Buddy
Mamoeks roep van onder af: “Amo, hier is ’n besoeker vir jou!” Jessie het haar klaar in die kombuis ingewurm. Sy en haar hond.
“Jessie wil opstap na die watertoring en rietbos. Stap saam met haar.”
Amo kan nie glo dat sy ma wil hê hy moet die meisiekind na een van sy heiligste plekke op aarde neem nie. Netnou wil sy die toring uitklim. Die leë plafon op die stellasie langs die watertenk was sy pa se gunsteling plek. Hy en sy pa het saam ’n nuwe platform gebou vir hulle teleskope. Maar nou is dit verbode om die toring uit te klim. Mamoeks het hom verbied.
Sy haat die toring na sy pa se dood. Sy wou dit al laat afbreek, maar sy weet dit sal Amo se hart breek as sy dit doen.
Amo voel effe stuurs, maar stap voor in die paadjie. Jessie se Labrador kom skuur partykeer by hom verby en gaan swem dan ’n draai in die rivier.
“Ons het in die Kaap ook langs ’n rivier gebly. Jama is mal oor water. Dit is hoekom my pa die plaas langs die rivier gekies het. Vir hom en Jama. My pa roei elke dag.”
Amo skop ’n paar los klippe uit sy pad. Hy is nie lus om Jessie watertoring toe te neem nie. Dis sy plek. Wat soek sy hier?
“Ons kan die watertoring van ons boonste balkon sien. Toe wonder ek hoe dit van naby lyk.”
“Dis gevaarlik. Jy mag dit nie uitklim nie, gehoor? My oupa se pa het dit nog gebou.”
Amo hoop hy sal haar afskrik.
“Het jy al tot bo geklim?”
Amo weet hy is vas. Lieg is sy swakste vaardigheid. Hy word bloedrooi as hy lieg.
“Ja, ek het al.”
“Baie keer?”
Amo wens die meisiekind wil nou ophou.
“Dis gevaarlik.”
“Ek is nie bang nie.”
“Jy kan jou dood val. Los dit liewer.”
Amo gooi ’n paar plat klippies in die rivier. Hy wens Jessie wil nou die toring uitlos.
“Hey, Jessie, kan jy ’n klippie laat hop op die water?”
Miskien trek dit haar aandag af. Nes hy verwag het, kan sy ’n klip vier keer laat hop. Ellendige meisiekind.
“Watse ding is daar bo-op die toring se platform gebou?”
“Sommer net iets.”
“Waste iets?”
“My pa het dit gebou vir ons teleskope.”
“O, klim jou pa die toring gereeld uit?”
“Hy is dood.”
“Jimmel, jammer hoor.”
“Dis ok.”
“Hoe hoog is dit? Ek het nog nooit so ’n steil leer gesien nie.”
Jessie skop-skop met haar Convers teen die los klippe.
“Toe ek klein was, het ek geglo die leer gaan tot by die sterre.”
Hy is dadelik spyt hy het dit vir Jessie vertel. Netnou dink sy hy is simpel.
“Ek en my pa het al op daardie vreeslike wipkar by Ratanga Junction in die Kaap gery. Ek is mal oor spoed en hoogtes.”
“Jessie, los asseblief die toring, dis gevaarlik. Kom ons gaan nou, ek het baie huiswerk.”
Amo voel hy word rooi. Sy is in sy klas en hulle het nie huiswerk nie. “Ek het iets om te doen,” maak hy verskoning.
Hulle stap ’n rukkie in stilte al langs die rivier tot by die klipbanke.
Amo voel skuldig oor hy so kortaf was.
“Dink jy jy sal more die ander kan wen met die vasvra?”
“Is hulle goed?”
“Hulle is ok.”
“Wel, ek is baie goed. My brein is soos ’n spons, sê my pa. Net jammer ek onthou soms net die onbenullige goed en vergeet die belangrike goed soos regte huiswerk.”
Amo weet sy spot met hom. Dalk is sy nie so sleg nie … Vir ’n meisiekind.
Jessie gooi stokke tot diep in die rivier. Jama duik in en bring dit elke keer terug.
