Deur Vilien-Miri Coetzee
Jy kan haar nie miskyk nie. Al is sy klein en slank, is daar ’n sekere grootsheid wat niks met liggaamsbou te make het nie. Daar by die tafel in Rockpool in Seepunt kom mense gereeld groet en gesels, en word hulle met ’n warm hartlikheid teruggegroet.
Hannele Steyn is nie onbekend nie. In die bergfiets- en driekampwêreld het sy sterstatus. Sy is immers die enigste vrou wat sover aan al 19 Cape Epics, die moeilikste bergfietswedren ter wêreld, deelgeneem het. Sy is boonop een van ’n groep van drie (twee mans en sy) wat van die begin vir elke Epic aangetree en dit voltooi het, en sy gaan haar beste probeer om die heel laaste een te wees om dit te doen!
Nie dat sy glo sy het ’n talent vir sport nie, al het sy reeds op universiteit in multidissiplinêre sport soos tweekamp en toe driekamp deelgeneem. “Ek het my voorgeneem om net harder te oefen as die volgende ou. Hoe harder ek oefen en hoe langer ek die pyn kan vat, hoe groter is my kanse om te wen.”
In 1993 het sy die kans gekry om ’n professionele driekamp-atleet te word en van Japan en Europa tot Rusland en Amerika gereis. Die prestasies het ingerol, onder meer wenner in die driekamp- wêreldkampioenskap in haar ouderdomsgroep.
Ná vyf jaar, het sy teruggekeer Suid-Afrika toe met die idee om ’n “normale, rustige lewe” te voer. Dit was totdat sy bergfietsry ontdek het. Hannele was by die wegspringpunt toe Kevin Vermaak in 2004 die Cape Epic begin het. In 2018 het die wedren die Hannele Steyn All African Women’s kategorie van stapel gestuur wat deur ’n vrouespan uit Afrika gewen kan word.
Die respek en die erkenning wat sy ontvang, is welverdiend. Maar dis nie net omdat sy trofees gewen het, dinge kan doen wat die gemiddelde mens nie kan nie en selfs ’n beker het wat na haar vernoem is nie. Hannele Steyn is ’n mens wat net nie opgee nie. Ten spyte van onmeetbare uitdagings en beperkinge wat in die weg van groot drome staan, het sy al van jongs af ’n ysere wil.
“Ek is gebore met ’n gaatjie in my hart,” vertel sy. Dis ’n toestand, wat in mediese kringe as ’n ventrikulêre septale effek, bekend staan. Destyds, met minder kennis daaroor, was dit ’n doodsvonnis, want as dit nie toegaan nie, beteken dit daar gaan heeltyd lug in jou hart in. Hannele s’n het gelukkig toegegaan, maar gedurende Covid weer bietjie oopgegaan.
“Ek glo, sonder om onverantwoordelik te wees, dis beter om te beweeg as om stil te wees. En ek het dit aan myself bewys,” sê sy.
Sy ken die binnekant van spreekkamers goed. In 2007, net voordat sy haar derde Epic sou ry, het ’n motor haar raakgery en haar kraakbeen is beseer. Haar eerste vraag aan haar dokter was: “Wanneer sal ek weer fiets kan ry?” Sy antwoord toe: “Eers oor ses maande.” Maar dit was wanneer sy haar volgende Epic moes ry…
In Augustus 2013 het sy haar tweede fusie (fuse) gekry. Hierdie keer vir vier werwels. Haar dokter het haar weer gewaarsku. Sy het haar tiende Epic voltooi. “Dis hoekom ek so bietjie snaaks loop,” grap sy. “Mense vra my dikwels wat is fout. Dan sê ek dis as ek normaal loop dat julle moet worry. Dan het die skroewe dalk uitgeval!”
Hannele ken van pyn. “Ek sê altyd ja en dan figure ek later uit hoe ek dit gaan doen.” Soos met die Freedom Challenge toe sy 3 000 km vanaf KwaZulu-Natal met ’n 12 kg-rugsak op haar beskadigde rug gery het. Sy sonder dit uit as een van haar grootste uitdagings tot nog toe. Dit was voor die tyd van spesialistoerusting, sy het sommer ’n paar kombuishandskoene aangehad om te keer dat haar hande in die reën verkluim.
Sy vertel ook van ’n soortgelyke ervaring tydens ’n Manga-resies: “Een aand het dit verskriklik gereën. Dit was die ergste reënval in die geskiedenis van die Klein-Karoo in Desember. Ek het die Tankwa-natuurreservaat in die donkerte binnegery. Vir 100 km was daar niks – en die reën het hard en aanhoudend begin val. Ek kon nie stop nie, want daar was geen bome of ’n berg met ’n grot van ’n aard nie.
