Partykeer, as haar ma nie by die huis was nie, het sy teen die hangkas se rakke opgeklim tot sy die kissie met die glasstukke kon raakvat.
Haar ma wou nie hê dat sy met die glas speel nie. “Van die punte is skerp en sal jou sny,” het sy gekeer.
In die kissie was ’n bruin papiersak met skerp porseleinskerwe. Wit en blou met hier en daar goue stukkies. Toegedraai in ’n fluweellap was daar ook mooi gladde porseleinskerwe uit die see. Daar was ook stukke glas en klippies wat deur jare se golwe geslyp is.
Haar ma se see-skatte.
Net die skerp glas in die sakkie kom nie uit die see nie. Dit was stukke van haar ma se gemmerfles wat lank voor haar geboorte gebreek het.
Soms het haar ma die kissie uitgepak. Maar die skerp skerwe in die sakkie het sy net een keer uitgehaal. Sy het toe gehuil. Dis oor dit so ’n mooi fles was, het sy gesê. ’n Antieke gemmerfles. Ouma het dit nog vir haar gekoop. ’n Trougeskenk.
Haar ma wou nog eendag weer die fles aanmekaar plak. So het sy altyd gesê. Sy het dit aanmekaar geplak toe dit die eerste keer gebreek het. Maar toe breek dit weer. Nou is van die stukke weg.
Maar dis nie ’n probleem nie, het haar ma haar verseker. Eendag, dan gaan sy nog op die strand ’n stuk porselein optel wat perfek gaan pas en dan gaan sy die fles weer heel maak.
Sy het altyd gewonder hoe haar ma so ’n presiese stuk gaan kry. Maar sy het haar nooit gevra nie.
Haar ma het elke oggend met sonopkoms op die strand gaan stap. Ver ente. Dan het sy die skatte opgetel wat die see die vorige nag uitgespoeg het. Net baie spesiale stukke is in die kissie gebêre.
Die wit en blou porseleinstukkies was altyd die grootste fondse. Dit is stukke porselein van die Sao João wat in 1552 naby Port Edward gestrand het. Nie ver van hulle huis af nie.
Sy kon haar verluister aan haar ma se vertellinge van hoe die oorlewendes ’n oorlewingspos in die bosse gemaak het en hoe die kaptein se vrou haarself in die sand begrawe het om haar naaktheid na die ramp te bedek.
Haar gunstelingtye was as sy saam met haar ma op die strand sit en haar ma stukkies uitgespoelde glas teen die lug hou. “Kyk,” het haar ma altyd gesê. “Hierdie glas is vir baie jare in seesand en skulpe geskommel. Die skerp punte is geskuur en gemaal en nou is dit mooi en glad en kan dit niemand meer seermaak nie. Kyk mooi deur die glas, dan sal jy die wonderlike wêreld onder die see sien.”
Toe sy klein was, kon sy dit sien. Die seewier wat deur die strome heen en weer wieg. Die visse en skulpe.
Haar ma het haar geleer hoe om oesters rou van die rotse af te eet as dit laagwater is. Sy het haar die name van die verskillende skulpe en seediertjies geleer.
As sy en haar ma so ver langs die see gestap het, het hulle vergeet Pa is by die huis en Pa is weer kwaad.
Haar ma het haar vertel hoe Ouma haar al die dinge as klein dogtertjie geleer het. Lank voor die gemmerfles gebreek het, het haar ma en Ouma nog saam na die see se geskenke gesoek.
Toe sy klein was het die lengte van haar staptogte saam met haar ma afgehang van Pa se bui. As Pa na werk by die deur ingestap het en sy gemoed was so onstuimig soos die see op ’n stormnag, dan het haar ma haar hand gevat en het hulle gaan stap.
As dit laagwater was, het hulle anemone in die rotspoele gaan soek. Dan het hulle hul vingers versigtig in die blom gedruk en gelag as die blare sag toevou.
Partykeer het haar ma gelag dat die trane loop.
Hulle het soms lank op die strand gesit en kyk na die stuk oseaan voor hulle waar die Sao João gesink het. Dit was vir haar as kind wonderlik om in haar verbeelding die nag van die ramp te herleef deur haar ma se stories. Die stormsee, die vreesbevange bemanning wat dele van die vrag afgooi. Peper uit die ooste. Porselein.
