Deur Ilse Salzwedel
Stop die instoppery
As jy gedink het jy doen jou kind ’n guns deur hom geld in die hand te stop, dink weer.
Wyse woorde inderdaad, en nodiger as ooit. Want ons leef in ’n era waarin tieners en jongmense toenemend die teiken is. Maar ongelukkig ook dikwels die sondaars en skobbejakke. Dis ’n feit, hoe hartseer ook al, dat ons kinders onregeerbaar raak en minder respek het as ooit tevore: vir hulself, vir gesag, vir mekaar, vir ons as ouers, vir reëls en selfs vir die wet.
Baie ouers het die stryd verloor
Gedragsprobleme by kinders kan verskeie oorsake hê, maar Suid-Afrikaanse sielkundiges het deesdae ’n nuwe gonswoord waaraan baie van ons jeug se probleme toegeskryf word: die instopsindroom.
Dr. Phillip du Toit, ’n Kaapse gesinsberader, sê sy ervaring wys dat ’n gebrek aan dissipline en respek vir gesag toenemend onder kinders voorkom, veral in instop-gesinne.
“Baie ouers het reeds die stryd verloor. Omdat daar al minder struktuur, roetine en wedersydse respek vir mekaar in die huis is, word daar maar met geld gekompenseer.”
Sielkundiges en veiligheidskenners is bekommerd oor jeugmisdaad en die toename in gedragsprobleme onder kinders.
Dr. Anneline Nieman, ’n Johannesburgse opvoedkundige sielkundige wat in haar doktorale tesis op jeugoortredings gefokus het, sê daar is ’n sterk korrelasie tussen jeugmisdaad en vroeë gedragsprobleme by kinders.
Volgens haar is jeugmisdaad ’n wesenlike probleem in ons land. “Daar was volgens die laaste amptelike syfer 62 477 jeugdiges in Suid-Afrikaanse tronke. Sowat 24 407 van hulle is nog verhoorafwagtend.”
Die kommerwekkende feit wat ons nie langer kan miskyk nie, is dat jeugdiges toenemend by misdaad betrokke raak omdat hulle verveeld is, nie navolgenswaardige rolmodelle het nie of maats wil beïndruk, veral as hul materiële besittings nie meer op die maats ’n indruk maak nie. Wat ons terugbring na ouers wat instop.
Lees ook: Bou of breek jy jou kind se selfbeeld?
‘Maar ek kan dit bekostig!’
Ja, maar jou kind kan nie. Geld, meen sielkundiges soos Phillip en Elize Olivier van Northcliff, is nie die hoofprobleem nie, wel die siening wat by kinders ontstaan dat dit enigiets kan regmaak, of enige krisis kan laat verdwyn.
Voeg daarby die vryheid wat baie sakgeld, ’n eie motor en selfs ’n eie kredietkaart en selfoonrekening ’n kind gee, en dit verklaar dat ouers al minder beheer oor hul kinders se doen en late het.
’n Navraag by ’n dwelmrehabilitasie-kliniek in Pretoria wys dat die jeugafdeling propvol is – die jongste pasiënt ’n skrale 12. Die verslawings? Van (goedkoop) dagga en (relatief goedkoop) ecstacy tot heroïen (wat tot R300 per dag kan kos) en alkohol.
’n Traumadokter by ’n hospitaal naby ’n gegoede woonbuurt in Gauteng, wat om verstaanbare redes nie homself of sy hospitaal wil identifiseer nie, vertel dat sy eenheid elke naweek drie of vier tieners met dwelmoordosisse of alkoholvergiftiging opneem.
Die media wemel van skokkende verhale van tieners waarby dwelms, drank, spoed, geweld of misdaad ter sprake is. Tieners val mekaar by skole aan, in nagklubs, op die sportveld. Al meer tieners gebruik dwelms of opkikkers. Drank is vrylik beskikbaar en word mildelik gebruik.
Die gemene deler in baie gevalle? Onbetrokke ouers wat geld gee eerder as liefde en dissipline.
Lees ook: Vyf ankers wat jou kind veilig laat voel op enige ouderdom
Kruipende kindermishandeling
Die simptome van tienerjappie-sindroom is oral om ons: duur handelsmerkklere, uitspattige, peperduur matriekafskeiduitrustings, selfone, rekenaars, iPods en rekenaarspeletjies. Die duur motors of motorfietse wat sommige hoërskoolleerders ry.
