Houtskool knars oor papier. Sy kyk na haar Waarnemer agter sy esel. Sy donker oë volg elke kontoer van haar lyf. Soms huiwer dit, gaan weer terug op die kontoer. Maar sy oë is vandag anders. Gewoonlik streel dit sag oor haar naaktheid. Vandag is daar ’n aggressie in sy houtskool.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Buite waai die wind onrustig. Sy sou hom wou vra oor gisteraand se uitstalling, maar sy en haar Waarnemer praat nie tydens sessies nie. Net altyd die kopknik by die deur.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Na daardie eerste dag toe hulle by die koffiewinkel in die museum ontmoet het, het hulle nooit weer gepraat nie. Toe was hulle kunsstudent en kunstenaar. Nou is hulle Waarnemer en Objek.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“Ken jy Tintoretto se Susannah and the Elders?” het hy haar daardie dag gevra. Sy peinsende blik vanaf sy hoektafel het haar ongemaklik gemaak.
“Ek dink hy was ’n pervert.” Sy het gewonder of hy ook een is, die man by die tafel.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Hy was ’n Barok-skilder. Dis hoe hulle dit gedoen het. Hy was net ’n waarnemer. Susannah was vir hom ’n kunsobjek.”
“Ek weet wat ’n waarnemer is, ek studeer kuns. Maar ek stem nie saam met die konteks van die skildery nie.”
Sy het haar tablet nader getrek. Haar hande het vererg getik: “The painting shows Susanna, a young married woman, sitting on the edge of a small pool, preparing to take a bath. She is watched by two elderly men, acquaintances of her husband, who desire her. The lustful elders are depicted in the painting hiding behind a rose trellis in her garden. They are watching and spying on her, trying to find an opportunity to catch her alone in the garden.”
Hy het stil na haar gestaar. “Dit was een van Tintoretto se meesterwerke.”
Sy het haar serp reg getrek om haar vol borste te bedek, maar hy het dit raakgesien.
“Ek wil jou so skilder.”
Sy was kwaad. “Jy bedoel ek is vet genoeg om vir ’n skildery in die Barok-styl te poseer?”
“Ek werk aan ’n uitstalling met Barok-invloede.”
Sy oë het haar onkant gevang. Dit was asof hy na haar kyk soos Tintoretto na Susannah gekyk het, maar sy het nie die blik van die ouderlinge in sy oë gesien nie.
“Sal jy vir my poseer?”
Daar was ’n vreemde bevrediging in die manier waarop hy na haar gekyk het. Mans het nog nooit so na haar gekyk nie. Vir mans is sy vet. In die blik van hierdie Waarnemer het sy soos ’n Barok-godin gevoel.
“Ek sal ongemaklik wees,” het sy probeer verweer.
“So jy het ’n probleem met die manlike staar?”
Sy het gelag vir sy vertaling. “My dosent praat van die male gaze. Ek het ’n probleem dat dit na meer as vierhonderd jaar steeds praktyk is.”
Sy het na die reuse advertensie-bord oorkant die straat gewys. Dit was ’n Calvin Klein-advertensie. ’n Vrou in ’n vooroor gebukkende posisie op haar knieë asof sy ’n teefhond is wat wag … Haar half naakte lyf was oor die reuse advertensiebord uitgestrek. Voor haar op die sypaadjie het mans in grys pakke hulle na kantoorblokke gehaas.
Sy het hom dopgehou terwyl sy oë oor die model se rug en agterstewe gly.
“Jy kan dit nie met Tintoretto se Susannah vergelyk nie. Dis nie kuns nie.”
Sy het sy oë probeer lees.
“Jy dink nie Susannah is as ’n onderdanige objek geskilder nie? Jy weet tog seker sy is geskilder vir die male gaze? Daardie advertensie, dit is geskep vir die male gaze. Dit is beslis nie gemik op die vroue wat die onderklere dra nie. Dis vir mans om na te kyk.”
“En die vroue wat dit aantrek? Dink jy nie dit laat hulle soos die model voel nie?”
Sy wou stik.
“Onderdanig?”
“Nee, sexy. Vroue sal daardie soort onderklere aantrek om sexy te lyk.”
Sy het opgestaan en reg voor hom gaan sit. Sy wou haar opponent in die oë kyk.
“Vir mans ja. Vroue wil sexy lyk vir mans.”
“Wil jy nie?”
Hy het haar achilles raakgetrap. Sy het hom aangegluur.
“Rekening!”
“Wag … ” het hy in die koers van die kelner gesê.
“Mag ek?” Hy het sy sketsboek oopgemaak.
Sy het sit en kyk hoe sy vingers die houtskool liggies vashou en hoe sy maer hande ritmies oor die papier beweeg.
