Vandat ek kan onthou, was Ma behep met die boks koeverte vol saad. Op elkeen het sy in haar spykerskrif aangeteken wie die saad geskenk het, op watter dorp ons toe gewoon het en in watter jaar. Ma het ook neergeskryf hoe en wanneer die saad geplant moet word.
Om Ma se boks te verstaan, moet jy weet van ons swerfjare.
Elke paar maande of weke in ’n ander dorp. Pa het die wanderlust gehad. ’n Ontembare onrustigheid. Hy sou net een oggend opstaan en aankondig dat ons trek. Dan het ek en Ma die treiler gepak.
Pa wou nooit Ma se blikke met blomme saamneem nie. Die koffie- en jêmblikke met malvas en steggies moes altyd agterbly.
Elke keer voor ons ry, het Ma eers ’n rukkie staan en kyk na haar beddings waarin blom- en groentesaad gelê en wag het om te ontkiem.
Ma het die trekkery stil aanvaar. Maar ek onthou die een keer wat ek haar op die stoep tussen haar blikke blomme gekry het. Sy het op die rooi stoepvloer sit en huil.
Ma se boks saad het altyd saamgegaan. Dis asof Pa geweet het die boks is ’n streep waaroor hy nie moet trap nie.
As ek aan Ma dink, sien ek ’n vrou wat ’n kombuisvloer skrop. Ek sien haar maer heupe ritmies onder die deurgewaste rok beweeg soos sy skrop. Dit was asof ma se hele wese deel was van die skrop. Oor en oor en oor. Al was die vloer al skoon.
Noudat ek terugdink, dink ek Ma wou ons lewens skoon skrop.
Pa het sy standaarde gehad. Elke huis waarin ons getrek het, moes eers skoongeskrop en afgewit word. Van die plafon tot die vloer. Ou roet, muf en stof. Ma het afgedopte verf afgekrap.
Dan het Ma DDT gestrooi teen weeluise. Daar was altyd weeluise en kokerotte. Ek wonder hoeveel krotte in die land Ma skoongeskrop en ontluis het.
As die huis skoon was, het Ma begin spit. ’n Groentebedding in die agterplaas en ’n blombedding voor. Dan het sy geplant en in droogtetye emmers skottelgoedwater aangedra.
Ek het Ma eenkeer gevra hoekom doen sy dit. Sy weet mos Pa kan enige dag weer besluit om te trek?
’n Huis moet ’n blombedding hê. So het Ma gesê.
Ek het nooit een van Ma se blombeddings sien blom nie en het haar nooit weer gevra nie. Ma moes haar beddings hê.
Pa was ’n fotograaf. Hy het saans in die kombuis aan die rame gewerk. Ek kon my verkyk aan die trou- en familieportrette.
Pa het my en Ma nooit afgeneem nie. Hy het altyd ’n plek in die dorp gekry vir sy ateljee. Soggens het hy sy pak klere aangetrek en sy skoene blink gevryf. Dan het hy ateljee toe gery. Ek en Ma mag nooit naby die ateljee gekom het nie. Ek het soms gewonder of die mense ooit weet Pa het ’n vrou en kind.
Ek was gewoond daaraan om elke paar maande die nuwe kind in die skool te wees. Ek het nooit moeite gedoen om maats te maak nie. Dit was vir my net so sinneloos soos ma se beddings.
Ons het nooit vir Pa gevra waarheen ons op pad was nie. Dit was reise in stilte. Ure en dae. Deur baie dorpe.
Ek weet nie wat dit was wat Pa laat besluit het om by ’n dorp in te draai nie. Ek dink nie Pa het dit beplan nie.
Ons het altyd in die nag op ’n dorp aangekom. Dan het Pa na die Polisiekantoor gery en gevra of ons voor in die straat in die kar kan slaap. Partykeer het ons ’n paar nagte in die kar geslaap voor Pa ’n huis gekry het.
Toe het Pa op ’n dag sonder ons aanbeweeg. Ek was al op hoërskool. Ma het lank gewag dat Pa ons sal kom haal, maar hy het nooit gekom nie. Dit was toe ons in Newlands, Johannesburg gebly het.
