Ek het by die kombuisvenster staan en uitkyk. Ek dink nie ek het na die berge gekyk nie. My kop was weer by hulle. Albert en die vrou.
Ek het met die Here staan en baklei. Hy kan mos sien ek het hulp nodig? Ek vra en vra al maande en dit voel my woorde kom niks verder as die plafon nie.
Dis toe Christa bel. Sy het ’n man op die Kommetjieskloof-pad opgelaai, sê sy, en die man het my naam en die plaas se naam op ’n papiertjie. “Franset van Bethal, staan hier. Ek bring hom nou.”
Nee! Nie vanoggend nie! Ek wou skree, maar Christa praat haastig.
Dis seker weer die een of ander hawelose mens wat Albert iewers raakgeloop het.
My ontroue man met die goeie hart.
Ek was waaragtig daardie dag niks lus vir ’n vreemdeling op die plaas nie. Ek wou alleen wees. Ek was nog nie klaar gebaklei met die Here nie.
Albert met sy af-vlerk-mense wat hy alewig aandra. Vir wat kan hy nooit sien my vlerke sleep ook op die grond nie?
Christa het in ’n stofwolk stilgehou, my op elke wang gesoen en gefluister; “Het jy al ooit so iets gesien?” Sy het agtertoe beduie waar die man steeds by die bakkie bly staan het.
Lang hare tot op die skouers wat blink in die son. ’n Grys baard tot op sy bors. ’n Wit jurk en romp. Bruingebrande bene en arms. Kaal voete. ’n Sak oor die skouer.
“Die ou is seker een of ander Jesus-freak,” het Christa voort gefluister.
Ek was vies vir haar wat die vreemde wese hier kom aflaai het. My energie was daardie dag op reserwe.
Sy het haarself op die naaste stoepstoel reggeskuif. Duidelik vrek nuuskierig oor hoekom die man my wil kom sien.
“Ek is Franset,” het ek gesê. Sy hand was sag.
“Ek weet.”
“Het Albert jou gestuur?”
“Nee.”
Hy wou nie sit nie, het op die stoep en werf rondgedwaal. Ek en Christa wou nie openlik staar nie.
Hy het die honde gevryf, sy hande oor die boomstamme gestreel en aan blomme geruik. Kort-kort sy hande ten hemele gelig.
“Goeie Christen! Kyk net wat doen hy! Bid hy of iets? Dis die freakyste ding wat ek nog gesien het!”
Ek moes met Christa saamstem. Op Bethal se werf was daar nog nooit so ’n verskynsel nie. Dit was veral verstommend dat die honde nie vir hom geblaf het nie. Hulle het al om hom gedraai.
“Hy is sweerlik ’n towenaar of ’n shaman of iets. Miskien ’n wit toordokter? Moet ek Bernard bel om die man te kom wegjaag? Dié ou is nie lekker nie. Ek sê jou sy kop raas.”
Iets in my wou die man laat bly. Asof hy my gedagtes kan lees, het hy nader gestap.
“Jy kan nou maar ry,” het hy vir Christa gesê. Ek het dit beaam. “Dis oukei, jy kan maar gaan.” Sy het onthuts haar koffie afgesluk en met ’n “Bel my as jy my nodig het” daar weg.
“Daar is ’n kamer met ’n bed langs die skuur,” het ek beduie na die akkommodasie van Albert se af-vlerke.
“Ek gaan nie oorslaap nie. Jy kan my later weer gaan aflaai.”
Hy het sag gepraat. ’n Aansteeklike rustigheid. Ek kon voel hoe my spanning wegdryf.
“Ek wil jou iets gee.” Hy het ’n opgerolde lap uit sy sak gehaal en ’n hopie gedroogde kruie en speserye op die tafel uitgegooi. Die sagte aroma het stadig deur die huis getrek.
Hy het my van al die kruie in die Bybel vertel. Anys, bitter kruie, kaneel, komyn.
Ek het daaraan gevat en dit onder my neus gehou en die vrede ingeasem.
