Tjorts
Sy draai die truspieëltjie skuins. Maak haar vol lippe vir oulaas rooi. Sy glimlag vir haar beeld.
“Good luck, Dolla!”
Sy kyk in die rigting van die glaspaleis oorkant die straat. Regs van die huis strek die stad uit in die verte van die sonsondergang. Sy was nog altyd verlief op hierdie uitsig vanaf Northcliff-koppie. Sy en Eben het baie heildronke op sonsondergange gedrink vanaf die uitsig van sy jacuzzi op sy dek. Daar was tye dat sy gedroom het hoe sy die missus van die huis teen die rykmanskoppie sal word.
Nadat sy die vorige week die dokumente van die private speurder ontvang het, weet sy sy was eintlik net die mistress. Olivia die mistress.
Die lang treë skuins oor die teer verraai haar ervaring as oud-loopplankmodel. Dis waar Eben haar die eerste keer gesien het. Toe oortuig hy haar daar wag ’n blinker toekoms aan sy sy. As … hy eers sy vrou verlaat het. Esther, dit is sy wat die meeste van die dokumente vir die speurder gegee het. Dokumente en gesinsfoto’s. Foto’s van romantiese aande saam met haar eggenoot.
Olivia draai haar sleutel in die slot. Eben kyk verras op as sy skielik voor sy lessenaar staan.
“Hallo my Baby.” Sy gaan sit soos altyd met haar agterstewe op die lessenaar se rant en draai skuins na hom.
Sy ken hom. Sy kan sien hy is ontsenu en dat die ratjies van sy brein agter sy groen oë oortyd werk. Dis wat hy doen as hy homself glibberig uit ’n situasie wil wriemel.
“Olivia, jy het nie laat weet jy kom nie?” Die effense hakkel in sy stem verraai sy paniek. Na vyf jaar ken sy haar Baby goed.
“Het ek jou verras, my Baby? Jy was stil die afgelope twee weke. Seker besig om jou voor te berei op Esther se terugkeer uit Kaapstad? Sak en pak die keer, hoor ek? Lyk my jou dae as Pendel-eggenoot is verby?”
Sy sien hy sluk swaar aan sy addamsappel. Haar Baby is erg ontsenu. Daar is mikroskopies klein sweetdruppeltjies op sy voorkop. Arme Ebie.
Sy skiet die bruin koevert met dokumente oor die tafel.
“Ek is blond, Eben, bottelblond. Ek is nié stupid nie.”
Hy begin weer hakkelend praat, maar sy leun vooroor en sit haar lang vingernael op sy lippe.
“Sjhhh, Ebie. Nie nou tyd vir jou gladde bekkie nie.”
Sy kyk op haar horlosie en dan vermakerig na hom. “Drie, twee, een …” Sy wag ’n sekonde. Haar foon lui. “Ek het die deur oopgelos.” Sy knipoog vir Eben. “Jou gelukkige dag, Ebie!”
Twee vroue stap by die deur in.
Olivia gee ’n laggie. “Voel jy sleg, Eben. Jy lyk skielik so bleek?”
Die twee vroue beweeg vinnig agter die lessenaar in. Cable Ties zirts Eben se hande en voete aan sy kantoorstoel vas. Hy woel swetsend.
“Hoe dan so ongesellig vanaand? Jy hou mos daarvan om geboei te word? Né, Girls?”
Die twee vroue kom staan met gevoude arms langs Olivia.
“Jou drie trofeë op ’n ry! Is jy nie ’n gelukkige man nie, Eben? O, en Esther stuur groete, sy kon ongelukkig nie ’n vroeë vlug kry vir ons reünie nie. Ai, en ons sou haar so graag wou ontmoet. Jy kan ast ware sê ons drie en Esther is nou besties. Maar sy sal jou seker oor als inlig in jou egskeidingsdokument. O ja, sy het jou seker nie laat weet nie. Daardie egskeiding wat jy ons al vir jare beloof, dit lyk my dit gaan nou uiteindelik deur! Esther sê vir ons jy kan hierdie glaspaleis, die wildsplaas en die Kaapse strandhuis ook koebaai soen. Tsk tsk, Eben, ons kan nou sien Esther waardeer regtig nie die soort man wat jy is nie.”
Monique stap om die lessenaar en plant ’n soen op sy kaalgeskeerde kop en tuit haar lippe jammerlik vir hom.
“Arme Ebie.”
“Monna, jy is die een wat my die beste verstaan. Jy ken my die beste. Dis alles vir jou. Dis vir jou wat ek wag.”
Eben fluister smekend.
Monique kyk vir ’n oomblik verbouereerd na Olivia.
“Staan vas, Meisie. Hy weet jy is die een met die week hartjie.” Olivia skuif die dokumente oor die tafel in Monique se rigting. “Fokus, Meisie. Fokus. Onthou hoekom ons hier is. Moenie in sy oë kyk nie, jy weet mos hoe kan hy jou tot in die bed kyk! Né, Ebie? Ons weet mos almal?”
