Hy hardloop oor die gras rivier toe. Jama agterna. Hy gee nie om of hy nog sy nagklere aanhet nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Hulle hardloop af met die rivierpad. Verby die rietbos met sy nuwe groen lote. Uitasem gaan sit hy by die rotse by die gruisgat. Jama kom lek aan sy gesig. Dan gaan sit hy regop langs Amo.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Amo vee die sweet en trane van sy gesig af. Sy oë brand. Hy haat dit as jy tjank. Hy is nou te groot om te tjank. Hy het in hierdie graad sewe jaar te veel getjank.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Hy is skielik nie meer lus om na Ventersdrif Hoërskool te gaan nie. Hy wil nie hê Janus moet een van sy onnies wees nie. Miskien moet hy na die Engelse hoërskool gaan waar Mamoeks skoolhou?
Sy kop maal lank oor sy ma en Janus wat wil trou. Dit gaan alles verander, maak hy homself wys. Sê nou sy ma raak liewer vir Janus as vir hom? Sê nou sy ma en Janus kry ’n ander kind? Janus moet sy ma uitlos! Dit is sy ma!
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Hy stap terug tot by die watertoring. Die toring se leertjie klim hoog op in die lug. Toe hy klein was, het hy geglo hy kan saam met sy pa tot in die wolke klim. Tot verby die wolke tot by die sterre.
Hy neem hom voor dat hy nooit sal toelaat dat Janus die watertoring uitklim nie. Die watertoring is sy pa se plek.
Vandag is die dag wat ek weer die watertoring uitklim, besluit hy. Hy is kwaad vir Mamoeks. As hy hom vrek val, kan sy maar met Janus trou.
Amo het nog nooit die treetjies van die dun metaalleertjie teen die watertoring op getel nie. Hy sal nog eendag, besluit hy. Vandag wil hy net klim.
Mamoeks was woedend toe sy pa hom die eerste keer saam hom teen die toring laat uitklim het. “Jy is ’n uiters onverantwoordelike pa, Amos!” het sy gegil. Amo het nie daarvan gehou as sy ma so met sy pa praat nie. Sy pa het dinge met hom gedoen wat ander pa’s nooit sou doen nie. Lekker avonture. Vanaf die platform op die watertoring het sy pa hom elke moontlike sterrekonstellasie in die hemelruim bokant hulle plaas geleer. Sy pa het vir hom legendes en stories vertel. Teorieë verduidelik, gedigte voorgelees en saam hom op fantasievlugte gegaan.
“Jy moet nooit toelaat dat die wêreld jou in ’n boksie probeer indruk nie, Amo.” Die wêreld was te klein vir sy pa. “Dis hoekom ek so lief is vir die ruimte, Amo. Deur my teleskoop se lens kan ek reis waar ek wil. Plekke waar die mens nog nooit was nie. Daar tussen die sterre, kan mens drome vang. Jy moet net weet waarvoor om te kyk. Onthou altyd die storie van die Stervanger, sal jy?”
Amo wil nie altyd daaraan dink nie, maar sy ma en pa het partykeer baie baklei. “Amos, dis nou tyd om groot te word. Jy het nou ’n kind.” Mamoeks was lief vir sy pa, maar sy het gevoel hy moet rigting kry. Pa het die plaas geërf. Dit was eens ’n spog saaiplaas, maar Pa het van die landerye laat toegroei en groot dele van die plaas verhuur. “Terug na die natuur,” het hy aangekondig as die boere van die omgewing vrae vra. Hy het sy werk as navorser by die Noordwes-Universiteit verkies. Hy kon baie van sy werk op die plaas doen. Sy pa het plantkunde gedoseer en impakstudies oor die invloed van besoedeling op die Vaalrivier-gebied gedoen. Maar die astronomie was sy passie. Mamoeks was darem trots daarop dat sy pa as een van die groot sterrekenners in die land bekend was. So het hulle na sy pa se dood in die koerante geskryf. “Jou pa het nie ryk geword uit sy kennis nie, maar dit was sy passie,” het Mamoeks een keer gesê.