“Hier.” Hy het die skets uitgeskeur en saam met sy kaartjie voor haar neergesit. Sy wegstap was lank en skraal. Selfversekerd.
Die gesig op die skets was ’n spieëlbeeld van haarself. Die res het haar laat steier. Sy was naak. Dit was asof hy die presiese rondinge van haar mollige lyf onder die los jurk kon sien.
“Nege-uur, môreoggend, my studio.” Sy spykerskrif agter op die visitekaartjie het ’n ferm opdrag gegee. Sy het ’n vreemde drang gekry om hom te gehoorsaam. Sy het weer na die skets gekyk. Sy was vir haarself mooi. Sy het nog nooit vir haarself mooi gelyk nie. Sy kon deur sy oë na haar lyf kyk. Die rondings was mooi deur sy oë. Dit was ’n lekker gevoel.
Na daardie dag het hy haar Waarnemer geword. Sy was sy Susannah, sy het die meisie in Manet se piekniek geword. Sy het die gewillige Waargeneemde geword. Die male gaze … Sy het geweet mans gaan na haar staar as die sketse uitgestal word, maar dit het haar nie meer gepla nie. Deur sy sketse wou sy na gestaar word.
Hy het vir haar belangrik geword, haar Waarnemer.
Sy was die oggend na hul ontmoeting betyds by sy studio in die ou woonstelgebou in Joubertpark. Die mure was afgeskilfer. Die vertrekke was leeg, behalwe vir die sketse in voltooide en halfvoltooide stadiums wat hy aan drade gehang het. Heen en weer gespan oor die vertrek. Soos wasgoed. Almal vroue. Barok-vroue. Objekte vir die Waarnemer.
In die sitkamer was daar ’n verhogie met ’n verslete gemakstoel, ’n chaise lounge en ’n ovaal spieël. Sy esel het eenkant gestaan.
Hy het vir haar beduie om op die stoel te gaan sit. Sy hande was koud en sag. Hy het haar klere sagkens uitgetrek en elke ledemaat gestileer soos hy dit wil hê. Sy kon by die venster uitkyk. Onder in Joubertpark het ’n groep skoonmakers in die son gesit en pap eet. Sy kon sien hoe hulle uniforms oor hulle vet lywe span. Dit was herfs en die bome het die rommel in die park met geel blare bedek.
Sy sketse het haar beeldskoon laat voel. Vroulik, sensueel, vetloos. Iets waarna mans sal wil kyk. Ideaal vir die male gaze. Sy het nooit op straat en in sosiale situasies dieselfde blik van mans gekry nie. Net in sy sketse van haar. Sy het geleer om deur sy oë as die Waarnemer na haarself te kyk. As die Waargeneemde en Objek was sy vir haarself mooi. Selfs as haar oog die spieël in die studio gevang het, was sy vir haarself mooi. So anders as haar spieëlbeeld in winkels se aantrekhokkies. Anders as haar ongenaakbare spieël by die huis.
Sy sketse van haar was sag en koesterend. Haar molligheid het sag deur die houtskoolhale geskyn.
Saans het sy haar klere uitgetrek en voor haar spieël gaan staan. Dan het sy met haar hande sag oor haar lyf gestreel. Sy kon al meer deur sy oë die skoonheid deur haar selluliet raaksien.
Dit het hulle roetine geword. Die oggende saam met haar Waarnemer was terapie.
Sy kon vroegoggend al sien daar is iets fout met haar Waarnemer. Sy houtskoolhale is vandag hard en knarsend. Daar is ’n onrustigheid in sy blik.
Sy weet skielik: Die uitstalling …
Asof hy haar gedagtes lees, hou hy op skets. Hy kyk na haar. Sy blik is leeg.
Hy haal die papier van die esel af. Hy skeur dit in stukke. Die wind dwarrel deur die venster. Dit tel die flarde papier op. Sy staan langs haar Waarnemer en kyk hoe flenters oor Joubertpark waai.
“Moenie weer kom nie,” sê hy sag by die deur.
Op pad bushalte toe koop sy die koerant. “Niemandt se slegste werk nog.” So staan dit in die opskrif bokant die foto van die skets. Sy kyk na die skets. Sy kyk daarna deur die oë van die resensent. Sy probeer, maar sy kan nie meer die skets deur die peinsende oë van haar Waarnemer sien nie.
Deur die oë van die resensent sien sy dit: die vet, die rolle, die naaktheid van haar selluliet.
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Lewer sowat 9 kranse Bestanddele 100 g (160 ml) koekmeel 175 ml water…
Hierdie webwerf gebruik koekies.