“Gaan jy nie jou maats van die Kaap mis nie?”
Jessie lag.
“Het jy my nie by die skool in aksie gesien nie? Ek is nie die maatjie-tipe nie. Ek hou van weirdo’s. Soos jy.”
Amo kyk verstom na haar.
“Hoe bedoel jy ek is ’n weirdo?”
“Ag, mens kan dit op ’n duisend kilometer ver sien! Maar moenie worry nie, dis ok.”
Amo is nie so seker of dit ’n kompliment is nie.
“Weet jy wanneer het ek besef jy is ok, Amo? Toe jy die verskil tussen planete en sterre geken het. Daai juffrou is so slim soos ’n witbrood. Sy dink sowaar die maan is ’n planeet, ek wed jou.”
“Jy het Ou Wessels nogal ontsenu. Ek wonder wie die vrae vir more gaan opstel. Hopelik nie sy nie. Ek dink nie algemene kennis is haar strek punt nie.”
“Daai blonde onnie met die spykerhare, is hulle saam?”
“Johnny Bravo? Ek dink so.”
“Nogal ’n skerp naam vir hom, Johnny Bravo. Hy lyk nogal so. Hou jy van cartoons?”
“Net van party. Ek kyk nie eintlik TV nie. Ek kyk sterre met my teleskoop.”
“Dan sal jy en my ma lekker kan gesels. Sy bestudeer astrologie.”
“Dis nie heeltemal dieselfde nie.”
“Ag man, natuurlik ken ek die verskil tussen astrologie en astronomie, maar daar is darem raakpunte.”
“Soortvan. Ek bestudeer die sterre self en jou ma kyk hoe hulle mense se lewens beïnvloed. Of so iets?”
“Ja, whatever.”
Amo kan nie help om vir Jessie se gesigte en gebare te lag nie. Haar hande en elke spier in haar gesig praat saam met haar mond.
Jama begin blaf. Aan die agterkant van die rietbos trek ’n rokie. Amo weet wat dit beteken.
“Kom ons draai om.”
“Hoekom? Ek wil gaan kyk wie daar vuur maak. Dis mos nog op julle grond?”
“Ek weet, maar kom ons draai om. Kom nou.”
Jama hardloop vooruit en staan by die rietbos en blaf. Kurt en Jak kom om die draai. Jaco kort op hul hakke.
“O, dis Amo en sy nuwe girl! Wag, help my bietjie reg? Is jy nou of is jy nie ’n meisie nie?”
Kurt het ’n halfgerookte sigaret in sy hand. Hy vat manhaftig ’n trek daaraan en skiet dit in die rivier.
Jama knor en blaf en hardloop draaie om Kurt en Jak. Hy wys sy tande as Kurt voor Jessie kom staan. Jessie is byna net so lank soos hy. Dit moet vir Kurt vreemd wees om nie af te kyk na iemand nie, dink Amo by homself. Maar hy wens Jessie wil liewer saam hom omdraai en huis toe gaan.
Die rook borrel skielik woes uit die rietbos. Amo hardloop nader.
“Kurt, my ma het mos gesê julle mag nie hier vuur maak nie. Julle sal die bos aan die brand steek! Jaco, kom help my die vuur doodmaak voor die bos vlam vat. Is julle dan stupid? As die bos brand, kan julle binne-in vasgekeer raak!”
Jaco help Amo sand op die vuur gooi, maar Kurt stamp Amo onderstebo.
“Dis my vuur! Wie gee jou die reg?”
Amo bereik die punt van woede wat hy nie graag bereik nie. Die punt waarop hy Kurt teen sy beterwete bestorm. Gewoonlik neem die geveg daarna net ’n rukkie voor Kurt hom op die grond vaspen.
Maar vandag verloop dinge anders. Kurt maak hom nog so sit op Amo se maag, gereed om hom in die gesig te slaan, toe tref ’n haakhou hom van die kant. Hy rol slap eenkant toe en hou sy oog vas. Jak en Jaco staan versteend en toekyk. Nog voor Kurt kan regop kom, tref die tweede hou hom. Hy lê in ’n bondel en kerm. Sy trawante staan verder tru.
