Stiefkinders maak my lewe hel! Wenke vir stiefouers deur Anys Rossouw. Hooffoto: pexels
Jy ontmoet die man of vrou van jou drome! Hy/sy is gaaf, ondersteunend en konsidererend.
Alles werk so goed, tot sy bedorwe kinders by julle kom kuier, of intrek en jul huishouding oorneem. Jou meubels word verniel, die reëls wat nog altyd vir jou kinders geld, geld nie sy kinders nie. Hul gedrag is onaanvaarbaar, maar jy is die een wat veroordeel word, “want foeitog, hulle het al so swaar in die lewe gehad”.
Die titel “stiefma” hang skielik om jou nek.
Om stiefma te wees
“Stiefma” is ’n gelade woord wat mense van kleins af vereenselwig met iemand wat aaklig en wreed is. In sprokies verwerp en verstoot sy haar stiefkinders: Hansie en Grietjie word in die bos agtergelaat en Sneeuwitjie word vergiftig. In hersaamgestelde gesinne bring kinders meestal ’n warboel emosies, seerkry en verlieservarings saam met hulle: “Ek het op ’n manier ’n mamma of ’n pappa verloor,” of “My ouers neem besluite wat my lewe verander en ek het geen sê daarin nie.”
Die kinders moes dikwels uit ’n bekende omgewing na ’n ander huis of buurt trek. Soms bly van hul meubels, klere, speelgoed, troeteldiere of ander hartsgoed waarmee hulle grootgeword het agter. As hulle nog boonop van skool verander, verloor hulle hul maats en hul plek in groepe en sportspanne. Hulle verlang boonop na hul ander ouer en hul ou lewe en voel dikwels hartseer, kwaad, verwerp, skuldig, magteloos of uitgelewer aan situasies waarin hulle nie ’n keuse of beheer het nie.
Kinders wil meestal baie graag die verhouding met hul eie ouers bewaar. Hulle wil nie die ouer ook nog verloor nie en hulle sal liewer die ma of pa se nuwe lewensmaat vir die veranderinge en verliese verkwalik. Soveel dinge wat tuis gebeur en wat hul eie ma of pa moontlik mag doen, word onverdiend op die stiefouer geprojekteer. Die eie ouer, veral die een by wie hulle nie woon nie, word verheerlik en die stiefouer word verdoem tot alles wat sleg is. Dit maak dit vir die nuwe lewensmaat baie moeilik. Sy of hy kan meestal min doen wat reg of goed in die oë van die stiefkinders is.
Twee stiefma’s vertel
Christelle vertel hoe moeilik haar man se tiener, Johan, haar lewe maak: “Voor sy pa is hy die ene onskuld en hy sal, hoewel steeds stug, al die dinge doen wat hy gewoonlik weier om te doen en waaroor ek ontsteld raak. Vir sy pa vertel hy dat ek lelik met hom is, maar as sy pa nie by is nie, sal hy selfs weier om my te groet as ek hom by die skool oplaai. Hy antwoord nie as ek praat nie, sê nie asseblief of dankie nie. Hy sal my selfs doelbewus stamp, of in my vasloop – sonder om verskoning te vra. As ek hom vra om iets te doen, ignoreer hy my. Dis asof daar geen klank by my mond uitgekom het nie.”
“Hy doen net wat hy wil en aanvaar geen verantwoordelikheid nie. Hy vat my goed, vat kos uit die yskas sonder om te vra. Maak nie skoon nie. Los vuil skottelgoed oral, of hy verdwyn sommer net sonder om te sê waarheen hy gaan. Hy ignoreer elke reël of versoek van my kant af. Hy knou my seuntjie af en breek sy speelgoed. Ek is moedeloos. Vir sy pa sê hy ek lieg en is ongeskik met hom. ”
“My man is ook nie konsekwent nie, want hy wil so graag ’n goeie verhouding met sy seun hê – hy is bang Johan wil liewer by sy ma gaan bly. Volgens sy pa en ma is alles reg en is daar niks fout nie. Maar die skool bel my om te sê hy doen nie sy werk nie en het ’n houding. Sy pa en ma glo die fout lê by die onderwysers, die skool, iets of iemand anders … Hulle probeer so hard om sy guns te wen. Ek leef vir elke tweede naweek wanneer hy by sy ma is. Dan het ons ’n normale huis met ’n lekker atmosfeer.”
Ansie vertel hoe hard sy probeer het om goed vir haar man se kinders te wees. Hul ma was in ’n inrigting vir alkoholiste.
