Brand
DIE ure, dae en weke gaan in ‘n waas verby. Amo volg die daaglikse roetiene gedwee. Elke oggend skool toe en middae rivier toe met Jama. Saans sit hy met die teleskoop by die venster. Sy punte lyk nie te vrot nie, maar ook nie vreeslik goed nie, maar Mamoeks los hom.
Een middag sit hy en Jama langs die rivier. Die rivier loop nie sterk nie want die reën is vanjaar laat.
Hy sien rotse in die rivier wat net in droë jare sigbaar is. Selfs die Augustus-winde waai nou eers in Oktober, dink hy en kyk hoe die bome oorkant die rivier oorbuig van die sterk wind.
Daar is darem ‘n paar wolke in die lug. Dalk bring dit reën. Hulle het ‘n biddag vir reën by die skool gehou. Die boere het reën dringend nodig.
Jama begin blaf. Hy hardloop in sirkels. Dan hoor Amo die harde klapgeluide. Soos iemand wat klappers skiet. Van die rietbos se kant af waai die wind ‘n rookreuk aan. Die bos brand! Kurt-hulle! Hy weet dadelik daar is groot moeilikheid. Dié keer brand die bos regtig. Hy voel in sy sak na sy selfoon. Mamoeks se foon lui net. “Janus, die rietbos brand en ek dink Kurt-hulle is daar!”
Amo en Jama hardloop die paadjie af na die bos. ‘n Groot wit wolk borrel bo die bos uit.
“Kurt! Jaco!” Hy kan hulle in die bos hoor skreeu. Die rook en vlamme is die hele bos vol. Jama wil in die bos inhardloop. Amo probeer hom keer. Hy hardloop om die bos en blaf verwoed.
Amo sien ‘n plek waar dit lyk of die vlamme nie dig is nie. “Die kant toe! Kurt! Hoor julle my! Die kant is daar nie baie vlamme nie!” Jama hardloop by die gaping in. Hy blaf en maak sulke skril tjankgeluidjies. Amo hoop Kurt-hulle hoor Jama blaf bo die klapgeluide van die droë riete wat brand. Die seuns gil van vrees tussen die rook en vlamme. Skielik kan Amo Jama nie meer sien nie.
“Jama! Kom terug! Jama!” Hy kan Jama se geblaf en tjank in die bos hoor. Amo bel Janus weer. Janus sê van die boere is op pad met hulle brandbestrydingstreilers. Amo luister, maar hy hoor nog nie die trekkers nader kom nie.
Dan struikel Jaco by die bos uit. Hy gaan lê op die gras en hoes hygend. Jama kom ook uitgehardloop. Jak en Kurt is agter hom. Hulle hoes en hyg. Amo bel Janus weer.
“’n Ambulans. Julle sal een moet laat kom!” Janus het klaar daaraan gedink. Dan kom die eerste trekker die rivierpaadjie af. Dis oom Henk Laubser. Agter hom kom nog drie trekkers aan. Die plaaswerkers weet al wat om te doen. Dik strale water spuit uit die brandslange, maar die wind blaas die vlamme aan. Van die ooms probeer die seuns help. Hulle is vol skrape, bloed en roet. Hulle lê in pap bondels op die gras en hyg na hulle asems. Waar bly Janus en die ambulans? Amo raak paniekerig want Kurt-hulle lyk regtig sleg.
Janus se bakkie kom eerste die paadjie af. Agter hom kom ‘n motor van die paramedici en ‘n ambulans. Dit lyk asof ‘n oorlog langs die rivier uitgebreek het. Die brandblussers fokus nou net op die een punt van die bos. Die ander deel is reeds afgebrand.
Amo sit verskrik eenkant en kyk hoe die paramedici Kurt-hulle stuurstof gee en hulle in die ambulans laai.
Janus kom staan by Amo. “Hulle is gelukkig. Net ligte brandwonde en rookinaseming. Jy het vandag hulle lewens gered.”
“Dis Jama, hy het hulle uit die bos gaan haal.”
“Dit lyk darem nie of hy iets oorgekom het nie. Kyk hoe hardloop hy rond tussen die mense. Ek weet nie hoe gaan jy hom skoon kry nie. Hy is pikswart.”
Mamoeks kom ook by die rivier aan. Sy huil oor al die eende en voëls se neste. Sy is lief vir die rietbos. Nou is daar net ‘n stuk oor. Die res is ‘n smeulende swart massa. Dit lyk onheilspellend.
‘n Boervrou bring kanne koeldrank vir die brandbestryders. Die grootmense praat net oor hoe gelukkig die seuns is.
“Ek hoop regtig hulle het nou genoeg rook ingekry sodat hulle nooit weer sal wil rook nie,” sê Janus vir Mamoeks. Die seuns is in die Ventersdrif-hospitaal opgeneem, maar sal môre huis toe kan gaan, sê Mamoeks nadat sy die hospitaal gebel het.
Die boere vertrek een vir een. Hulle klop mekaar op die skouer oor hulle die brand geblus het.
Mamoeks huil van blydskap.