Fiets
Hy wil nie kyk hoe die meisies hardloop nie. Waar hy by die skoolhek vir Mamoeks en Janus staan en wag hoor hy die aankondiging van die nuwe rekord agter Sanet Avenant se naam. Die son brand ongenadig warm en om sy irritasievlakke te verhoog, kom Kurt en Jak verbygestap.
“En toe drop jou boyfriend ons span lekker! Kon seker nie die spanning vat nie.”
Amo is nie eens lus om hom te antwoord nie. Hy stap met die sypaadjie af.
“Hey, Breins, wie ignoreer jy? Het jou lanklaas ’n paar taai klappe gegee.”
Hy voel hoe Kurt sy hemp van agter beetkry.
“Gee bietjie daai mooi groen pet!” Voor Amo kan keer, het Jak sy pa se pet.
“Gee dit terug!”
“En as ek nie wil nie?”
Amo voel lam van woede. Jak en Kurt gooi die hoed heen en weer vir mekaar en lag hulle slap as Amo dit probeer afneem.
Hy weet nie waar Janus vandaan gekom het nie, maar toe hy weer sien, het Janus Kurt aan die kraag beet. Met sy ander hand ruk hy die pet van Kurt se kop en gee dit aan Amo terug.
“Lekker om iemand te boelie wat kleiner as jy is, nê?”
Jak kies die hasepad.
“Hardloop maar boeta, ek weet hoe lyk jy. Ek wag vir julle volgende jaar by die hoërskool. Daar is lekker fris bulle wat met julle kan gesels.”
Janus druk sy vinger onder Kurt se neus.
“Seuntjie, hierdie oom trek jou stertvelle af as ek jou ooit weer sien ’n kleiner outjie boelie.”
Amo voel verneder. Trane van frustrasie loop oor sy wange. Hy wag nie om te kyk wat Janus nog met Kurt doen nie, hy stap sommer net in ’n koers. Hy klou sy pa se pet met albei hande vas.
“Amo! Kom klim in.” Agter in Janus se tweekajuit-bakkie huil hy skaamteloos. Hy huil oor Jessie wat nie vir die groot dag opgedaag het nie. Hy huil oor sy pa se pet wat hy so amper verloor het. En hy huil oor die vernedering dat Janus hom moes kom red.
Janus sê gelukkig nie ’n woord op pad plaas toe nie.
Amo staan lank onder die stort, maar hy kan nie die aaklige dag afgewas kry nie. Mamoeks het ’n kaastoebroodjie en melk langs sy bed gelos. Sy weet seker hy sal nie vanaand wil af gaan om saam met hulle te eet nie.
Nege-uur draai hy die teleskoop om die Amerikaanse satelliet te soek. Na die laaste flikkering weg is, draai hy die lens in die rigting van Jessie se huis. Net die buiteligte brand. Wat gaan daar aan? Hoekom is daar so baie blou kolle op Jessie se bene? Van gister af is dit ook op haar arms! Dit kan tog nie? Hy kan nie glo iemand sal Jessie so seermaak nie.
In die hart van die Suiderkruis soek hy na sy pa se tent. Vanaand mis hy sy pa meer as ooit.
Hy slaap onrustig. Hy droom hoe hy na Jessie in die rietbos soek. Die bos brand en die vlamme kom al nader. In die verte hoor hy Sanet en Kurt lag. Hy roep Jaco om hom te kom help, maar Jaco gaan sit en lag by die ander.
Hy skrik wakker. Hy is sopnat gesweet. Hy moet uit die warm huis kom. Hy sluip by die trappe af. Hy weet die deur tussen die kombuis en motorhuis het ’n sleutel in en hy sal Mamoeks nie wakker maak nie. Die buisligte van die motorhuis flits stadig aan. Die rakke is nog so netjies soos toe sy pa nog geleef het. Sy pa se kano en visstokke hang aan die dak. Op ’n fietsrak is drie bergfietse vasgegespe. Janus se idee om hom bietjie aktief te maak. Agter in ’n hoek staan Mamoeks se ou fiets met die mandjie voorop. Die een waarmee sy pa hom op ruimtereise geneem het. Hy glimlag as hy dink hoe vreemd die prentjie moes wees. Die man en die seuntjie met die ou motorfietsvalhelms op op ’n meisiesfiets al met die plaaspad af. As mens klein is, is dit maklik om te glo ’n ou valhelm is deel van ’n ruimtepak. Op ’n rak met ou speelgoed het Mamoeks die twee valhelms netjies langs mekaar gesit. Sy het geweet dit het spesiale herinneringe vir Amo. Amo haal die groot valhelm af. Dit was sy pa s’n. Dit pas los op sy kop. Hy gespe sy bergfiets los en maak die motorhuisdeur oop. Sy geoefende oë soek die Suiderkruis.
“Ek kom Pa, ek kom gou kuier!” Hy begin trap, eers stadig en dan vinniger en vinniger met die plaaspad af. By die grootpad draai hy links, dorp se kant toe. Op die teerpad sing die wind verby die helmet. Hy hoor hoe sy pa hom vertel verby watter planete hulle nou vlieg. “Kom ons gaan kyk hoe seegroen is Neptunus! Sal ons om die ringe van Saturnus gaan jaag? Kyk hoeveel kleure gordels het Jupiter!”
Amo jaag tot sy bene lam is. Tot hy die dorp se liggies sien. Dan draai hy om. Hy ry stadig sy pad deur die planete en sterre. Hy voel sy pa se arm styf om sy kleuterlyfie wat net-net in Mamoeks se fietsmandjie inpas. Dan hoor hy Mamoeks lag . “Amos, jy is lekker laf. Dis die vreemdste ruimtetuig wat ek nog gesien het.” Dan lag sy pa saam.