Wraggies?
AMO is al wakker lank voor Mamoeks hom kan kom wakker maak om te ry. Janus het gesê sy moenie padkos inpak nie. Hulle sal sommer by die Wimpy langs die pad eet. Mamoeks pak nogtans ’n sak vol lekkers en snoepgoed in vir hulle week in die gastehuis.
Amo hou daarvan om in Janus se nuwe bakkie te ry. Dis ’n Ford Ranger Wild Trek. Die enigste een op Ventersdrif. ’n Wintie-bakkie, sê die ander seuns. Maar Janus jaag nie soos ’n windlawaai nie. Hy ry heel stemming.
“Jou ma het vir my gepreek. Ek mag nie met jou in die kar jaag nie,” sê Janus asof hy Amo se gedagtes kan lees.
“Hoe vinnig het jy hom al gery?” vra Amo nuuskierig.
“Belowe jy sal jou ma nie sê nie?”
Amo knik sy kop.
“Ek het hom al 180 gelooi. Net om te kyk of hy dit kan maak. Spoed is nie mens se speelmaat nie, onthou dit.”
“Jy klink nou soos ’n regte onnie. As jy hom weer wil toets, kan ek saam ry?”
Janus kyk met ’n stoute blik na hom.
“Die snelweg is stil. Hoe lyk dit, sal ons hom looi tot by die brug daar voor?”
Amo kan nie glo wat hy hoor nie. As Mamoeks hiervan moet hoor. Maar hy lig sy duime goedkeurend vir Janus.
Janus laat nie op hom wag nie, hy sit voet in die hoek. Die naald kruip na 140, 145, 150 …
Skielik spring daar ’n verkeersman ’n ent voor hulle in die pad.
“O vrek!” Gil Amo. Janus gebruik ’n woord wat Amo weet Mamoeks beslis nie sal goedkeur nie.
Janus hou stil en sit soos ’n stout skoolseun en wag dat die verkeersman nader stap.
“Weet jy hoe vinnig het jy gery?” vra die verkeersman streng.
“Ek dink so 150. Ek is regtig jammer, ons wou net … Daar was ’n swerm bye en my seun is baie allergies.”
Amo kyk geskok na Janus wat so blatant jok.
“Wraggies?” Die verkeersman kyk af met die snelweg asof hy die swerm nog sal kan sien.
“Wraggies,” sê Janus en Amo saam asof hulle afgerig is vir ’n spraakkoor.
“Ek sal ongelukkig wraggies vir jou ’n kaartjie moet uitskryf,” kondig die verkeersman aan. “Tensy ons oor die saak kan onderhandel?”
Amo se oë rek soos pierings. Die man probeer hulle sowaar omkoop! Hy het al van die soort omkopery op facebook gelees. Die mense sê mens moenie korrupsie aanhelp nie en eerder ’n foto met jou selfoon neem sodat jy die verkeersman kan aanmeld.
“Kan ek ’n foto van oom neem?” Hoor Amo die woorde uit sy eie mond kom. Janus lyk ewe verbaas.
Die verkeersman hou sy hande voor sy gesig en in die wegstap sê hy vir Janus. “Wees gewaarsku, as ek jou weer sien, trek ek jou af!”
Janus en Amo ry ’n paar sekondes in geskokte stilte. Dan begin hulle gelyk skater.
“Ek gaan my ma vertel hoe lekker jy kan lieg!”
“Dan sê ek haar jy het my aangehits om vinnig te ry!”
“Wraggies?”
“Ja, wraggies!”
Skielik tref iets die vooruit. Dit maak sulke geel blertsies teen die windskerm.
“Bye! Ek sweer dis bye!” gil Amo.
Janus draai vinnig sy venster toe, toe ’n paar insekte invlieg. Hy hou vinnig stil en dans buite die bakkie rond soos hy die insekte afskud. Amo skree soos hy lag.
“Jy gil soos ’n meisie, Janus!”
“Is nie, ek jaag die goed net weg. Weet jy hoe seer byt ’n rysmier?”
Amo is verbaas oor die lekker musiek waarna Janus luister. Hy dog oumense soos Janus luister net na gevrekte musiek. Die kilometers vlieg verby en kort-kort kyk Amo of Jessie nog nie die vorige dag se WhatsApp beantwoord het nie. Haar foon is seker pap of haar lugtyd is op, troos hy homself.
In Bloemfontein pak hulle eers af by die gastehuis. Janus bel Gerald. Amo kan sien Janus lyk bekommerd.
“Jessie het ’n terugslag gehad. Ons kan hospitaal toe gaan, maar jy kan net deur die kamer se gangvenster na haar kyk. Sy is baie siek.”
Amo voel ’n hol kol in sy maag. Jessie moet asseblief nou gesond word. Hy is nou hier en hulle het gesê hy kan sy teleskoop invat as dit met ’n ontsmetmiddel skoongemaak word. Hy wil haar ’n paar interessante konstellasies wys. Miskien kan hy haar wys as die internasionale satellietstasie verby beweeg. Hy het aantekeninge gemaak wanneer dit dié week gesien kan word.
Amo was nog nooit eintlik in ’n hospitaal nie. Net een keer in ’n dagkliniek in Potchefstroom toe sy mangels uitgehaal is en die keer by die Ventersdrif-hospitaal toe hy sy voet oopgesny het met ’n glasstuk in die rivier. Dit was baie erg want hy het ses steke gekry en hy was nog klein.
Jessie is in ’n groot kliniek in Bloemfontein. Dis modern en nuut. Die gange blink en die portale lyk soos ’n hotel se sitkamers. Jessie is in die onkologie-saal waar kankerpasiënte behandel word. Amo en Janus kry elkeen ’n oorjas, mus en masker. Selfs hulle skoene moet met spesiale pantoffels bedek word. Hulle skrop hulle hande. Chemoterapie breek ook baie goeie selle saam met die kankerselle af en dit maak kankerlyers kwesbaar vir infeksies, weet Amo na sy navorsing op Google. Jessie is in ’n afdeling waar geen kieme mag inkom nie.
“Dis net oor hulle dink jou kuier sal haar gees opbou, wat hulle jou toelaat,” verduidelik Janus aan hom. Gerald en Annie wag vir hulle in ’n wagkamertjie. Hulle lyk moeg en bleek. Annie druk Amo styf teen haar vas. Amo kan sien sy het gehuil.