Amo se hande sweet teen die relings van die smal geroeste leertjie. Hy is nie bang nie. Al klim hy dié keer sonder sy pa. Met ’n pa soos syne kon mens nie hoogtevrees gehad het nie. Bome, berge, die watertoring. Sy pa was lief vir klim. Hoe hoër hoe beter.
Die wind waai liggies. Ver af met die rivier hoor hy die visarend roep. Met elke treetjie kan hy verder oor die Koepel-gebied sien. Hy kyk ondertoe. Jama sit geduldig onder en wag. Die planke op die platform raak al effens verweerd, sien Amo. Seker van al die baie reën. Hy probeer onthou hoe lank is dit sedert sy pa die platform die laaste keer versterk het. Sy pa is al drie jaar dood.
“Waaraan is jou pa dood?” het Jessie een keer gevra. “Aan sy hart,” kon Amo met alle eerlikheid antwoord want Mamoeks sê altyd Pa is dood aan ’n gebroke hart. Hy het sy ma al uitgevra oor hoe dit gekom het dat sy pa se hart gebreek is en al hoe Mamoeks dit kon verduidelik, was dat party mense met ‘n gebreekte hart gebore word. Mens noem dit depressive, het sy gesê.
“Jy moet nooit dink jou pa was ‘n swakkeling omdat hy nie meer van die lewe gehou het nie, Amo. Vir party mense is dit net moeiliker om al die dinge van die lewe te hanteer.” Amo het al gehoor sy ma sê vir sy ouma: “Amos was te sensitief vir hierdie wêreld. Partykeer dink ek dit is oor hy so super slim was. Hy het anders na dinge gekyk.”
Amo het sy ma al baie gevra of depressie aansteeklik kan wees. Sy ma het verduidelik hoe bipolêre depressie werk. Sy het vertel van die wipplank van sy pa se emosies. Partykeer was sy pa baie bly oor die lewe. Ander kere baie hartseer. Sy pa het selde emosies in die middel gehad. Of bo, of onder. Ekstreme.
“Daar was ’n chemiese wanbalans in Pappa se brein.” Sy ma het verduidelik dat mens pille daarvoor kan gebruik, maar dat sy pa soms so verdiep geraak het in sy werk dat hy van die pille vergeet het. Dan het sy pa baie moeg vir die lewe geraak.
Amo weet dat al was Mamoeks partykeer baie kwaad vir sy pa, het sy baie gehuil na sy dood. “Ek was bitter baie lief vir jou pa, jy moet dit altyd onthou. Jou pa was ’n baie spesiale mens. Te slim en te sensitief vir hierdie wêreld.” So het Mamoeks na sy pa se roudiens vir hom gesê. Nou wonder hy of sy ma net so “bitter lief” vir Janus is. Dit sal nie regverdig wees nie. Sy ma het sy pa eerste liefgehad.
Amo trek sy knieë op tot onder sy ken. Die wind waai sterk hier op die platvorm. Dit gaan seker weer reën, dink hy. Hy is nie bang die wind sal hom af waai nie.
Hy vryf met sy hand oor die plek waar sy pa hulle name met sy knipmes uitgekerf het: Amos en Amo 2010. Dit was die jaar toe sy pa die klein platform vir die teleskoop gebou het.
Onder hom kronkel die Vaalrivier blou deur die groen valleie. Skuins bokant hom sirkel ’n valk. Hy het seker ’n muis in die rietbos in die oog, dink Amo. Hy wonder wat sy pa sit en dink het as hy hier bo kom sit het. Hy het ure aaneen in die dag hier gesit. En partykeer die hele nag lank saam met sy teleskoop op die toring deurgebring.
Hy wonder wat sy pa daardie dag van sy dood gedink het.
Hy het homself al wysgemaak die wind het seker sterk gewaai. Baie sterk. So ’n sterk wind kan mens maklik af waai. Kon dit die wind wees?
Hier op die platform het sy pa hom vertel van die tent wat hy nog eendag in die melkweg gaan opslaan. “Daar was een keer ’n ou wat daaroor in ’n liedjie gesing het. Sy naam was Koos du Plessis. Daardie ou het die lewe verstaan. Hy het geweet ’n mens sal gelukkig kan wees in so ’n tentjie,” so het sy pa vertel. Toe speel sy pa een keer vir hom Koos du Plessis se liedjie. Dit is ’n baie hartseer liedjie.