Alle rykmanskinders is nie misdadigers nie, en almal word ook nie emosioneel afgeskeep nie. Maar dié wat wel afgeskeep word en sakke vol geld het, se risiko om by misdaad en dwelms betrokke te raak, is baie groter. Phillip waarsku dat kinders wat nie genoeg liefde en dissipline by ouers kry nie, dikwels op ’n negatiewe manier probeer aandag trek.
Dis wanneer kinders hulle tot nuwe “uitdagings” soos dwelms, spoed, geweld en kleiner misdade wend. Voeg daarby nog ’n stewige dosis tienerhormone, ’n vet beursie en rebelsheid, en jy het ’n ramp wat wag om te gebeur.
’n Pretoriase kriminoloog dr. Christiaan Bezuidenhout sê niks kan ouerlike liefde en betrokkenheid vervang nie. “Dis al met navorsing bewys dat kinders eerder ’n huis vol liefde sal kies bo ’n huis waar geld volop, maar wedersydse liefde en tyd min is.”
Die bekende dr. Phil McGraw noem oormatige bederf ’n “kruipende vorm van kindermishandeling”.
“Jou werk as ouer is om jou kind vir die wêreld voor te berei. In die regte wêreld kry ’n mens nie altyd wat jy wil hê nie. Jy sal dit beter kan hanteer as volwassene as jy dit reeds as kind ervaar het.”
Verder maan hy dat as jou verhouding met jou kind op materiële dinge gegrond is, jou kind nooit sal voel hoe dit is om onvoorwaardelik liefgehê te word nie.
Ons voorbeeld as ouers, waarsku Dr. Phil, is van uiterste belang. “Ons is nie die enigste voorbeeld in ons kinders se lewe nie, dus beter ons sorg dat ons die beste voorbeeld is!”
Te veel geld tas ook jou kind se waardestelsel aan. “Hulle het minder empatie vir mense wat nie het wat hulle het nie, en waardeer dit wat hulle het, ook minder,” verduidelik Elize.
Dis ’n bose kringloop. “Ouers wat instop, is gewoonlik ook baie manipuleerbaar, wat beteken dat ’n kind respek vir die ouer verloor,” waarsku Elize. “Die kind het nie respek vir enigiets of iemand nie, en boonop verloor die ouer die gesag wat nodig is om dissipline op te dwing.”
Wat is die oplossing?
Die Australiese kinderopvoeding-ghoeroe, Steve Biddulph, is ’n kampvegter vir die terugkeer na outydse waardes en dissipline. Hy stel dit onomwonde in sy boek The Secrets of Happy Children (Harper Collins Publishers, 2002): “As ouers nie ferm is nie, ontwikkel kinders geen innerlike beheer nie. Hulle hou net aan om soos tweejariges op te tree, selfs as hulle 5, 15 of 25 is.”
Hy sê ’n kind se lewe is ’n gemors sonder innerlike dissipline. Ouers wat kinders laat doen wat hulle wil, veroorsaak ’n lewenslange gestremdheid by die kinders en eindelose probleme wag op hulle as hulle die regte wêreld betree.
Daar’s net een manier om vir jou kind ware vryheid in ’n moeilike wêreld te gee, meen Biddulph, en dis deur hom goeie selfdissipline te leer. “Dan kan hy die wêreld aanvat.”
“Dis belangrik om jou kind van vroeg af te leer om verantwoordelikheid vir homself en sy optrede te aanvaar,” verduidelik Anneline. As ouers onaanvaarbare gedrag ongestraf laat, of intree sodra daar reperkussies is oor ’n kind se optrede (deur byvoorbeeld ’n boete te betaal), kry kinders die boodskap dat daar altyd ’n manier is om verantwoordelikheid te ontduik. “Reëls word dan nie ernstig opgeneem of gerespekteer nie, en gedrag kan vererger en uitloop op misdadige optrede.”
Elize voel baie sterk oor instop. As ma en as sielkundige. “’n Mens ontneem eintlik jou kind van sy kindwees as jy hom te veel bederf. As jou seun in graad 2 al ’n Playstation kry, wat gaan jy gee om hom op 14 te beïndruk? Prostitute en dwelms? Dis tyd dat ouers selfondersoek doen om vas te stel hoekom dit vir hulle so belangrik is om hul kinders te bederf en te beïndruk.”
“Ons as ouers moet besef ons is honderd persent verantwoordelik vir wat met ons kinders gebeur. Hou die leisels kort en die geld min. Al haat jou kind jou nou, gaan hy eendag vir jou dankie sê,” sê Elize.
Lees ook: Aktiewe kinders is slimmer kinders