Trane
Juffrou Alta kom haal hom daar.
“Ek het jou ma probeer bel, maar sy is by ’n distriksvergadering vir Afrikaans. Janus gaan jou huis toe neem.”
Juffrou Alta is al ouerig, weet hy. Hy hoop nie sy tree ooit af nie. Hy weet nie hoe oud sy is nie. Sy is beslis ouer as Mamoeks, maar nie so oud soos sy ouma nie.
“Dis reg as jy hartseer is oor Jessie,” sê sy en kom sit langs hom op die gras.
“Sy gaan nie dood nie.”
“Jy weet sy is baie siek, Amo?”
“Ja, maar sy gaan nie dood nie.”
Amo begin huil. Hy skaam hom nie oor hy voor Juffrou Alta huil nie. Juffrou Alta is nie soos ’n juffrou nie. Sy is Juffrou Alta.
Hy lê met sy kop teen haar skouer. Sy ruik soos rose. Ouer vroue ruik altyd soos rose, dink hy deur die trane.
Hulle sit ’n lang ruk so. Juffrou Alta praat oor God se wil en dat mens dit nie altyd kan verstaan nie.
“Ek was baie lief vir my pa. Ek mis my pa,” sê hy teen die sagtheid van haar arm.
“Ek weet, Amo, jy moet hom mis. Hy was ook baie lief vir jou.”
“Maar hoekom het hy dit gedoen?”
Hy het dié vraag nog vir niemand gevra nie. Nie eens vir Mamoeks nie. Hy praat nooit met sy ma oor daardie dag nie. Hy voel veilig om dit met Juffrou Alta te bespreek. Sy verstaan.
“Die lewe is partykeer te swaar vir mense, Amo. Dan wil hulle nie meer leef nie.”
“Maar Jessie wil leef, ek weet dit. Sy wil nog al die hoogste berge in die wêreld gaan uitklim. Sy wil oor die Engelse kanaal gaan swem. Sy wil dit alles nog doen, sy het my self vertel.”
“Nie een van ons weet wat more en oormore gaan gebeur nie. Ons ken nie God se wil nie. Jy moet besef Jessie is regtig baie siek. Die keer … Maar wonderwerke gebeur soms. By God is alles moontlik.”
Amo vee sy trane af.
“Die keer gaan daar ’n wonderwerk gebeur, Juffrou sal sien.”
Juffrou Alta druk hom styf teen haar vas. Hulle stap stadig oor die rugbyvelde. Kinders loer nuuskierig uit klasvensters na hulle.
Janus staan by die kantoor vir hom en wag. Hulle stap woordeloos na sy bakkie toe.
“Ek is dors. Lus vir ’n milkshake by die Wimpy?”
Amo weet Janus probeer hom opbeur. Hy knik net sy kop.
By die Wimpy bestel Janus vir hulle elkeen ’n pienke. Hy weet Amo hou van pienkes. Amo weet Janus hou van sjokolade, maar vandag drink hy ’n pienke.
“Ek het met Jessie se pa gepraat. Haar dokters dink dit sal ’n goeie ding wees as jy kom kuier.”
“Maar dis in die middel van die kwartaal?”
“Ek en jou ma sal dit met Snorre reël. Jy sal nie agter raak as jy ’n week wegbly nie. Ons kan Dinsdag na die vasvra-olimpiade ry.”
“En jy? Sal jy kan wegkom by die hoër skool?”
Janus lag kamma. “Dink jy hulle sal my mis? Daai hoërskoolkinders doen mos net wat hulle wil!”
“Wat van my ma?”
“Haar kinders is besig met ’n toetsreeks. Is dit ok as net ek en jy gaan? Jy gaan tog heeldag by die hospitaal wees en ek sal probeer om jou nie te verveel nie.”
Amo kry dit reg om te glimlag. Vervlakste Janus. Hy wil nie eintlik van hom hou nie.
By die huis swem Amo en Jama lank in die swembad. Dan raak hy aan die slaap. Hy is baie baie moeg. As hy wakker word, sit Janus nog op die hangmat op die stoep en lees.
“Pas jy my op?”
“Nee, ek gebruik jou net as ’n verskoning om weg te kom van die skool.”
“Luigat.”
Hulle lag. “Ek hou nie regtig van hom nie,” herhaal Amo in sy gedagtes aan homself. Hy belowe homself hy gaan dit nie toelaat nie. Hy het bad luck met mense, sê hy vir homself.
Mamoeks gesels die aand net oor die relings van Amo se kuier by Jessie.
“Daar is ’n paar gastehuise naby die kliniek waar mense tuisgaan wat by pasiënte kuier. Ek dink jy moet ’n klomp video’s van Jama neem en vir haar saamneem.”
“Kan ek my teleskoop saamneem?”
“Natuurlik, hoekom nie?”
“Kan ek dit in die hospitaal inneem?”
“Jessie is in ’n steriele omgewing omdat sy van die behandeling so kwesbaar is vir kieme. Ons sal by die dokters moet hoor. Jy sal elke keer ’n spesiale oorjas en masker moet aantrek as jy ingaan.”
AMO kan nie wag vir die kuier nie. Hy sien glad nie uit na die olimpiade soos ander jare nie. Partykeer voel dit of sy kop vol wol is. Hy kan nie fokus nie, maar dis asof die onnies hom uitlos.
Na sy tirade in die saal, los die kinders hom ook uit. Niemand vra oor Jessie nie. Dit laat hom eensamer as ooit voel. Kurt skouer hom nie eens meer in die bus nie. Die kinders vermy hom asof hy ’n soort pes het.
Op pad na die olimpiade sit Ulrich langs hom in die bussie. Hulle speel speletjies op hulle selfone. Die meisiekinders kwetter soos spreeus. Hulle is baie opgewonde. Johnny Bravo bestuur die bussie en Ou Wessels gee kort-kort vir hom ’n lekker of biltong aan. Die kinders pomp mekaar in die ribbes en giggel oor die twee onnies se flirtasies.
Vier skole neem die middag deel. Brandwag was laasjaar die kampioene en die druk is groot as hulle die beker wil behou, verduidelik Juffrou Wessels.
“Wen die een vir my. Skop hulle alies,” laat weet Jessie op WhatsApp. “Sê vir die ander ek hou my duime vas.”