Meisiekind
Die gras is dounat onder hulle lywe. Die seun lê met sy kop op sy pa se maag. As hy sy kop skuins draai, kan hy die gor-gor van sy pa se maag hoor. As hy mooi luister, hoor hy sy pa se hartklop.
Sy pa hou ’n deurskynende, harde plastiekvel bokant hulle koppe. Die sterre skyn deur die plastiek. Met ’n veltpen maak sy pa kolle op die plastiek by elke belangrike ster in ’n konstellasie. Die konstellasie lyk soos ’n vlieër en hang laag oor die horison.
“Kyk, ek hou die sterkaart sodat jy mooi kan sien. Hierdie vier sterre is die Suiderkruis.”
Die pa neem ’n ander plastiekvel met die kolle van ’n groter sterrekonstellasie op. Hy skuif dit so dat die sterre ooreenkom met die kolle. Die seun trek ’n pad tussen die kolle op die plastiekvel met sy vinger.
“Daardie drie sterre bymekaar is deel van Orion se gordel. Neem jou vinger regs. Sien jy die bogie sterre? Dit is sy skild. Orion is ’n jagter.”
Die pa vertel die storie van hoe die jagter homself teen die vegtende bul wil beskerm met sy skild. “Die jagter is hoogmoedig,” sê die pa. “Hy spog graag oor hoe sterk en vreesloos hy is, maar toe wag die skerpioen sy kans af en steek die jagter dood.
’n Klein skerpioen het die arrogante jagter tot ’n val gebring. Sy kop was so hoog in die lug van hoogmoed, dat hy nie die skerpioen op die grond gesien het nie. Dit het hom tot ’n val gebring. Nou sit die jagter vir ewig in die hemelruim op ’n plek waar hy sy oorwinnaar kan sien.”
Die pa neem die plastiekvel waarop die konstellasie van die skerpioen uitgemerk is. ’n Groep sterre vorm die krul van sy stert en angel.
“Pappa, gaan jy my vanaand van die Stervanger vertel?”
Die kind luister tot sy oë nie meer oop kan bly nie. Tot hy net die dreuning van sy pa se stem deur sy borskas hoor.
AMO se ma jaag hom al van vroeg af aan. Dis die eerste dag van die skooljaar en sy en die ander onnies moet vroeg by die skool wees.
“Ag Mamma Moeks, my liefste Mamoeks, kan ek nie met die bus ry soos altyd nie? Ek is so lui om nou al op te staan.”
Mamoeks ken haar kind.
“Dan gaan jy nooit by die skool uitkom nie!” Sy ruk die duvet van hom af.
Amo is net mooi niks lus vir graad sewe nie, mor en kla hy terwyl hy regmaak vir skool.
Die plaaspad is sopnat van die reën. Mamoeks ry stadig.
“Skulprivier is vanjaar mooi, né? Die gras groei geil, sou Oupa Amos altyd gesê het.”
Amo en sy ma bly op sy pa se familie-erfplaas langs die Vaalrivier. Oupa Amos was glo baie kwaad toe Mamoeks en sy pa hom net Amo genoem het, pleks van Amos, soos sy oupa en pa.
Amo haat partykeer sy naam, veral as nuwe onnies dit verkeerd uitspreek. Party sê “Aay-mou” en sommiges dink mens spreek dit amper soos die waspoeier Omo uit: “Amou”. Hoe moeilik is dit vir mense om “A-moe” uit te spreek?
Die plaas is in die hartjie van die Vredefort-Koepel. Dit is ’n Wêrelderfenisgebied. Die halfkring koepelkoppe is gevorm toe ’n meteoriet duisende jare gelede die aarde getref het. Die grootste deel van die meteoriet is onder die dorp Vredefort, naby Skulprivier.
Amo het homself belowe hy sal nooit ooit van die plaas af weggaan nie. Sy pa se as is hier gestrooi. In die hartjie van die meteoriet.
“Sien jy uit na jou laaste jaar op laerskool?” vra Mamoeks die vraag wat elke ma seker maar aan die begin van haar kind se laaste jaar op laerskool vra, dink Amo.