Die man het geglimlag.
“Eet saam met my,” het hy sag gesê en ’n broodjie uit sy sak gehaal. Dit het soos ’n roosterkoek gelyk. Ek kon sien dis op ’n oop vuur gebak. Effe aangebrand.
Hy het dit in twee gebreek en een deel na my uitgehou. Dit het na gemaalde koring en olyfolie geproe.
Hy het verse uit die Bybel aangehaal waarin beskryf word hoe om die brood te bak.
Ons het lang tye niks gesê nie. Net daar langs die kombuistafel sit en eet.
’n Vreemde rustigheid het oor my gespoel.
“Waarheen is jy op pad?” het ek gevra.
“Jy kan my by die Schoemanskop-pad gaan aflaai.”
“Kan ek vir jou kos inpak?”
“Nee dankie.”
Hy het sy lap met kruie weer toegerol en in sy sak gepak.
“Ons kan maar ry,” het hy gesê.
By die afdraaipad het ek geld uit my beursie gehaal en na hom uitgehou.
“Ek het nie geld nodig nie.”
“Maar sal jy oukei wees so op hierdie pad? Min mense ry hier. Almal ry die nuwe teerpad.”
“Dis die regte pad.”
Hy het sy hand sag op my skouer gesit.
“Wat is jou naam?” het ek gevra.
Hy het net geglimlag.
“Jy is ’n sterk vrou. Jy sal oukei wees.”
Toe klim hy uit en begin stap.
Ek het sit en kyk hoe hy die grondpad afstap. Hy het nie een keer omgekyk nie.
Toe ek terugry plaas toe het ek gewonder of dit wat vandag gebeur het regtig gebeur het. Dit het soos ’n droom gevoel.
Die aand het Christa nuuskierig gebel.
“En toe? Is die Jesus-freak nog daar?”
Sy het half teleurgesteld geklink dat hy reeds weg is.
Ek het haar vertel hoe hy ure in die tuin rondgedwaal het.
“Was jy nie saam toe ons doer vroeg in die tagtigs Woza Albert! in die Markteater gaan kyk het nie?” het ek haar gevra.
Christa kon onthou hoe die drama deur Percy Mtwa, Mbongeni Ngema en Barney Simon opslae gemaak het. Dit het gegaan oor wat sou gebeur as Jesus tydens die apartheidsjare na Suid-Afrika gekom het.
Maar my gedagtegang het Christa geskok.
“Jy dink tog sekerlik nie die man is Jesus nie? Die ou is ’n freak. Jy kan dit mos sien!”
Ek het haar vertel hoe ek vanmiddag sit en dink het wat sal mens maak as Jesus die dag skielik by jou huis opdaag.
Christa was ’n rukkie stil.
“Wanneer kom Albert terug? Ek dink jy is nou te lank alleen op die plaas.”
Ek wou haar nie vertel van Albert en die vrou nie.
“Het die man nie iets gesteel toe hy so rondgedwaal het nie? Weet jy darem wat sy naam is en waar hy vandaan kom?”
Ek het Christa vertel van die rustigheid en die brood en die kruie.
“Genade Franset! Het jy saam met die man van sy kruie gerook of iets? Vriendin, ek dink jy het ’n behoorlike kuier nodig. As jy begin dink ’n ou met ’n wit skirt is dalk Jesus, is dit tyd dat ons jou kop besig moet hou.”
Ek kon daardie nag nie slaap nie. Daar was ’n vreemde bewing in my.
Ek het weer aan Albert en die vrou gedink, maar dit was asof iemand ’n skakelaar in my afgeskakel het.
Ek het onomwonde geweet ek gaan oukei wees sonder Albert.
Die geur van die man se kruie het vir maande in my huis gehang.
Toe die egskeidingsbrief kom, het ek langs die tafel gaan sit. Ek het met my hand in die bakkie kruie en speserye gesteek en van die sade en blaartjies stukkend gevryf. Kaneel, anys, komyn …
Toe voel ek dit weer. Die ongelooflike vrede.