Elsje Neethling Blair van Bloemfontein is 31. Toe sy 13 was, is aggressiewe, terminale breinkanker by haar gediagnoseer. Nou, byna twee dekades later, leef sy steeds – met ’n oorgawe wat die meeste van ons gesondes in die skadu stel. Elsje het talle verliese gely. Toe die breingewas ontdek is, het sy pas die Vrystaatse skoleswemspan gehaal. Ses jaar lank moes sy ontwrigting, vrees vir die dood, pyn, operasies, bestraling, die verlies van haar hare en “anders wees“ verduur. Daarna was sy skoon – volgens die dokters ’n algehele wonderwerk!
Elf jaar lank het sy ’n min of meer normale lewe gelei; in Engeland en die VSA gaan werk, haar universiteitstudie voltooi, koerantverslaggewer geword en hopeloos verlief geraak. Drie maande voor haar troue met prokureur Bruce Blair het die kanker opnuut toegeslaan. Ná vyf spinale operasies en ’n reeks behandelings is sy sedert laas jaar in remissie.
Elsje het die liggaamsfunksies in die onderste deel van haar liggaam verloor. Die verlamming is sensories en nie motories nie, wat beteken dat sy nog met moeite kan loop. Haar linkerbeen is met bestraling so beskadig dat sy dikwels van ’n rolstoel afhanklik is. Sy moes haar werk as joernalis opsê, en beleef ’n vroeë menopouse. Sy moet ’n kateter gebruik en kry gereeld nierpypinfeksie.
Tog het sy vars maniere gevind om sin te gee aan haar bestaan – asook aan die bestaan van ander. Die kunssinnigheid wat kleintyd al kop uitgesteek het, het in die maak van kleurryke kostuumjuwele uiting gevind. Hip*E kralewerk vang Elsje se kreatiwiteit en vrye gees vas, en deur haar organisasie “I bead cancer“ leer sy vroue om hul energie skeppend te laat vloei.
Dan is daar haar boek. Ek droom van ’n droom is ’n aangrypende terugblik op haar reis met kanker, haar lewe as deel van ’n gesin van swemkampioene, en die manier waarop sy gewone tienerdrome in ander drome moes omvorm.
Die boek, geskryf saam met die gesoute skrywer Maretha Maartens, oorrompel jou met eerlikheid, ’n onstuitbare sin vir humor en reguit geloofsvrae. Bydraes deur pa Ryk, ma San-Marie, boetie Ryk, sussie Jean-Marié en Elsje se man, Bruce, vertel hoe haar stryd ook hul stryd geword het. Hoewel die boek nie die donkerte van hierdie pad ontken nie, is dit ’n boek vol lig. Nie die sosiaal aanvaarbare, kom-ons-versuiker-dit soort lig nie – eerder die lig wat begin straal wanneer die geloof in ’n liefdevolle God van wonderwerke swaarder as enigiets anders weeg.
Vis in die water
Elsje was ses toe sy begin swem het. “Ek leef vandag nog vir travel en social. As ’n bus ie-wers heen sou ry, het ek begin oefen. Ons was ’n gang en het net fun gehad. Ek het partykeer aan die toue getrek om klaar te maak. Rykie sou nooit so iets doen nie!“
In haar boek skryf Elsje: “Alles is so mooi in die water, soos musiek, soos dans. Hoofpyn en ander pyne los in die water op. Jy duik met ’n hoofpyn waarvoor Disprins nie help nie in die water in en jy kom daar uit met niks, clear as crystal. In die water dink ek aan niks anders as water nie. Water is vir altyd.”
Chiroïed pleksus karsinoom, die skaars vorm van breinkanker waarmee Elsje waarskynlik gebore is, het veroorsaak dat sy van dag een af onhoudbare hoofpyne gehad het. Niemand het geweet hoekom sy so baie huil nie. “My hoofpyn skree soos sonbesies uit die hel. Net nadat my eerste tandjies uitgekom het, het ek al op hulle begin byt teen die hoofpyn. Ek kon nog nie praat nie; ek het net gehuil en gebyt, vir Rykie ook,“ skryf sy.
Dis juis vanweë haar swemmery dat die kanker destyds opgespoor is. “Ek was in ons skool se duikspan en wanneer my kop die water getref het ná ’n backflip, het die gewas begin bloei.“
Ná die operasies was dit ’n stryd om Elsje uit die water te hou. “Ek sou een keer gaan toer met die Vrystaatse vrouewater-polospan, maar toe moes ek my derde breinoperasie kry. My ma het gesê ek kon gaan, mits iemand my verbande omruil en my kop droog bly. Ek dink die plan was dat ek sou toekyk. Toe ons teen Mosambiek sou speel, kon niks my keer nie. Ek het twee swempette en ’n Checkers-sak gedra!“
Sedert 2011 swem Elsje weer, 2 km per dag, in die hoop om haar bene te versterk. Sy doen ook fisioterapie in die water.
Wonderwerke
“Miracles is daar vir almal, maar dis dié wat nie sinies is nie wat dit raaksien,“ glo Elsje. “Ek kan soos ’n kind opgewonde word oor die stupidste goed. Sodra jy soos ’n grootmens begin dink, in terme van reëls en logika, verloor jy daardie ontvanklikheid. Net gister was daar niemand om my te help om in ’n parkeerterrein my rolstoel uit die kar te kry nie. Onverwags staan daar ’n man wat motors was, en vertel my met ’n spierwit glimlag dat hy ’n hospitaal-portier was. Hy weet hoe!