“Ek hoop regtig nie ek kry natuurwetenskap en geografie by Ou Wessels nie. Weet Ma hoe dom is daai vrou? Haar algemene kennis is nul. Ek weet nie hoe Snorre haar vakke kan laat gee waarvan sy niks weet nie. Sy is ’n kunsjuffrou. Al waarmee sy goed is, is om met Johnny Bravo te gesels.”
Mamoeks hou op die aflaaipunt voor die skool stil.
“Toe, spring, anders gee ou Knorrie my weer ’n kaartjie. En moenie so lelik oor jou onnies praat nie. Ai, waar is julle kinders se respek!”
Mamoeks is self ’n onnie. Sy gee Afrikaans by die Engelse hoërskool op Ventersdrif. Amo weet sy ma lag self oor die byname wat kinders die onderwysers gee. Hy het al gehoor hoe sy en Janus oor die onnies van die verskillende skole praat. Dan lag hulle oor die byname. Janus is sy ma se boyfriend. Hy gee wiskunde en rig atletiek en rugby af by die Ventersdrif hoërskool. Amo dink Janus is net jaloers op Johnny Bravo se spiere oor hy self so ’n lang seningrige drel is. Hy preek alewig vir Mamoeks oor haar kind wat aan geen sport deelneem nie.
“Die kind het oefeninge en sonskyn nodig, Elsa. Kyk hoe bleek is hy. Heeldag voor die rekenaar en heelnag voor die teleskoop. Ek sê jou, daardie kind het balans nodig.”
Van al die boyfriends wat sy ma al gehad het, dis nou al drie, is Janus seker die goorste, is Amo se mening. Glibberige Gerhardus en daai Barry-ou het hom gewoonlik net geïgnoreer. Net in sy ma belang gestel. Maar Janus wil skynbaar aan sy ma bewys hy is ’n goeie opvoeder. Hy wil soort van ’n pa wees en dit irriteer vir Amo.
Ou Snorre is op sy stukke tydens opening. Preek oor als wat verkeerd is by Brandwag Laerskool en wat hulle met hierdie nuwe jaar moet regruk: Die terrein is vol papiere, die seuns se hemde hang uit, die meisies se hare hang in slierte.
Die kinders ken al Snorre se geteem. Amo is eintlik verlig toe Kurt ’n onbeskofte harde wind los en die kinders histeries begin lag. Lank na Snorre se kwaai gluur die gegiggel tussen die graad sewes laat bedaar het, hang die aroma van Kurt se ontbyt nog soos ’n swaar bruin wolk oor die saal.
Snorre kondig af dat die graad sewes na saal moet agterbly. Almal kyk beskuldigend na Kurt.
Terwyl die ander kinders uitstap, los hy en Jak nog ’n paar winde. Dit maak Johnny Bravo so kwaad dat Amo kan sweer hy sien die onnie se spiere ’n sentimeter groter bult.
Die woorde wat uit Snorre se mond kom, is verbysterend vir Amo: “Die onderwyseres wat vanjaar die span van Brandwag gaan afrig vir die Vasvra-olimpiade van die Noord-Vrystaat is, Juffrou Wessels!”
“Ek sê julle lankal Snorre is seniel,” fluister Jaco onderlangs vir Amo. “Tyd dat hy aftree, sê my ma ook. Nou stel hy ’n juffrou met die IK van ’n aartappel aan om ons olimpiade toe te neem. Ons gaan vanjaar ons alies sien! Dis ’n ramp!”
Jaco is maats met Kurt en Jak, maar hy is die een met die breins. Amo kan nie verstaan hoekom Jaco saam met die scruffy’s uithang nie. Hulle rook en het al gespog oor hoe hulle Kurt se pa se bier gegaps het. As Kurt sy vingers klap, spring Jak eerste en daarna Jaco.
Amo is dankbaar hy en Jaco is elke jaar saam in die olimpiade. Dan los Kurt-hulle hom bietjie uit. Vandat hy en Jaco soortvan maats is, staan Jaco altyd half eenkant as Kurt en Jak hom karnuffel. Amo weet hy, Ulrich en Jeandré is van graad een af Kurt se gunsteling-teikens.
