Ons buitelandse voete trap vreemd op die hobbelrige ongelykheid van die gladde blink straatklippe waaraan nie een van ons juis gewoond is nie. Sommige klippe is daarby al effe uitgeloop wat maak dat jy versigtiger moet wees om nie skielik ‘n enkel te swik nie. Die klipstraat is baie beslis nie vir die hedendaagse swierige langpunt- en hoëhakskoene gemaak nie. Hier moet jy jou voete eenvoudig plat op die grond kan hou.
Eintlik is die klippe, behalwe vir die randstene, voor die voet patroonloos gepak. Klein en groot deurmekaar om ‘n klipstraat te geword het. Dit was al eeue gelede. Die hande wat die klippe in vorm gebytel, aangedra en gepak het rus lankal salig onder groter klippe.
Iedere dag, vir eeue al, loop mens en dier argeloos oor die einste klippe. Asof dit maar altyd daar was en altyd daar sal wees. Sommerso vanself daar gekom het. Dis al of tyd in die klippe versteen geraak het wat nou onder eindelose voeteval aanhoudend gladder afgeslyp word.
Dit is letterlik miljoene der miljoene voete se trap wat die klippe so seepglad en blink geloop het – oor eeue heen. Dis die steeg na die stadspoort. Dis die hoofslagaar waaruit talle ander stegies sywaarts spruit in die ou stad van Rovinj.
Jy wil nie praat hoe seepglad die straat gaan wees as dit reent of sneeu nie. Dan is dit eintlik net die mense wat agter die deure en rame die plek huis noem wat met jare se praktiese ondervinding agter die rug weet hoe om veilig op hulle voete te kan bly.
Ons kan ons verkyk aan hoe die mense doodluiters op straat leef asof dit nog deel van die huis is. Die straat is ook jou stoepie waar jy jou tafeltjie en stoeltjie aansleep om rustig tussen al die toeriste en ander verbylopers jou storieboek te lees of later middag saam met ‘n paar vriende oor ‘n biertjie te kuier terwyl die res van die wêreld verby jou stroom.
Die steeg is kleurvol. Ons oë spring van die een helder muur na die ander terwyl ons onder die week se wasgoed deurstap wat kunstig aan wasgoedtoue opgehang van verster tot venster oor die steeg span. Dis duidelik dat elke moontlike ruimte vindingryk ten volle gebruik word.
Aan die einde van die steeg loop ons deur die stadspoort na die nuwer Rovinj. Agter ons vervaag een van Europa se bes bewaarde en outentieke middeleeuse dorpe. ‘n Vlegwerk van stegies met klipstrate wat teruggryp na ‘n tyd toe sout, wyn en handel in die tekstiele ‘n oplewing in handel en die kulturele lewe van Rovinj meegebring het.
Dis of ‘n gevoel van heimweë hom van jou wil meester maak oor ou Rovinj wat soos ‘n tydkapsule van klip, waarin tyd gaan stilstaan het, nou ook ons voetspore op die klippe met die verre gryse verlede laat versmelt.