Jama begin blaf en sirkels om die pilare van die toring hardloop. Na ’n rukkie sien Amo wat hom pla. Dis daardie simpel Kurt-hulle. Hulle kom met die rivierpaadjie afgeloop.
Amo hoop nie Kurt-hulle sien hom hier bo nie. As Mamoeks hoor hy het die toring uitgeklim, sal sy dit laat afbreek. Sy het hom laat belowe hy sal nooit ooit weer hier opklim nie, maar vandag het hy dit nodig gehad. Hy wou nader aan sy pa voel. Hier bo kan hy sy pa se lyf teen hom voel.
’n Harde fluit onderbreek sy gedagtes. Ffuitttttt!
“Wat maak jy daar bo, Breins?”
“Los my uit!” gil Amo ondertoe.
“Kan ons opklim?” Jaco staan nou by die onderkant van die leertjie.
“Dis gevaarlik! Julle gaan julle dood val!” Amo begin bewe. Hy voel vasgekeer. As een van hulle val, sal Mamoeks beslis die toring laat afbreek.
“Asseblief, bly daar onder, ek klim af!” Amo begin bewerig die trappies afklim. Hy weet hy moet nou konsentreer soos nog nooit in sy lewe nie. Sy pa het hom dit geleer. “Amo, jy moet konsentreer as jy die leertjie klim. Maak seker jy voel elke trappie onder jou voet voor jy die volgende voet beweeg. Los eers die een hand. Dan die ander. Luister jy, Amo? Jy moet dit nooit vergeet nie.”
Jama blaf nou verwoed onder die toring. Amo wil nie afkyk nie, maar hy is seker iemand probeer opklim.
“Asseblief julle! Ek kom af! Moenie opklim nie! Ek smeek julle!”
Amo voel die trane agter sy oë brand. “Konsentreer, Amo, jy moet konsentreer,” hoor hy sy pa se stem hier naby hom. Sy hande sweet om die relings. Eers die een voet, dan die ander, die een voet, dan die ander. Hy voel die wind waai sterker. Onder blaf Jama onopoudend. Amo voel sy lyf bewe. Hy mag nie bewe nie, dan gaan hy sy konsentrasie verloor. “Bly nou kalm, Amo, haal diep asem.” Sy pa se stem is so sag soos die wind.
’n Klip tref hom teen die rug. Ver onder hom hoor hy iemand lag.
“Wag nou ouens! Netnou val hy!” Amo is nie seker wie se stem dit is nie. Hy dink dis Jaco.
Nog ’n klip tref hom. Dit pyn laat sy bene bewe. Die damwal agter sy oë bars.
“Asseblief! Asseblief! Los my! Ek gaan val!”
“Tjankbalie!” Wie se stem is dit? Hy weet nie meer nie.
“Los hom nou julle ouens. Hy kan hom dood val!”
Is dit Jaco? Iemand lag weer. ’n Klip tref hom teen die been, hy trap mis sy voete gly.
“Hou vas soos nog nooit in jou lewe nie, Amo. Hou vas! Ek kom!” Hy is nie seker of dit sy pa se stem is nie. Sy bene trap paniekbevange in die lug rond. Hy hoor gille, maar weet nie of dit sy eie is nie. “Konsentreer, Amo, konsentreer. Moenie bang raak nie, dan gaan jy val. Raak kalm. Ek is nou daar.” Wie se stem is dit? Pa? Is jy hier? Amo voel ’n hand om sy lyf.
“Kalm nou. Ek is hier. Sit nou eers jou een voet op die trappie. Nou die ander een. Moenie bang wees nie, ek is hier. Jy sal nie val nie.”
Jama blaf verlangs. Dit voel of Amo sweef. Miskien het hy al geval en hy weet dit nie. Dalk droom hy net iemand help hom by die trappe af? Hy kan nie meer sy hande voel nie. Sy brein stuur bevele na sy voete, maar hy weet nie of sy voete dit gehoorsaam nie.