Ulrich is tingerig en sieklik. Hy word darem meer met die tong as met die vuiste bygedam. Jeandré dra die dikste bril in die skool. Dit is sy swakplek. As Kurt Jeandré se bril gryp, is die stryd reeds gewonne. Amo het al gewonder hoekom kry Jeandré se ouers nie vir hom kontaklense nie, dan het Kurt nie meer ’n wapen teen hom nie. Maar dan laat dit hom en Ulrich as teikens, en Amo weet hy gaan die slegste daarvan afkom.
Kurt was die eerste kind wat in graad een langs Amo gesit het. Sy hare was toe al ’n kort borselkop met so ’n parmantige kuifie voor. Die juffrou het die eerste dag nog na Kurt se oulike sproete verwys, maar daarna kon Amo sien Kurt maak die juffrou gedaan. “’n Kandidaat vir Ritalin,” het Amo gehoor hoe die een juffrou met die ander een praat. “Beslis aandagafleibaar.” So het die juffrouens Kurt al in graad een gediagnoseer en die etiket moeilikheidmaker om sy nek gehang. Amo het sy pa daardie aand gevra wat dié diagnose beteken. Sy pa het gereken die juffrouens se diagnose is dalk voortydig en bietjie onregverdig.
Pa het Kurt se ouers geken. Hulle bly op die buurplaas waar Kurt se pa voorman by die varkboerdery is. “Kurt is net ’n gewone aktiewe seun. Pille is nie die antwoord vir hom nie. Hy kort liefde,” het Amo gehoor sy pa sê vir Mamoeks.
Amo het gewonder hoe hy vir Kurt liefde kan gee. Kurt is ’n nare gemene boelie, maar Amo het nie vir sy pa gesê wat sy eie diagnose van Kurt is nie. Kurt het nog altyd als gevat by ander kinders wat hy wou. Almal is skrikkerig vir Kurt.
Amo kan nie onthou hoeveel keer hy van graad een af onder Kurt deurgeloop het nie. Dis net daai een jaar wat Kurt hom ’n ruk uitgelos het. Toe Amo se pa dood is.
Al het hulle almal se bene deur die jare gerek, het Kurt die grootste gebly. Amo, Jeandré en Ulrich was nog altyd die kleinstes. Hulle het selfs in ’n stadium met Jeandré se pa se gewigte geoefen, maar Kurt was altyd sterker as hulle.
Juffrou Wessels hou nie vasvra-uitdunne soos Juffrou Allen altyd gedoen het nie. Te lui, dink Amo by homself. Hy was hartseer toe Juffrou Allen aftree. Sy was sy gunstelingjuffrou. Hy kon darem met haar oor interessante goed praat. Sy het altyd artikels en nuusberigte teen haar kennisgewingbord vasgesteek oor nuwe navorsing en ontdekkings. Amo was van die min kinders wat dit gelees het.
“Amo, Ulrich, Jaco, Jeandré, Sanet, Ellen en Esmé, julle is ons vasvraspan vir vanjaar,” kondig Juffrou Wessels aan. Daar is dadelik ’n onderlangse gemor oor hoe onregverdig sy is want daar is dan nie eens ’n uitdun-rondte gehou nie. Amo krimp instinktief ineen want hy haat dit om in die kollig te wees.
“Ek wil ook in die span wees!”
Almal het vanoggend voor opening nuuskierig na die nuwe rooikop meisie gestaar. Sy kom glo van die Kaap. “Lyk bietjie soos ’n seunskind,” het Amo Ellen vir Sanet hoor fluister.
“My naam is Jessie van Vuuren en ek wil ook deelneem,” kondig die nuwe meisiekind parmantig aan en gaan staan voor Juffrou Wessels. Haar hare is kort en deurmekaar. Haar oë byna pikswart en haar neus kort en wipperig.
“Nie slegte bene nie,” sê Kurt hoorbaar. Jessie gluur hom aan. Amo probeer onderlangs loer of hy iets buitengewoon aan Jessie se bene kan sien. Haar bene is bruingebrand en gespierd langs die maer wit beentjies van Juffrou Wessels.
Die kinders geniet die nuwe meisie se astrantheid. Almal kan sien Ou Wessels is ontsenu.
“Ek sal jou eers moet toets.”
“Juffrou kan my enigiets vra!” Jessie staan effe uitdagend nader aan die trippelende juffrou.