteller, verlief op wat in mense se koppe aangaan, hul gedagtegange, hoekom mense doen wat hulle doen en sê wat hulle sê. Hoekom ons maskers dra en die teenoorgestelde sê van wat ons dink en voel. Dit fassineer my.”
Speel die gehoor se reaksie ’n rol in akteurs se uitlewing van ’n karakter op die verhoog? “Ek speel nie vir reaksie en resensies nie, ook nie vir die uitroepe van ‘O, jy was wonderlik!’ in die foyer nie.”Maar tog het Kenneth Haig gesê: “You need three things in the theater: the play, the actors and the audience, and each must give something.”
“Oukei, die gehoor dra wel by tot die genot op die verhoog. Dit moet aaklig wees om in ’n komedie te speel en almal sit net dead- pan. En komedie is verreweg die moeilikste om te speel. Met ander rolle is daar prosesse wat jy kan volg, nie met komedie nie: jy kan of jy kan nie. Die tydsberekening is ontsettend belangrik, en dis lekker as die gehoor meewerk.”
Dis onvermydelik dat ’n mens haar oor haar héél grootste teaterervaring uitvra.
“Sonder twyfel my rol as Mary Jane Hanrahan in Jesus Hopped the A Train (waarvoor sy ook ’n Fleur du Cap-prys gewen het).
“Die stuk speel hom in ’n berugte Ameri-kaanse tronk af en ek was die regsgeleerde wat ’n man verdedig wat van moord aangekla word. Daar was ongelooflike persoonlike oomblikke tussen my en die beskuldigde. My binnestryd oor die getuienis, hoe dit my affekteer, baie intense alleensprake. Uitdagend, uitputtend. ’n On-ge-lóóf-like stuk en rol.”
Raak rolle, veral komplekse en donker rolle, haar as mens? “Dit affekteer jou terwyl die stuk opgevoer word. Daar is soveel wat jy aan ’n karakter kan gee, soos eksentrisiteit of weerloosheid. Dis wat jy insit, eerder as wat jy uit die teks kry. Jou adrenalienvlakke is hoog, jy gaan laat slaap, jy moet gesond eet. Maar dis elke akteur se verantwoordelikheid om daardie rol se jas uit te trek en op te hang en te herbevestig wie jy is.”
En, sê sy, sy dink sy kan enige rol speel. Op skool was sy een keer ’n boom in ’n toneelstuk; in haar later lewe ook al ’n boemelaar. Sy voel aangetrokke tot komplekse rolle, sê Erica, en sy wil ook nie in ’n boksie geplaas word van wie daar gesê word dis maar soos sy is nie. Daarvoor is elke mens te kompleks.
“ ’n Mens is tog nie net goed of kwaad nie. Ons is sensitief, ons kry seer, ons dra maskers, ons oorleef. Toneelspel is immers ’n studie van die mens. Ons, die akteurs, is eintlik maar chroniese sielkundiges – die voyeurs van die menslike toestand.”
Daar is nie spesifieke rolle waarna sy smag nie, sê Erica. Sy wil net aanhou werk, fantaseer en stories vertel.
Het sy al rolle van die hand gewys? “Ja, meestal wanneer daar naaktheid betrek word. Baie, veral rolle in internasionale produksies. Ek gee álles – fisiek, emosioneel en op die geestelike, sielkundige en liggaamlike vlak – behalwe naaktheid. Ek gaan hulle nie nog dít ook gee nie. Hierdie bedryf kry 90% van my, ek sal hom nie 100% gee nie. Ek sê ook nee vir rolle as ek dink die teks is leeg en dom en dat dit niks aan my doen nie.”
In die komedie Private Lives (Noel Coward) is sy vir die rol van Amanda met nog ’n Fleur du Cap-prys beloon.
“In teenstelling met intense, donker rolle was hierdie stuk welkome afwisseling,” sê sy. “Amanda is eksentriek, nuuskierig, kontemporêr, liberaal en selfs ’n bietjie arrogant.”
Watter hiervan is sy as mens? Sy lag. “Almal! Behalwe arrogant, ek probeer hard om nie arrogant te wees nie. Dit was ’n prettige rol, en soos met almal kry jy daaruit wat jy insit. Harde werk, maar pret.”
Met die groetslag vra ek of daar vrese in haar lewe is. “Ja, daar is. ’n Vrees om op te hou groei, om klinies en klein en te sorgvuldig en presies en gekontroleerd te leef. ’n Vrees om weer seer te kry, die verkeerde keuses te maak, die vrees om nie vol en nou en hier te leef nie. ”
“Maar wat ek weet, is dat liefde altyd, wanneer jy daaroor mediteer en daarvolgens leef, daardie vrese stukkie vir stukkie uitlag en verlam.”