Hy voel nie meer die trappe nie. Die hande om sy lyf is weg. Hy hoor nie meer sy pa se stem nie. Dis stil om hom. Hy sweef op ’n vlieswolk deur die lug.
“Amo? Amo?” kan jy my hoor. Die stem is baie ver asof hy dit deur ‘n lang tonnel hoor. Hy hoor iemand langs hom bid. Dis nie Juffrou Alta nie. Dis Janus! Hy is seker hy droom. Hoekom sal Janus vir hom bid? Die stem kom al nader.
“Hy is nog net ’n laaitie, Here. Asseblief, spaar hom.” Janus se stem is skielik hier naby hom. Hoekom moet God hom spaar? wonder hy. Dit is dan so lekker op die wolkie hier waar hy sweef. Eers kan hy niks onder op die aarde sien nie. Dan knip hy sy oë. Hy sien die watertoring en die rivier. Hy sien Jama rondhardloop in sirkels. Daar onder hurk Janus by iemand. Dis ’n seun. Hy lê op die gras. Hy lê baie stil. Amo wonder hoekom die seun so stil lê.
Amo kan nie onthou hoe hy van die wolkie af gekom het nie. Hy word wakker op ’n hospitaalbed. Is hy dan nou by Jessie in die kliniek? Dan onthou hy Jessie bly nou by die Suiderkruis.
“Amo!” Hy hoor Mamoeks se stem. “Sy oë is oop, Janus! Hy is wakker!”
Janus praat iewers in die kamer.
Die volgende paar uur word hy ‘n paar keer wakker. Sy ma is elke keer by hom.
“Jy is in die hospitaal, Amo. Jy het van die watertoring af geval. Gelukkig was jy al meer as halfpad onder toe anders was jy dood.”
Amo probeer voel of hy nog sy tone kan beweeg. Miskien verbeel hy hom, maar hy voel hulle. Sy een arm is vasgemaak.
“Lê stil jong, jy het jou arm baie sleg gebreek en jy het kwaai harsingskudding. Jy was van gister af in en uit droomland.”
Amo sien sy ma lyk vreeslik moeg. Hy onthou hoe hy by die huis uitgestorm het in sy nagklere. Hy onthou hoe hy op die toring gesit het. Kurt-hulle was onder die toring. Hulle het hom met klippe gegooi.
“Ek is jammer ek het die toring uitgeklim, Mamoeks. Regtig jammer. Moet dit asseblief nie afbreek nie. Asseblief.”
Sy ma soen hom op die voorkop.
“Ons sal dit nie afbreek nie. Ek ken iemand wat ’n plan het om die leertjie veilig te maak. Hy sê mens kan relings om die plafon bou en dan kan jy soveel keer daar sterre kyk as wat jy wil.”
Amo wil nog vra wie die plan uitgedink het, maar eintlik vermoed hy klaar wie dit is. Janus kom staan langs Mamoeks.
“Sal jy dan saam my opklim, Janus? Of is jy te bang?”
“Ek? Nooit! Ek het nie ’n bang haar op my kop nie!”
Amo voel baie skuldig oor hy sy ma so groot laat skrik het. “Jy kan maar met Mamoeks trou, Janus. Jy hoef nie die toring reg te maak om my om te koop nie.”
Janus glimlag breed.
“Ek jou omkoop? Lyk ek soos iemand wat jou wil omkoop? Wraggies?”
“Ja, wraggies!”
Janus en Amo lag.
“Is daar iets snaaks hier wat ek nie verstaan nie,” vra Mamoeks.
“Nee ons het wraggies nie ’n idee wat so snaaks kan wees nie,” sê Janus en hulle lag so dat Amo se kop begin pyn.
Later die middag vra Mamoeks hom uit oor wat by die toring gebeur het.
“Ek was kwaad en toe gly ek. Dis al.”
“Is jy seker? Wat het Kurt-hulle daar gemaak?”
“Hoe weet julle Kurt-hulle was daar?”
“Hulle het ons by die huis kom roep. Hulle was histeries toe jy geval het.”
“O, hulle wou opklim, toe keer ek hulle. Toe val ek.”
Amo is nie seker of sy ma hom glo nie, maar hy is nie ’n klikbek nie. Hy is nie lus vir ’n hele drama met Kurt-hulle nie.