“Kom, Amo, kom ons gaan huis toe,” sê Jessie kalm.
Amo en Jama loop in stilte agter Jessie aan. Na ’n ruk breek Amo die stilte.
“Jy hoef my nie te help fight nie. Ek kan vir myself sorg.”
“Ek het nie vir jou baklei nie, hy het my ’n seun genoem. Ek sal hom wys hoe ’n meisie sy ore warm klap.”
Amo kan nie help om te lag nie. Dit is die eerste keer waarvan hy weet dat Kurt ’n geveg verloor. En dit teen ’n meisiekind!
“Dié keer is dit ok dat jy inmeng met my fight, maar volgende keer los jy my dat ek hom self opdons.”
Jessie lag en gee Amo ’n hou teen die arm.
“Ag ok man, ek het gesien jy is besig om hom te wen, toe steel ek jou oomblik van glorie.”
Amo beduie woes met die vuiste wat hy volgende keer als met Kurt gaan doen en Jessie rol op die gras soos sy lag.
“Ek en Jama beter dan seker huis toe gaan want ons maak seker nou inbraak op jou gimnasium-tyd. Ek kan hoor hoe jou gewigte jou roep!”
Jama hardloop vooruit en groet Mamoeks op die stoep.
“Ek was bekommerd, ek het rook by die rietbos gesien. Ek wou Jakob-hulle net met die brandweer-treiler stuur toe sien ek die vuur is geblus. Was dit weer Kurt-hulle?”
“Als ok daar Mamoeks. Ek en Jaco het die vuur met sand geblus.”
“Ek sal weer met Kurt se pa moet praat. Ek sien nie kans dat die rietbos afbrand nie. Die eende en vinke maak daar nes. Dis buitendien gevaarlik.”
Amo keer vinnig.
“Ag Ma, los Kurt se pa. Hulle sal nie weer daar vuur maak nie. Jaco het belowe.”
Voor sy groet vra Jessie Amo hoekom hy keer dat sy ma Kurt se pa bel.
“Kurt was woedend die vorige keer toe my ma gebel het. Kurt het my disnis geslaan by die skool. Jaco het my vertel dis oor Kurt se pa hom met die sambok geslaan het. Kurt se pa slaan genadeloos. Veral as hy baie gedrink het. Arme Kurt.”
“Jimmel jy is ’n goeie mens, Amo. Kurt boelie jou dan by die skool?”
“Hy boelie almal, Jessie.”
“Wel, hy gaan my nie boelie nie. Moet ek jou leer fight? Ek het in die Kaap karate en judo geneem en my pa het my leer boks.”
Amo moet net keer soos Jessie haar karateskoppe demonstreer. Sy vat hom aan sy hemp vas en gooi hom oor haar heup op die gras.
“Toe, ek leer jou fight en jy leer my van die astronomie. Hoes daai?”
Sy hou haar hand op vir ’n high five en dan gryp sy sy hand vas en vou hulle hande inmekaar. Dan stamp sy hulle toegevoude hande een keer op sy bors en dan een keer op hare.
“Daarsy, dis ons nuwe Buddy-groet. Ek het dit nounet uitgedink. Jy is nou my Buddy, hoor jy? Sien jou more ou sterrekyker!”
Amo staan byna verdwaas en kyk hoe Jessie en Jama met die rivierpaadjie af verdwyn na hulle huis. Hierdie meisiekind is anders as enige ander seun of meisie wat hy nog ooit ontmoet het. Hy dink hy is bly sy is sy Buddy. Skielik lyk die laaste jaar van laerskool nie so sleg nie.
Voor hy gaan slaap, rig hy die teleskoop op die Suiderkruis. Hy fokus altyd op die plek waar hy dink die lyne na die vier sterre in die middel kruis. Net daar, het sy pa eendag vir hom vertel, gaan hy ’n tentjie opslaan as dinge op die aarde vir hom te veel raak. “Dan sal jy altyd presies weet waar ek is as ek nie meer op die aarde is nie.”
Vanaand hoop hy sy pa kan sien hy het ’n Buddy.