“Ek lees vir klein André sy gunsteling-slaaptydstories. Maak seker sy kamer is mooi, sy bed warm en dat hy lekker skoolkos het, help hom met sy huiswerk, neem hom daagliks na sy rugby, krieket, of om by sy maatjies te gaan speel. Ek was ontsteld, hartseer en teleurgesteld om te hoor hoe hy in sy kamer vir sy eie ma vertel dat ek kwaai en aaklig is. En dit ná alles wat ek vir hom doen – goed wat sy eie ma nie eens sou doen nie. ’n Terapeut moes my help om te besef dat dit nie oor mý gaan nie: dis maar net ’n hartseer seuntjie wat sy mamma mis. En dat sy hom boonop teen my opmaak en hy juis dié dinge sê om haar goedkeuring te kry.”
Moeilike situasies waarin stiefouers hulself bevind
Stiefouers voel dikwels erg gefrustreerd en soos vreemdelinge in hul eie huis, en asof niks wat hulle doen goed genoeg is, of gewaardeer word nie. Wanneer hul frustrasie op ’n dag oorneem, doen of sê hulle dikwels dinge wat kon bly en waaroor hulle later spyt is en hulle sleg oor hulself laat voel. Op die ou end gee hulle uit selfregverdiging vir die kind die skuld – wat natuurlik geensins tot enige oplossing bydra nie.
Daar is groot fout as ’n kind in dié omstandighede tussen sy ouers moet kies. Of as ’n ouer tussen sy kind of sy lewensmaat moet kies. ’n Mens moet altyd albei kan kies. Ouers moet leer om situasies so te bestuur dat verhoudings nooit tot op daardie punt kom nie.
As jy in ’n verhouding is met iemand wat kinders het, moet jy kans sien vir die hele verwikkelde en ingewikkelde pakkie. Wanneer jy en jou maat ernstig oor mekaar is en julle aan mekaar wil verbind, moet julle besef dat jul onderskeie kinders altyd deel van die verbintenis gaan wees en dat jy hulle óók kies.
Dis baie belangrik dat ouers vooraf die potensiële haakplekke en huisreëls sal bespreek. Albei moet besef dat aanpassings nodig sal wees en ooreenkom hoe om dit te hanteer sodat almal se behoeftes en persoonlikhede in ag geneem word. Dis ook beter as dit kan gebeur voordat die ouers saam intrek. Die kinders kan ook betrek word, afhangende van hul ouderdomme. Hulle moet die geleentheid kry om hul bekommernisse en behoeftes te bespreek en hul eie emosies te verwerk.
Dis vir ouers maklik om hul eie kinders se behoeftes bo hul eie te stel maar dis baie meer gekompliseerd om dit vir iemand anders se kinders te doen, veral as die kinders juis dinge vir jou moeiliker maak. Dis nie maklik om deurentyd te probeer onthou dat die situasie nie die kind se keuse is nie, dat sy nie gevra of beplan het om ’n uitwerking op jou lewe en roetine te hê nie.
Daarom is dit van die uiterste belang om nie jou frustrasies uit te haal op ’n kind wat boonop emosioneel swaarkry nie. Die enigste werkbare oplossing is om die volwassene in die situasie te wees en om alles in jou vermoë te doen om ’n goeie verhouding met jou maat se kinders op te bou.
Die kind sal onwillekeurig die nuwe “ouer” se optrede met dié van sy eie ouer vergelyk: “My ma het my dit toegelaat,” of “By my ma kan ek later gaan slaap.”
Kinders maak ook verkeerde aannames: “Jy raas met my, of dissiplineer my, of weier my versoek omdat ek nie jou eie kind is nie.” Intussen is die teendeel die ware motief, want jy sou waarskynlik presies dieselfde met jou eie kinders gedoen het. Dit sal tyd, geduld, baie liefde en positiewe ervarings verg om dié soort aannames en persepsies te verander sodat hulle die teendeel sal glo.
Jaloesie is een van die grootste redes waarom ’n negatiewe konnotasie van die stiefmoeder-stiefkind-verhouding voortleef. Wanneer ouers skei, het kinders aanvanklik elke ouer net vir hulself. Wanneer die ouer ’n nuwe lewensmaat kry, moet hulle daardie ouer en die tyd saam met hom of haar met die nuwe maat deel. Dis dikwels nog ’n verlieservaring vir sowel die kind as die stiefouer, wat ook aanvanklik meer alleentyd met die nuwe maat gehad het.
Die beste kans om ’n goeie verhouding met stiefkinders te hê is wanneer alle partye die breuk met die vorige verhouding van die ouers verwerk het. Dit stel albei stelle ouers in staat om aan te beweeg maar ook te besef dat dit noodsaaklik is dat die kinders goeie verhoudings met albei hul biologiese ouers het.
Aan die ander kant is dit ewe belangrik dat hulle ’n goeie, liefdevolle verhouding met hul stiefouers ontwikkel. Dit gee kinders die ruimte om gelukkig te wees. Dis baie moeilik wanneer kinders voortdurend aan negatiewe opmerkings oor enige ouer blootge-stel word en voel hulle moet tussen ouers kies, of nie die vryheid ervaar om van hul stiefouers te mag hou nie.