Renate gooi haar rooi krulhare agteroor en lag uit haar keel.
“Kom, Monique, kom weg van die adder voor hy jou hipnotiseer met sy charm. Jacuzzi toe met jou! Ek gooi gou vir ons meisies iets in om te drink. Ons moet ons nuutgevonde vriendskap vier!” Haar voete ken die pad na die kabinet. Monique skuif die deure na die patio oop. Sy stroop haar klere af en klim kaal in die jacuzzi.
“Mooi né? Ek sien jou oog is nog geoefen en mis niks nie. Jy het ons darem perfek met die hand uitgesoek! Een vir elke luim. Sagte Monique, vurige Renate? En ek? Ebie? Waar val ek in?”
Sy streel sag oor sy wang. “My sexy Eben …”
“O, my Olyf …” hy kreun saggies as haar vingers oor sy voorkop streel.
“Jy weet mos jy is my sielsmaat. My alles. Ek weet wat in die dokumente staan. Esther is slinks, ek het jou mos al vertel? Sy is op pad om my finaal te kom vernietig. Jy moet my glo, Olyf. Sy gebruik julle.”
“O, Eben …” Olivia soen hom saggies in die nek. Hy kreun. Haar lippe soek sy oor. “Olivia …”
Dan gil hy van die pyn. ’n Straaltjie bloed loop van sy oorlob af teen sy nek.
“Ebie, Ebie … tog so ’n sucker vir ’n vry! Hoe goed ken ons jou nie.”
Eben swets. Dit lyk of die are teen sy slape gaan bars van woede.
“O, O, is ons nou kwaad? Werk jou charm nie meer met ons nie? Het jy jou slag verloor, Ebie?”
Renate bring ’n glas whisky nader. “Dit sal jou help om die slegte smaak uit jou mond te kry, Vriendin. Ek dog toe ek sal maar die Dalmore oopmaak. Die enetjie wat jy gebêre het vir as ek ééndag joune is, onthou jy, Eben? Slukkie, my Lief?” Sy dwing die glas teen sy swetsende lippe.
“O nee, daar mors ek op die Hugh & Crye-hempie. O nee, net nie die Hugh & Crye-hempie nie! Kom laat ek dit vir jou gaan uitspoel.”
Sy ruk die hemp oop. Ontwerpersknope spat in alle rigtings teen 100 dollar per knoop.
Monique loop druppend oor die Persiese mat. Sy soek deur die CD’s in die kabinet.
“Ek sien jy het toe Fifth Harmony vir my gaan koop, Ebie. So dierbaar van jou. Nou kan ons paartie!” Sy sluk die glas wat Renate na haar hou in een sluk weg.
“Wow! En om te dink jy het daardie bottel Dalmore vir my ook gebêre. ‘O, Monna, die dag as jy nét myne is …’ Ai, Ebie, jy is tog so ’n gewoontedier. Vir elkeen van ons dieselfde belofte?”
Monique begin sy kantoorstoel na die middel van die vloer stoot. “Kom help, girls, ons wil nie hê Ebie moet op die paartie uitmis nie!”
Hulle skuif die stoel tot hy ’n uitsig op die jacuzzi het.
Renate en Olivia stroop ook hul klere af en die drie-stuks klim saam in die borrelende water. Hulle klink glasies en drink ’n heildronk op elke swets-vlaag wat wat Eben uitbulder.
Renate maak nog ’n bottel Dalmore oop. “Skies dat ek vra, Ebie, maar vir hoeveel van ons het jy bottels gebêre? Jou stoute kabouter! Ek sien daar is ’n paar bottels!”
Sy skop teen sy been en die kantoostoel spin in die rondte.
“Spin the bottle! Wie sal dit wees, Ebie? Watter een van ons sal die gelukkige wenner wees?”
Sy bring die stoel tot stilstand. Dan skop sy hom sekuur in die kol. Hy gil van die pyn.
“Dis vir die Cadillac CTS-V Coupe waarvoor ek tot in ewigheid gaan wag …”
Sy neem ’n skêr uit sy lessenaarlaai en kom staan voor hom.
“Jy weet, daar is een ding van jou wat my nog altyd irriteer.” Sy knip die een kant van sy hangsnor af.
“Balans. Jy is mos gesteld op balans, my Skat?”
Sy spin die stoel weer. Eben se swetse dreun harder as die musiek.
Olivia bring die stoel tot stilstand.
“Ai, dat ’n man wat so van beheer hou so kon opslip. Jy het jou hand oorspeel, Ebie. Drie van ons? En arme Esther in die Kaap? Bietjie gulsig van jou, dink jy nie? Jy is ’n ou rakker!”
Sy haal een van sy antieke swaarde bokant die kaggel af. Sy gaan staan voor hom en sny met die punt van die swaard die Levi-jean se knope los.