Na ’n paar maande het die welsyn vir ons ’n plek in die gemeenskapsdienswoonstelle in Claremont gekry. Daar was net sement rondom die woonstelle. In die skrefie sonskyn in die kombuisvenster het Ma se malvas geblom tot ek matriek geskryf het.
Ek is met ’n onderwysbeurs en ’n tas vol welsynsklere universiteit toe en Ma het haar malvas versorg.
In my derde jaar op universiteit het ek die drama Death of a Salesman van Arthur Miller gelees en my Ma begin verstaan.
Nes Ma het Willy ook ’n obsessie oor saad gehad. Willy het geglo aan die American Dream. ’n Huisie met ’n white picket fence en blomme voor in die tuin waarin ’n gelukkige gesin woon.
Ma het altyd bly hoop. Haar boksie saad was haar droom.
Ek dink as Ma so voor haar sit en staar het, het sy gedroom van beddings rose, dahlias en krisante en hoe sy haar eie bete en wortels uit die grond trek.
Ma is dood net voor ek my eerste onderwyspos gekry het.
Ek was kwaad. Ek wou so graag vir Ma ’n huisie huur waar sy haar blomme kon plant.
Ma se boksie saad en haar as het saam my deur ’n paar aflosposte getrek.
As die lewe vir my te veel geraak het, het ek die boksie uitgehaal en Ma se spykerskrif-raad oor die plant van blomme op elke koevertjie gelees.
“My Kind, saai altyd jou saad eers in kissies. Dit gee hulle kans om sterk te word voor jy dit uitplant. Rina Greyling wat in 1962 in Christiana langs ons gebly het, het sommer tamatiekissies gebruik wat sy met koerante uitgevoer het. Sy het gesê goeie kompos is die geheim. Dit wat jy in die grond sit, is wat jy daaruit kry. So het sy gesê.”
In ’n geel koevert was koringblom-saad.
“Ma het dit by Leentjie Nel gekry wat in 1964 langs ons in Florastraat in Pietersburg gebly het. Jy was te klein om te onthou, maar sy het vir jou die mooiste blou kappie gemaak. Dit was vrek warm daar.”
Daar was ’n koevertjie Foxglove-saad wat Stella Meyer van Eerstegoud in 1965 vir haar gegee het. Die Trompletblomme se saad was in ’n bruin rekeningkoevertjie met ’n venstertjie. Ma het daarop geskryf: “Elsie Maree, Zeerust 1968.”
Die Kappertjiesaad was in bruin papiersak toegevou. Ma het dit in 1972 by Rita Nortier van Tromptraat in Brakpan gekry.
Die meeste saad het met die jare gemuf en verpoeier. Ek het dit nooit probeer plant nie.
Daar was Pronkertjiesaad wat sy in 1974 by Annet Enslin van Fordsburg gekry het. Namakwalandse Daisie-saad wat Hermiena Bester in 1975 in Boksburg vir haar gegee het.
Die boks saad was ’n chronologiese boekstawing van my lewe as kind. Elke dorp, elke keer wat ons die treiler moes pak.
Ma was het nooit vriende gemaak nie, maar sy kon nie verby ’n mooi blomtuin stap nie. Dan het sy die moed gehad om aan te klop.
“Middag, Mevrou, ek sien jou Jakopregops op die sypaadjie skiet so mooi saad. Kan ek maar ’n paar oes?” Dan het Ma die vrou se naam gevra en dit op die koevert geskryf.
Na haar dood het ek gewonder wat om met Ma se as te doen. Dit het my gepla dat sy so saam my van onderwyspos na onderwyspos trek.
Die vaste pos in Vanrhynsdorp was so bestem.
Dit was blomtyd in Namakwaland toe ek met my treiler besittings koers kry. Vlaktes vol blomme. Ek het so gewens Ma kon dit sien.
Toe weet ek.
Ek het gestop en ma se fles as uit die treiler gegrawe.
Ek het gestaan en kyk hoe my ma in die wind oor die blomvlaktes swewe.