Amo is bly hy kan die volgende dag huis toe gaan. “Die dokters is tevrede dat jou brein nie meer te erg geskommel is nie,” spot Janus.
“Dis oor ’n week die graad sewe-afskeid. Ons moet nog vir jou mooi klere gaan koop.” Amo is nie so baie opgewonde oor sy ma se aankondiging nie. Hy is steeds bang hy moet langs Sanet of ’n ander meisiekind sit.
Hy is skaars ’n dag by die huis of Mamoeks kondig aan hy het ’n besoeker. Dis Kurt. Hy staan senuweeagtig in Amo se kamer rond.
“Is hierdie jou sterre-goed?” Hy wys na al die plakkate.
Amo knik net selfbewus. Maar dan skep hy moed. “En daar is my teleskoop waarvan ek jou vertel het.”
“So jy is regtig mal oor die ruimte-goed?”
“Ja, ek wil eendag nog op ’n ruimtereis gaan. Met ’n ruimtetuig.”
Kurt gee ’n selfbewuste laggie.
“Dan hoef jy nie meer met ’n crash-helmet op ’n fiets te jaag nie.”
“Jy is reg, dan gaan ek met ’n regte ruimtetuig deur die sterre jaag.”
Kurt kom staan naby sy bed.
“Dankie dat jy nie op ons gesplit het nie. Oor die ding by die toring. Ek is jammer my ou. Ek het baie gesit en dink toe jy in die hospitaal was. Ek moet my nonsens nou laat staan. Ek gaan volgende jaar by die hoërskool ’n goeie ou wees, jy sal sien.”
“Ag ou Kurt, jy is darem nie so ’n slegte ou nie.”
“Toe ek weggeloop het, het jy ook nie op my gesplit nie. Jy is ’n ware tjomma.”
Amo is nie seker of hy Kurt dié keer moet glo nie. Dit sal lekker wees as hy Kurt se Tjomma is en hy nie meer elke keer in die bus moet koes vir sy gedugte skouerstampe nie.
XXX
DIE eerste dag by die skool bloos Amo weer bloedrooi oor al die aandag. Hy hou niks daarvan nie. Sanet kom sit ’n sjokolade met ’n briefie voor hom neer. “Bly jy is ok! X” Hy staar na die X. Hy weet wat dit beteken as ’n meisie ’n X onderaan ’n briefie maak. Hy druk die briefie vinnig in sy sak.
By die busstop tussen hulle plase, vra Kurt of hy die middag saam met hulle wil kom fiets ry.
“Sure, hoe laat?”
“Check jou vieruur.”
Hy haal die middag kort-kort Sanet se briefie uit sy sak. Wat het die meisiekind besiel om vir hom ’n sjokolade voor al die ander kinders te gee? En die X? Is sy laf?
“Mamoeks? Wanneer gaan ons die graad sewe-afskeid se klere koop?”
“O? Sien jy skielik uit na die afskeid? Ek hoor julle gaan langs meisies sit?”
“Ag Ma, ek vra maar net. Is dit ok as ek en Kurt-hulle vanmiddag gaan fiets ry? Ek is mos nou ok?”
Hy sien sy ma wil eers keer. Dan spring Janus sy ma voor.
“Ek is seker jy sal ok wees!”
“Wraggies?” Hy en Janus lag weer en hulle geniet dit dat Mamoeks nie ’n idee het waaroor hulle lag nie.
Vieruur fluit Kurt onder by die voordeur. Jama blaf.
“Amo! Jou maats is hier!” roep sy ma van onder af.
Kurt, Jak en Jaco het elkeen ’n valhelm op hulle koppe.
“Toe, Breins, gaan haal joune. Ons wil nie jou breins verder skommel nie.”
“Graad sewe was ’n moeilike jaar,” vertel Amo daardie aand vir sy pa en Jessie toe hy op die Suiderkruis fokus. “Maar as ek graad sewe kon oorleef, gaan hoërskool ’n breeze wees. Bietjie hoër op van die Suiderkruis, sien hy ’n ster verskiet.
Hy hoop die Stervanger het dit ook gesien. Mens moenie drome verlore laat gaan nie.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.