Dit het haar van kleins af gefassineer dat die porseleinstukkies na meer as vierhonderd jaar steeds uitspoel.
Daar was tye wat sy gewonder het wat van haar ma sou word as die see eendag ophou om die Sao João se porselein uit te spoeg.
Dit het haar ma aan die lewe gehou. Daardie perfekte stukkie sal nog kom, het sy bly glo.
“Die see vorm en maal dit nog en as dit reg is, sal hy dit gee.”
Sy wou haar ma glo.
Die kissie skerwe is saam ouetehuis toe. Haar ma se suster wou dit weggooi.
“Moenie vir my sê jou ma het nog altyd die boks glasstukke nie!”
Ouma het glo gesê Ma trou met ’n man wat haar net trane gaan bring. Sy het gesê Ma se huwelik sal net so lank hou as wat die fles heel bly. Die honeymoon was skaars verby toe is die fles aan skerwe. Pa was ’n humeurige man.
“Jou ma het mos bly glo sy sal haar huwelik elke keer weer aanmekaar kan plak.”
Sy was kwaad vir die vrou met die tong wat skerper is as die skerwe van haar ma se fles.
Sy het gehuil toe sy haar ma by die ouetehuis moes los. Mens kon nie eens die see hoor uit die klein kamertjie nie. Haar ma het op die bed gesit met die kissie op haar skoot. Ma en haar drome vol skerwe.
Toe haar ma haar destyds gebel het toe haar pa dood is, kon sy nie huil nie.
’n Beroerte tydens ’n woedestorm.
Arme Ma. Arme vry Ma.
Sy kon later nie meer op die strand loop nie. Ligdag was sy altyd onrustig. Gestrand op die stoep.
Toe die vergeet haar ma se onthou kom steel, het Ma elke dag die kissie op haar tafeltjie begin uitpak.
Die hopie wit en blou porselein altyd eenkant. Uitverkorenes. Die seegeslypte glas het sy nog soms teen die lug gehou. Die koningsbloues altyd eerste. Dan die groenes.
Die sakkie skerwe het sy nooit weer uitgepak nie.
“Los dit in die sakkie, my kind, die stukke sal jou hande sny,” het sy een keer vir oulaas gewaarsku.
Na haar ma se dood het sy op hartseer dae die stukke uitgepak. As sy die porseleinstukke van die Sao João tussen haar vingers gevoel het, het sy die see geruik en gehoor hoe haar ma met haar praat. “Sien jy, vir jare geslyp tot dit jou nie meer kan sny nie.” Die see was Ma se geneser.
Sy het Ma se as een vroegoggend op die strand by Port Edward gestrooi. Net na sonopkoms soos dit ’n strandloper se kind betaam. Haar voete het ’n nat ry spore al langs die water se skuimrand gemaak. Sy het teruggekyk na die pad wat sy geloop het en gewens sy kon weer sien hoe haar kinderspore langs haar ma se maer voete oor die nat sand kronkel.
Die mis wou nie daardie oggend lig nie. Die lig was ’n sagte grys. Die see was ’n diep blou. Kalm.
Toe sien sy dit in die sagte blink van die water wat in die sand wegsyfer. Die wit en blou skerf. Die mooiste een wat sy nog gesien het.
Ma se perfekte skerf.
’n Juwelier het die skerf met ’n silwer rant omraam sodat dit aan ’n ketting om haar nek kan hang.
Sy vertel graag vir mense dit is ’n skerf van ’n skip wat meer as vierhonderd jaar gelede naby haar geboortedorp gesink het. Dan vertel sy van die staptogte saam met haar ma langs die see. Die poele, die anemone.
Dit het lank geneem voor sy besef het watter genesing die see en die skerwe vir haar ma was. Die hoop dat die herstelproses eendag volmaak sal wees.
Sy en haar kinders stap graag langs die see. Strandlopertjies. Hulle ontdek saam die rotspoele en hulle lag as die see-anemone om hulle vingertjies toevou. Partykeer glo sy sy hoor haar ma se lag in die wind.
Sy stap graag ligdag langs die see en haar oë soek steeds die skerwe van die Sao João se porselein.
Maar sy soek nie meer na die perfekte skerf nie.
Hy hang reeds naby haar hart.