“Soms is mense bang om oor wonderwerke te praat ingeval ander dink hulle is mal. In 2010 lê ek in ’n MR-scanner om te toets of ek skoon is ná die behandeling teen die kankertentakels wat my spinale vloeistof, kolon en blaas aangetas het. My ma was daar, en baie emosioneel. Sy loop al so ’n lang pad met my. Skielik sien ek hoe die personeel hardloop om ander medici te gaan roep. Uit vorige ervaring het ek geweet dit beteken waarskynlik daar is groot fout.”
“Uit die bloute het ’n warm gevoel my saam met die trane oorspoel. Die Here het met my gepraat: ‘Ek het jou genees. Jy is skoon. Gaan maak die mense wakker!’
“Ek was nog nooit so kalm nie – ek is ’n drama queen! Ek het my ma se hande gevat en gesê: ‘Hou op huil. Die Grootbaas het gepraat, en ek het geluister. Ek is skoon.My onkoloog van baie jare, wat my as sy dogter beskou, staan toe daar met die scan in sy hand en sê: ‘My ou girl, jy weet ek glo nie, maar ek is nou ’n believer. Hier is nie eens ’n griepvirus of ’n letsel nie. Ek weet nie waarheen die kanker is nie!‘ Ék het geweet: die kanker is losgebid.“
’n Keuse
Die geloofwaardigheid van Ek droom van ’n droom lê daarin dat Elsje nooit ontken hoe moeilik haar situasie was en is nie. “Omdat ek moeite doen om make-up aan te sit en mooi aan te trek, weet mense nie altyd hoe seer en siek ek voel nie. Ek is so lief vir loop – ek het ’n keer ’n passasierskip mét my paspoort aan boord in Mexiko verpas omdat ek net aanhou loop en rondkyk het – en nou kan ek nie. Dis swaar om te aanvaar dat ek ’n stut moet dra en ’n sitting duck is. Ek wens ek kon net een keer weer my maandstonde kry.
“Maar ons is as fighters grootgemaak, -geestelik én mentally. Dit het my uithouvermoë geleer. Ek het geleer dat jy ’n keuse het. Jy besluit hoe jy jou situasie gaan hanteer. Staan op, kyk die lewe in die oë en lééf.”
Is dit wat Elsje sê wanneer sy as motiveringspreker optree? “Ja, mense donder dikwels deur die lewe. Ek sê: ‘Kom uit julle smart huise, haal julle mabé-pêrels af en leef met bewustheid! Ek het geleer om alles in te neem en die oomblik waarin ek is, te koester.“
Elsje se sin vir humor is haar redding. Sy tweet as Blairbitch en ontsien geen heilige koei nie. En dan is daar haar geloof: “As dit nie vir my verhouding met die Here was nie, was ek lankal bokveld toe. Ek chat elke dag met Hom. Ek glo ‘the thing that makes you different, makes you beautiful’.”
Dis hierdie vermoë om te straal, om midde-in die grootste uitdagings dit wat mooi is te soek en te skep, wat die hoogste medalje verdien. Een wat tien teen een uit ’n oordaad veelkleurige krale en polimeerkleirose sal bestaan. Met iewers ’n onverwagse kinkel – sodat dit real kan wees, soos Elsje.
Krale-terapie
“Die bont krale in kralewinkels, bakke vol geslypte tieroog- en rooskwartsklippers en maanstene laat iets in my gebeur. Ek wil daarmee wérk. Lapis lazuli-steentjies is die Here se ultimate blou.“
Toe Elsje in 2008 in die hospitaal was, het vriendinne krale gebring om haar besig te hou. “My eerste kralehangertjie met die polimeerkleirose wat ek self gemaak het, het mense se oog gevang. ’n Verpleegster wou dit van my nek af koop! Ek was nie seker of sy net vir my jammer gevoel het nie. Die volgende dag was sy terug met ’n lys bestellings. Só is my besigheid, Hip*E, gebore. Dit help baie met die depressie wat kanker by jou kan laat posvat en die wins help my mediese rekeninge betaal.“
Tydens bestralingsessies in ’n staatshospitaal het Elsje se skeppingswerk ’n nuwe dimensie gekry. “Een dag het ek krale van die huis af gebring en ’n groep van 15 vroue leer bead. Hulle het begin sing en vergeet waarvoor hulle daar was. As ek die dag laat was, het hulle my uitgedinges! Party het later hul eie ondernemings begin.
“Ek het tot einde 2011 daarmee volgehou, maar toe raak dit te duur. Ek sou baie graag weer wou afskop, indien iemand my een keer per maand kan borg met ’n boks krale, crimps en ander benodigdhede.“
Die juwele word van Bloemfontein en Pretoria tot in Los Angeles verkoop en kan van enige plek in die wêreld bestel word by
www.hip-e.co.za Vir motiveringspraatjies, bel 083 6918 354.
Ek droom van ’n droom deur Elsje Neethling Blair saam met Maretha Maartens verskyn middel September by CUM Uitgewers.