Droom
Mamoeks skud aan hom. “Word wakker jong, jy het ’n nagmerrie.” Amo huil en draai sy rug op sy ma. Hy wil haar nie in die oë kyk nie.
“Ek is jammer Jessie is so siek, Amo. Miskien word sy weer beter.”
Amo huil harder. Sy ma vryf oor sy rug. Dan skraap hy sy moed bymekaar.
“Dis Kurt, hy is nie in die rivier nie. Hy het nie verdrink nie.”
“Weet jy waar hy is?”
Amo vertel van sy ruimtereis en hoe hy Kurt op pad terug gekry het.
“Ek is jammer oor die fiets, Mamoeks, jammer ek het nie vroeër gepraat nie. Dis net, ek het Kurt belowe. Sy pa het hom stukkend geslaan. Gaan die polisie my nou toesluit? Sal Ma Janus bel om te kom? Hy sal weet wat om te doen.”
Janus stop binne tien miunte voor die deur.
“Ek is jammer oor die fiets, Janus, jammer oor die groot gemors.”
“Jy het niks verkeerd gedoen nie, Amo. Ek is trots op jou. Jy het gewys jy het murg in jou pype. Jy help die ou wat jou altyd boelie. Nie almal sou dit doen nie. Ek het op pad hierheen met die ondersoekbeampte gepraat. ’n Vragmotorbestuurder het Kurt ’n paar uur gelede opgelaai. Hy en die fiets is ongedeerd. Sien jy? Een probleem is opgelos!”
“Maar Kurt se pa gaan hom dood slaan as hy terugkom!”
Mamoeks kom sit langs hom op die bed.
“Janus gaan môre met Juffrou Alta en van die onderwysers praat. ’n Welsynswerker sal seker die gesin gaan sien. Dalk kan hulle Kurt se pa na ’n rehabilitasiesentrum stuur sodat hy kan ophou drink. Kom, ek gaan maak vir ons soet tee. Ek dink ons almal het dit nodig.”
Amo raak eers vroegoggend aan die slaap. Mamoeks bel die skool en laat weet dat hy nie skool toe kom nie. Hy word eers tienuur wakker.
Jama wag vir hom in die kombuis. Hy is baldadig bly om ’n bekende te sien.
“Een van Gerald se werkers het hom netnou gebring. Dit sal beter wees as hy geselskap het terwyl Jessie in die hospitaal is,” sê Mamoeks terwyl sy vir Amo ontbyt inskep.
Amo en Jama speel die hele oggend op die grasperk. Dan gaan Google hy “leukemie”. Hy moet sy ma vra watter soort Jessie het. Hy voel nou baie sleg dat hy haar ouers verdink het oor die blou kolle. Hy verstaan ook nou Jessie se buie beter. Sy kan die een oomblik vrolik wees, en dan baie hartseer. Maar sy het guts, sy Buddy, dit weet hy nou. Sy gryp die lewe aan. Sy stuit vir niemand nie. As daar een ding is wat hy by haar geleer het, is dit haar guts.
Sy is byna soos die klein skerpioen wat Orion, die arrogante jagter gesteek het. Dis een van die mooi stories wat sy pa hom vertel het.
Later die middag gaan stap Amo met Jama langs die rivier. Daar is nie einde aan die labrador se energie nie. Naby die rietbos begin Jama blaf. Jak en Jaco sit op hulle gewone plek en rook. Amo versteen, maar Jaco wink hom nader.
“Kom sit. Het jy gehoor van Kurt?”
Amo word koud. “Wat van Kurt?”
“Hulle het hom gekry. Hy was op pad Bloemfontein toe na sy broer toe. Sy pa het hom weer geslaan. Jak se pa het met die plaaseienaar gepraat.”
Amo wil nie wys hy weet te veel nie.
“Ek is bly hy is veilig. Wanneer kom hy terug?”
“Blykbaar more, as als by sy huis uitgesorteer is. Arme ou. Wat nou van Jessie? Die onnies het vandag net gesê sy is baie siek en ons moet vir haar bid. Wat makeer sy?”
Jama bring nog ’n stok en Amo gooi dit ver in die rivier.
“Ek weet ook net sy is baie siek. Haar hond gaan by my bly tot sy beter is.”
“Juffrou Alta het vandag by die skool gehuil. Oor Jessie, sê die kinders. Sanet en die drama-brigade ook. Hulle is glo diep jammer oor hulle so gemeen met Jessie was,” sê Jak.
Amo glimlag oor die laaste brokkie, hy kan hom Sanet-hulle se dramatiese vertonings voorstel. Hy wonder nou oor wat Juffrou Alta daardie dag by die atletiek oor Jessie se blou kolle gesê het. Dalk het sy toe al geweet. Dis glo ’n kenmerk van sekere soorte leukemie. Dit maak sin dat die onderwysers by die skool geweet het Jessie was laasjaar baie siek toe sy ingeskryf is. Snorre en Juffrou Alta het seker geweet.
Amo neem hom voor om voortaan doodseker te maak van sy feite voor hy afleidings maak.
Daardie aand skuif Amo sy teleskoop se lens doelloos deur die hemelruim. Hy kan nie konsentreer nie. Sy kop bly maal oor die paar dae se gebeure. Hy raak moeg aan die slaap.