Sirkus
Sy voel die stof van die harpuis aan haar hande. Ver onder haar fluister die toeskouers besorg.
Tromme tril. Spanning meng met die reuk van springmielies.
Afwagting.
Die eerste tree. ’n Tweede.
Die kabel bewe liggies. Sy hou haar balans. Hande klem ferm om die balanseringspaal.
Vandag gaan sy dit maak, besluit sy. Sy wil.
Die mense raak stil onder haar.
Sy haal diep asem.
Sy sal. Sy moet.
Nog een treetjie. Sy kry vastrap op die kabel.
Nog ’n tree. Balans. Vier, vyf treetjies.
Die toeskouers begin ontspan.
Dié keer gaan sy dit maak, glo sy. Glo hulle.
Ses, sewe, agt …
Hoop.
Iewers bars ’n ballon. Die knal ruk deur haar lyf aan die kabel.
Haar kneukels klem wit om die paal. “Bly kalm,” fluister-sê sy vir haarself.
Sy verplaas haar gewig totdat die kabel ophou wankel.
“Ek kan. Ek kan.’’
“Moenie oorgee aan vrees nie. Hoor jy? Haal diep asem. Fokus. Die veiligheidsharnas is mos behoorlik vas? Jy het dit mos self nagegaan? Ontspan, jy is veilig.”
Haar hart praat bewend teë.
Sy kyk ondertoe. Op die houtbankies om die ring sit hulle. Haar ma, haar suster, haar kinders. Hulle kyk vir haar. Hulle oë is bang.
Haar vangnet. Gelap met hoop hang dit moedeloos tussen haar en hulle.
Sy het al deur die lug getuimel, verby die net, tot in ’n stofwolk in die ring.
Maar dié keer sal sy hulle wys, sy sal bo bly. Balans hou. Nie weer val nie. Sy wil.
Elke keer is die opstaan moeiliker. Moet sy dieper grawe om moed te kry om wéér op te staan en weer tot bo te klim. Elke keer lyk die klim hoër. As sy vandag val … Sy weet nie of sy dit meer in haar het om weer op te staan nie.
Haar bene bewe. Die kabel tril liggies. Sweet sypel deur die harpuis aan haar hande. Haar vingers klem stywer …
Sy kyk af na haar wit kneukels om die stuurwiel.
Die verkeer beweeg nie. Die karre vorm ’n lang slang voor haar uit. Links en regs van haar staan dit bankvas.
Haar selfoon lui. Dis hy. Haar maag maak ’n knop.
Sy knyp die foon tussen haar oor en skouer vas.
“’Laat! Laat! Laat!” Hy is kwaad.
“Kan jy nie eens dié een keer in jou lewe betyds wees nie? Ek moes geweet het ek kan nie op jou staatmaak nie. Jy weet ek moet sewe-uur daar wees!”
Sy woede laat die angs om haar hart klem. Haar hande sweet op die stuurwiel. Sy klou.
Sy balanseer vernuftig op die kabel. ’n Paar treetjies. Versigtig.
Sy neem die 14de Laan-afrit. Die foon lui weer. Sy druk dit dood.
Haar balans is vandag goed! Nog net ’n paar treetjies.
Hy staan in die deur en wag. Sy sien die kinders se gordyne beweeg versigtig.
Die huis is stil. Vlekkeloos blink.
Sy volg hom tot in die kombuis. Hy gooi vir hom ’n whisky in.
Die bottel is al half. Half vol. Half leeg.
Sy stap gehoorsaam kamer toe.
Die kinders se deure is toe.
Sy gaan sit op die punt van die bed en wag.
Môre sal sy die groen trui aantrek. Die een met die rolnek. Die lamswol sal sag om haar lyf voel. Sy sal haar nuwe parfuum aanspuit, besluit sy.
Happy.
Hy het dit laas keer vir haar gekoop.
“Jy is so gelukkig!” So het Anet nog vir haar gesê toe die pakkie by die kantoor aankom.
Elke hou laat die kabel gevaarlik heen en weer swaai.
“Kyk net hoe kwaad het jy my gemaak! Jy moet altyd alles verongeluk.”
Hy sit langs haar op die punt van die bed. Sy kop tussen sy hande. Hy huil.
“Ek sal harder probeer,” sê sy en gaan klim in die bad.
Die warm water laaf haar lyf.
Sy moet bo bly. Sy kan nie weer val nie.
Happy.
Sy spuit dit in die oggendlug. Mikroskopiese klein druppels klou aan die lamswol.
“Die groen pas perfek by jou oë. Jou oë is vandag weer so ’n diep groenblou.”
Anet is altyd so dierbaar. Sy rangskik die rose vir haar in ’n vaas en sit dit op haar lessenaar. Langs die foto. Op die foto lag ’n man en ’n vrou en twee kinders.
Happy.
“Jy is so gelukkig,” sê Anet en ruik aan die rose.
Vanaand sal sy glimlag.
“Dankie vir die blomme,” sal sy sê en hom op die wang soen. Hy sal sê; “Dis ’n plesier. Jy verdien die beste.” En dan sal hy haar op die voorkop soen.
Hulle sal saam aan tafel sit. Die man, die vrou en die twee kinders.
Happy.
Sy hoor die toeskouers sug van verligting.
“Jy lyk vanoggend weer pragtig. Kry jy nie warm nie?” Vra Anet. “Nee jong, jy weet mos ek kry altyd koud,” sê sy.
Haar selfoon lui. Sy skrik. Maar dis haar ma.
“Dit gaan baie goed Mamma, niks om oor te kla nie. Regtig Mamma.” So sê sy vir haar ma.
“Mamma het jou lief. Ons is hier as jy ons nodig het.”
“Regtig, Mamma, dit gaan goed,” sê sy.
Sy balanseer vandag vernuftig op die kabel. Sy is al byna halfpad. Nog net ’n entjie.
Vanaand gaan sy lasagne maak. Hy hou van lasagne. Sy sal kerse op die tafel sit en haar rooi rok aantrek. Hy hou van haar rooi rok.
Balans. Nog ’n paar treetjies.
“Hallo? Waar is jy? Ek het ’n verrassing vir jou!”
Hy is baie besig, sê hy. “Ek kom laat.”
Sy wag.
Die kerse brand.
Sy hoor sy kar in die oprit.
Hy ruik na whisky. Hy stap verby die tafel tot in die kombuis. Ys klingel in sy glas.
Hy kyk vir haar.
“Hoekom het jy daardie rok aan? Waar was jy vanaand?”
Hy gooi die glas. Die whisky spat oor die rooi rok.
“Slet!”
Sy blaas die kerse dood en stap kamer toe. Gaan sit op die punt van die bed en wag.
Die mense in die binnekring snak na hul asems. Die kabel wankel. Die eindpunt is so naby.
’n Ballon bars.
Sy sweef deur die lug. Sy sien haar ma, haar suster en die kinders.
Sy sweef oor hulle koppe by die tent uit. Hoog sweef sy.
Tot by die wolke.