As ’n mens verander, gebeur die interessantste dinge omdat ander mense en hul interaksie met jou ook verander! Verander jou aanslag met jou stiefkind en jy sal nie glo wat moontlik kan wees nie.
Bou ’n goeie verhouding met jou maat se kinders
- Laat hulle tuis in jul huis voel. Hul ervaring van normaliteit moet herstel word. Hulle moet hul eie kamer, plekkie en goed wat vir hulle spesiaal is, soos troeteldiere, speelgoed en eie rituele hê. Betrek hulle by die inrig en keuse daarvan sodat hulle ’n gevoel van beheer in hul nuwe lewe kan kry.
- Wees realisties oor jou verwagtinge. Gee hulle kans om oor hul verlieservaring te rou, aan te pas en ’n verhouding met jou te bou. Moenie druk op hulle uitoefen nie – respekteer hul eie tempo. ’n Mens verwerk nie oornag trauma nie en bou nie oornag goeie verhoudings nie. ’n Sielkundige of berader kan baie help om die die proses te vergemaklik sodat kinders en ouers deur hul emosies en die aanpassing kan werk en perspektief behou.
- Praat altyd met respek met die kinders en van hul eie ouers en moedig ’n goeie verhouding met hul eie ouer aan.
- Moenie probeer om hul ander ouer se rol oor te neem nie. Hulle het steeds ’n mamma of ’n pappa. Moenie aandring daarop dat hulle jou Mamma of Pappa noem nie.
- Wees bewus van jou eie emosies en hanteer dit konstruktief.
- Volwassenes moet hul probleme met mekaar uitwerk en nie die kind in die middel plaas nie. Praat met jou huweliksmaat en met die eks oor die kind se gedrag en kom saam ooreen hoe om dit te hanteer. Kinders het voorspelbaarheid en konsekwente grense nodig: “In ons huis werk dit so.”
- Sorg vir lekker, nabye en sinvolle alleentyd en prettige saamdoen-dinge met jou kind, jou stiefkind en lewensmaat. Tye vir naby-gesprekke en die bou van herinneringe en verhoudings. Dis belangrik dat die alleentye selde vir die bespreking van verhoudingsprobleme gebruik word, anders gaan kinders en ouers dit juis vermy.
- Hanteer stiefkinders as familie en nie as gaste in jou huis nie. Gee hulle klein takies én die voorregte van eie kinders. Hulle moet deel van die huishouding voel, hul wense kan uitspreek en gehoor word.
- Hou ’n joernaal, maar probeer dit werklik uit jou stiefkind se perspektief skryf: Hoe was haar dag? Wat het sy in jou huis belewe? Dit help jou met die ontwikkeling van perspektief en deernis.
- Stel belang in hul lewe en raak by hul aktiwiteite betrokke. Gaan kyk na hul sportbyeenkomste, luister na hul musiek, hul menings. Laat hul vriende welkom voel by julle huis. Probeer die dinge waarvan hulle hou, saam te doen.
- Skep weekliks minstens een geleentheid (naas kerk toe gaan, of inkopies) waar die hele nuwe, saamgestelde gesin dinge saamdoen: vakansie en ontspanningsaktiwiteite, uitstappies, bordspeletjies … Laat hulle aanvanklik ’n maat bring as hulle weerstand teen die idee het. Skep herinneringe en neem foto’s.
- Laat hulle ook soms op jou foon se profielfoto pryk.
- Maak datums en tye soos verjaarsdae vir hulle spesiaal.
- Fokus op iets positiefs wat hulle doen, of op ’n positiewe karaktereienskap. Vertel voor hulle vir ander hoe trots jy daarop is, of hoe jy dit waardeer. Almal het ’n behoefte aan erkenning en aanvaarding.
- Laat die biologiese ouer met sy of haar eie kinders praat en voorstelle kry vir wat gedoen kan word om dinge in die gesin beter te maak. Gee eers die kinders kans om sê wat hulle voel en dink: Hoe sal ons weet dinge in ons gesin werk goed vir almal? Hoe sal ons weet dit werk nie? Wat moet ons / jy doen om dinge makliker te maak sodat ons almal gelukkig kan wees?
Onthou hierdie belangrike punt
Die belangrikste ding wat kinders in ’n hersaamgestelde gesin nodig het, is ouers wat met volwassenheid, begrip en respek optree. Aanvaar en verwag dat dinge nie altyd maklik gaan wees nie. Fokus liewer daarop om maniere te bedink hoe ons as gesin dinge vir mekaar beter kan maak sodat almal aanvaar, gelukkig, tuis en geliefd kan voel. Maak seker dat jou optrede, gesigsuitdrukkings, woorde en gedagtes dié doel dien.
Anys Rossouw is ’n opvoedkundige sielkundige in Menlopark, Pretoria.
Lees ook: Jy kan jou kind swaarkry help verwerk