Groot dag
MET die Jessie-en-Sanet-drama afgehandel begin die verskillende spanne se gees voor die sportdag opbou. Amo is bly hy en Jessie is beide Gemsbokke. Hy is selfs bly Kurt is ’n Gemsbok want hy is ’n uitblinker met die baan-items. Dis net oor die singery wat Amo nie so opgewonde is nie. Hy haat die gegil en skree. Hy sorg dat hy heel agter op die pawiljoen sit as hulle spangees oefen. Dan kan hy sy oorfone opsit.
Hy voel ook baie meer gerus oor die voorbereiding van die vasvra-olimpiade. Die kans raak nou skraler dat hulle hulle name met ’n plank gaan slaan met Ou Wessels se vrae. Mamoeks het ’n klomp lekker vrae bymekaargemaak en vanmiddag gaan Jessie se ma hulle help.
Jessie-hulle se huis lyk vir Amo soos ’n prentjie uit ’n ander land. Amo stel hom voor Turkse of Egiptiese huise lyk so. Daar is min stoele. Oral op die vloer is Persiese tapyte met groot helder kussings waarin mens kan wegsink. Jessie noem haar ma Annushka of sommer net Annie.
Amo voel nogal tuis in Annie se studio want teen die mure is talle sterrekonstellasies opgeplak. Annie gooi vir hulle ystee in voor hulle begin werk.
Sy is vir Amo die fynste mensie wat hy nog gesien het. Sy lyk soos ’n elfie met haar kort krulhare en spitsoortjies. Amo kan sien waar Jessie haar wipneus en rooi hare gekry het, maar verder lyk sy glad nie soos haar ma nie. Dis eers as Jessie se pa van sy daaglikse roei-sessie af kom, wat Amo kan sien waar Jessie haar atletiese bou vandaan gekry het.
“Toe, is julle Gemsbokke reg vir more?” vra Gerald, soos Jessie haar pa noem.
“Annie moet nog vir my ’n groen lint aan my atletiekhempie vaswerk,” mor Jessie.
“O, is julle die groen Gemsbokke? Ek dog Springbokke is groen? Moet ek more al my groen klere aantrek om my meisiekind te gaan ondersteun?”
Jessie boks haar pa speels in die maag.
“As jy daardie hemp met die groen palmtakke op aantrek, maak ek of ek jou nie ken nie.”
Amo is vreemd verlig as hy huis toe stap. Jessie se ma en pa is cool. Daar is niks verkeerd by haar huis nie. Hy wonder of hy Juffrou Alta moet gaan sê dat sy haar nie oor Jessie se blou kolle hoef te bekommer nie. Hy dink nie haar ouers slaan haar nie.
Mamoeks en Janus sit op die stoep en wyn drink. Amo voel, so gelukkig dat hy selfs vir ’n paar van Janus se grappies lag.
“Ek dink ons moet dalk tog vir Gerald en Annushka vir ete nooi. Hulle is regtig gawe mense.”
“Gerald en Annushka nogal? Is dit hoe jy hulle noem?” spot Mamoeks.
“Ag Ma, hulle is sulke soort mense, Ma weet?”
“Jy bedoel anders as ek en Janus? Is ons dan vervelig?”
Amo gooi sy hande gefrustreerd in die lug op.
“Ek dink net dis ’n goeie idee om hulle te nooi. Dis al.”
Vir die eerste keer in sy laerskoolloopbaan sien Amo uit na die sportdag by die skool. Die sportdag is ’n groot gebeurtenis op Ventersdrif. Hy kan nie wag om te sien hoe Jessie met die 200m en 100m die ander spanne se meisies klop nie.
Hy kyk na sy satelliet-aantekeninge en soek met sy teleskoop na die Amerikaanse satelliet wat hy vermoed nege-uur verby gaan kom. Geduldig fynkam hy die hemelruim. Daarsy! Deur die lens volg hy die satelliet tot die stippel verdwyn. Dan skuif hy die lens oudergewoonte na die Suiderkruis. “More gaan die Gemsbokke wen, Pa sal sien.”
MAMOEKS maak hom vroeg wakker.
“Ek wil nog ’n draai by die groentemark maak voor ons jou by die skool gaan aflaai. Watter hemp gaan jy aantrek? Dit moet mos iets groen wees?”
Amo het skoon vergeet van die groen hemp wat hy moet dra. Hy grawe desperaat in sy kas rond.
“Ma! Mamma Moeks! Hiers niks groen nie!”
Sy ma kom in die gang af met ’n groen bofbalpet. Dit was sy pa s’n.
“Moet dit nou net nie gaan verloor nie, ek is jammer vir die hoed. Jou pa het dit gedra toe ons die Visriviervallei-staproete in Namibië gaan stap het. Kyk, hier het hy die wapentjie vasgewerk. ’n Hele 97 km! Ek moes my byna dood dra aan al ons goed want jou pa moes sy teleskoop mos oral saam dra. Maar dit was die moeite werd. Dit voel of die sterre byna teenaan die aarde sit as jy onder in daardie vallei sit. Eendag vat ek jou soontoe.”
Janus blaas die toeter voor die deur. Dit irriteer Amo as hy dit doen. Dis bietjie ongeskik, voel Amo, maar vanoggend gaan niks sy bui laat plat val nie. Hy het sy pa se groen pet op en vandag vat die Gemsbokke die beker.
Die sportveld is ’n malende massa kinders in blou, groen en geel. Die reuk van pannekoek en warmbrakke hang oor Brandwag. Snorre maak nou en dan ’n amptelike aankondiging in sy vernaamste stem.
Amo sien Jessie nêrens nie. Die kleiner ouderdomsgroepe het al begin hardloop. Waar bly die meisiekind? Hy word benouder hoe hoër die son opskuif. Dis nou al die graad drie’s wat hardloop. Hy probeer haar WhatsApp, maar sy is nie aan lyn nie. Haar foon gaan dadelik oor na die boodskapsein as hy bel.
Johnny Bravo keer hom later voor en vra of hy Jessie gesien het. Die skote klap vir die graad sesse en die graad sewe’s word oor die interkom nader geroep.
Esmé kom vra ook waar Jessie is. Asof sy regtig omgee. Amo weet Sanet het haar gestuur. Sanet sit onder ’n groot sambreel en haar ma en maats kloek steeds soos henne om haar. Amo sien sy dra nie meer die verband nie, maar sy sit soos ’n prinses op ’n troon met ’n hengse strik in haar hare.
“Jessie van Vuuren moet asseblief dadelik na die wegspringplek gaan. Jessie van Vuuren.”
Amo kan sweer hy hoor die kommer selfs in Snorre se stem.
Amo sien Sanet se ma met Johnny Bravo praat. Sy mond hang skoon oop as hy sien hoe Sanet opstaan en na die wegspringplek draf. Geen teken van pyn nie.
Snorre se stem oor die interkom bevestig Amo se vrese: “Sanet Avenant sal vir die Gemsbokke aan die 100m en 200m deelneem in die plek van Jessie van Vuuren wat onttrek het. Sanet is vroeër die week beseer, maar is dapper genoeg om haar span te verteenwoordig.”
Amo voel hy kan sommer naar word so dik Snorre Sanet se dapperheid aan. Hy dink seker net aan die ruim skenkings wat Sanet se pa gereeld aan die skool maak. En Jessie het nie onttrek nie, sy is weg!