“Mmm, ’n regte rakker. Meisies, wat dink julle, sal ons Eben se Joodse herkoms vier? Ek dink die swaard is skerp genoeg?”
Eben se gille weerklink deur sy glaspaleis. Die meisies jil van plesier.
Renate skink nog ’n rondte. Sy skink tot die loodkristalglase ooroop en dit plasse op sy kersiehout-lessenaar maak.
“Skies, Ebie, ek weet jy hou van sindelikheid. Kom ons maak gou skoon. Sy skeur ’n punt van sy Hugh & Crye-hemp af en vee die plas whisky op.
Eben brul swetsend.
“Nee, nee, dit sal nie deug nie. Suke lelike taal voor drie dames?” Sy stop die stuk hemp in sy mond. Die are bult weer teen sy slape en sy gesig raak bloedrooi van woede.
Renate lig haar glas. “Tjorts, op die man van my drome!”
“Hoor! Hoor!” beaam Olivia.
Monique staan by die drankkabinet. Sy skink ’n paar rye shooters.
“Paaaartie time!”
Eben se drie kaal nimfe sluk ’n reënboog shooters af en dans om sy stoel.
“Wag! Wag! Ek het ’n blink idee!” Sy draf by die deur uit en keer terug met haar grimeersak.
“Jy is mos gesteld op perfekte grimering, my ou Brombeer? Meisies, kom laat ek julle my nuwe trieks leer. Ebie het my mos op ’n permanent makeup-kursus gestuur. My instrukteur sê ek leer mooi. Laat ek eers Ebie se welige wenkbroue reg pluk.”
Eben se lyf krul van die pyn.
Monique haal haar tatoeër-toerusting uit die sak. Sy demonstreer haar wenkbrou-vernuf aan die een kant van Eben se gesig voor haar waarderende gehoor.
“Joegaai! Madame Butterflaai!” Renate grawe nou ook in Monique se sak rond.
“Ek dink ek sal dié kant van sy wenkbrou met die waks-strippies regruk. Daai welige hare wat so krul, irriteer my ook al lank. Oeps! Ag askies, Ebie, ek wou nie die wimpers ook strip nie, maar moenie worry nie, ek sien hier is vals wimpers waarmee ek die skade kan herstel!”
Olivia het beter planne en sny die res van die Levi van Eben se wriemelende lyf af.
“Julle weet mos Eben hou van ’n Brazilian wax? Hoe lyk dit, sal ons hom bietjie bederf?”
Eben wriemel en brul so dat die stoel byna omkantel.
“Goodness greatness, great balls of fire!” Gil Renate en neem ’n paar selfoonfoto’s van hul handewerk.
Monique bekyk Eben se gesig met ’n kennersoog.
“O wee, ek sal die balans moet herstel. Kom, laat ek die ander kant van die snor ook trim. Oeps, te veel! Nou weer daardie kant. Oeps! Wat dink julle?”
Renate gaan staan op aandag voor Eben. Sy gee hom ’n plegtige saluut. “Heil, Eben! Heil, die man van ons drome!”
Olivia meen hulle moet Eben se waardigheid herstel en kies een van die George Neale-sydasse in sy kabinet uit.
“Mmm, sal ons die een met die rooi strepies vandag dra, my Lief?”
Sy knoop die das netjies om sy nek.
“Nee wag, dit sit skeef.” Renate verstel aan die das. Sy trek dit nog stywer.
Die musiek word harder gedraai. Nog rye shooters word geskink. Kort-kort verstel iemand aan die das.
***
Dis lankal stil in die glaspaleis teen Northcliff-koppie toe die polisie op ’n klag van rusversteuring opdaag.
Die voordeur staan oop en die drankbottels lei polisiemanne tot by die studeerkamer.
Die minnaresse is al weg, net die minnaar is nog daar …
Superspeurder Dirk Jansen van Moord en Roof daag na twee uur by die toneel op. Hy is slaperig en befoeterd. Hy rook twee Camels klaar terwyl hy stadig deur die studeerkamer snuffel. Dan haal hy vir hom ’n Coke uit Eben se kroegyskas. Sy hande soek na die Grandpa-poeier in sy bo-sak. Hy sluk die bitter poeier behaaglik met die soet kola weg.
“Lyk my hier was ’n moerse paartie. Nou laat ek sien wat is die skade.”
Hy lig die laken op en steier.
“Jou wragtag! Manne! Wil julle vir my sê die ou blikskottel was toe al die tyd ’n cross dresser? Nee Magtie, dat so ’n vername man so tot sy einde moet kom, is ’n skande! ’n Man van sy statuur … Wys jou net.”
Hy skop met die punt van sy Grasshoppers na die glasskerwe van die Dalmore-bottels wat gesaai rondom die kantoorstoel lê.
“Lyk my hier het dinge lelik skeefgeloop.”