“Ek het net twee keuses gehad: Ek kan afklim en doodgaan in hierdie reën, want ek gaan hier sit en net natter en kouer raak. Al kom iemand as hulle besef my tracker het gestop, gaan dit ’n dag vat om my te kom haal. Of ek kan bly trap. Elke pedaal se trap sal my nader aan ’n padstalletjie bring.” Ná baie huil en lag, baie gebede, ’n groot gesing en heelwat hallusinasies het sy wel veilig by haar eindbestemming gekom.
Vandag, op die ouderdom van 58 jaar, erken sy sy doen dinge baie anders. “In 2011 het ek opgehou om alles so geweldig kompeterend te doen. Vandat ek 13 jaar oud was tot ek 45 was, was al wat ek geken het, om die heel beste in iets te wees. Ek het ernstig, selfsugtig en fanaties geoefen.”
’n Gewone oefenplan het byvoorbeeld uit 30 uur se oefening per week bestaan. “As professionele driekampatleet het ek heeldag geoefen. Jy swem, jy hardloop, jy ry fiets, doen gimwerk, jy word masseer, jy eet, jy slaap en dan doen jy dit weer.” Toe sy begin met bergfietskompetisies , het sy op ‘n baie spesifieke program geoefen. “Ek het nie oefening gemis of afgedwaal nie tensy ek niks anders daaraan kon doen nie.
’n Egskeiding het haar anders na dinge laat kyk. “’n Mens deal moeilik met fisieke en emosionele pyn gelyk. Die lyf sê dit wil nie fisiek nog seer hê as jy emosioneel seerkry nie, en omgekeerd. Fisieke pyn kan jy net vat as jou kop sterk is.”
Hannele het steeds aan wedrenne deelgeneem, maar sy’t ook begin besef dat haar kompeterende sportloopbaan eendag gaan eindig. “Borge gaan jou nie borg as jy nie meer podiums kry nie. Ek het nie juis werksondervinding in my beroepsrigting gehad nie.”
Sy het teruggeval op haar studies in mikrobiologie en genetika, en toe ’n voedingskundige diploma gedoen. “Met my oorseeblyery en my sport het ek net besef hoe belangrik dit is vir jou liggaam om gesond te wees. Dit het baie te doen met jou leefwyse. Hoe jy oefen en eet. Ek het geweet: Hoe beter ek eet, hoe beter voel ek.”
Met vrae van bewonderaars oor wat sy in die oggende eet, was muesli altyd ’n voorbeeld van ’n gesonde ontbyt. Sy het toe die nodige bestanddele gaan koop en met handskoene en ’n masker begin meng en pakkies geweeg. Dit het haar ’n hele paar uur gevat om 15 kg se muesli te maak wat sy dan aan mense verkoop het.
Vandag is Passion4Wholeness, met elke bestanddeel wat vir ’n goeie rede daar is, in uitgesoekte Spar-takke, onder ’n Checkers-reeks en in ’n aanlyn winkel beskikbaar. Hierdie onderneming pak sy met dieselfde passie en gedrewenheid as haar sport aan. Verder rig sy ook ’n paar Epic-ryers en Iron Man-atlete af, help mense met hul eetplanne en hou daarvan om, spesifiek vroue aan te moedig om op die fiets te klim. Sy is ook by die I Love Boobies-veldtog en die ABSA SheUntamed-inisiatief betrokke en tree as ambassadeur vir ’n sekuriteitsmaatskappy op.
En klim sy nog op die fiets? Beslis, en sy het nie enige planne om te stop nie, maar die fokus is nou meer op die blote plesier daarvan. “Voorheen het ek net na die eindstreep gejaag, nou kyk ek rond en waardeer die natuurskoon.”
Waar sy voorheen teen ander meegeding het, sê Hannele, sy is nou haar eie grootste kompetisie. “Dit is ’n totaal ander uitdaging. Vandag is daar geen borge wat dit van my verwag nie en niemand wat op my check nie. Ek het ’n onderneming en nou wil ek die beste 58 jarige-sportvrou wees wat ek, Hannele Steyn, kan wees. Alles wat ek bereik het, is genade van Bo, dit weet ek vir seker.”
Hannele het onlangs teruggekom van die Tankwa Trek, die tweede moeilikste bergfietsresies ter wêreld, ter voorbereiding van die Cape Epic wat vanaf 17 tot 24 Maart 2024 sal plaasvind waar sy 613 km met 1 6850 m se klimme sal aanpak. Soos ons haar leer ken het, gaan sy haar allerbeste gee.
Lees ook: ’n Kaleidoskoop van kleur met koffie