Ek onthou die eerste keer wat ek die lemmetjie vasgehou het. Ek was bang. Maar ek wou iets voel. Enigiets. Verkieslik iets intens soos pyn wat deur die doodsheid van my siel sou dring.
Iets aan die skerp pyn en die warm vloei van bloed het my laat voel ek het ’n geheime uitlaatklep ontdek.
Na die eerste snit was die vrees verby. Ek het geweet as ek versigtig is, sal ek nie te diep sny nie. Dit is iets waaroor ek beheer gehad het en nie Ma nie. Die res van my lewe kon sy beheer, maar ek was in beheer van die Minora Blade.
Ek het ’n vaardige chirurg geword. Met elke lem-haal het ek erkenning gegee aan my bestaan. Pyn en bloed het my mens laat voel.
Die gly van die lem is verslawend, het ek besef. Ek kon my verkyk aan die donkerrooi bloed wat in die wit bad drup. Die skerp pyn van die sny wat oombliklike verligting bring. Die dowwe seer in die dae daarna elke keer as ek aan die sny raak. Ek het doelbewus daarop gedruk om die pyn te voel want dit het my daaraan herinner ek is nog vlees.
Dit is ’n koesterende pyn. ’n Lekker pyn. En as die sny gesond word en nie meer wou pyn nie, was die behoefte oorweldigend om weer te sny.
Ek onthou die dag toe ek en Ma by die botaniese tuine sit en tee drink het. Ma was in ’n ongewone goeie luim. Dit was ’n warm somerdag.
“Vir wat dra jy sulke lang moue op so ’n lekker dag?” wou Ma weet.
“Ek hou van lang moue,” het ek verweer.
“Skuif ten minste jou moue op.” Ma het altyd soos ’n opdrag geklink.
“Ek wil nie.”
Ma het opgespring en my arm gegryp en my mou opgeskuif. Sy het behoorlik van my weggesteier toe sy die honderde fyn rooi letsels op my voorarms sien. Sy het my woordeloos aan die arm geneem en ons is daar weg. Eers laat die aand het sy in my kamer kom staan.
“Wil jy my ook vernietig?” het sy gevra.
Ek het niks gehad om Ma mee te antwoord nie. My binneste was toe reeds vir so lank leeg.
“Het ek nie genoeg swaar gehad onder …” Sy het dadelik stilgebly, maar ek het geweet sy verwys na Pa. My arme Pa wat my so styf kon vasdruk. Pappa wat my saans met die komberse kon toewoel na ’n storie. Die man wat soms voor hom sit en uitstaar het. Die man in die kis.
Ek en Ma het die volgende week Kaap toe gevlieg om ’n sielkundige te gaan sien. Ver van die huis. Ver van die skande dat prof. Human se dogter haarself in stukkies kerf.
Ek het gesien ma skryf op die legger: Mev. M. Niemand. Ek het gewonder wie is mev. M. Niemand? Toe besef ek hoe slim ma se keuse was. Niemand.
Ma het kontant betaal vir die besoek en ek dink Ma het gedink sy het darem nou my probleem aangespreek. Mev. Niemand se dogter het nooit weer teruggegaan na die sielkundige nie. Haar dogter was daarna net versigtiger met die lem. Elke keer as Prof. Human mev. Niemand se dogter se arms geïnspekteer het, was daar nie nuwe letsels nie.
Prof. Human was eers trots dat sy mev. Niemand se dogter so vinnig kon vasvat en van die swakheid kon genees. Maar toe bars Prof. Human een aand die badkamer binne en sien die snye op mev. Niemand se dogter se bobene. Daarna het sy die arms en bobene elke dag kom inspekteer. Sy het die wegsteekplekke aan die binneboud, onder die arms, onder die borste ontdek. Prof. Human was gefrustreerd. Sy het mev. Niemand se dogter beveel om op te hou, haar gedreig, gegil, geskree.
Ma het nooit probeer uitkom by die kern van my seer nie. Die simptome was vir haar skandelik.
Ma was ’n hoogs begaafde, geleerde vrou, maar sy kon nooit die leegheid in haar kind verstaan nie. Ek glo nie sy het ooit besef sy is deel van my pyn nie.
Die verligting na die sny was nie iets wat ek verwag het Ma sal verstaan nie. Haar lewe was verdeel in swart en wit. Die doolhowe van grys gebiede in my lewe was vir haar ’n frustrasie.
Arme ma. Gestraf met ’n kind soos ek. Arme, perfekte Ma. Die noodlot het haar ’n lelike streep getrek.
Ma was trots op haar bloedlyn wat sy nagevors het vandat haar eerste perfekte voorsaat saam met die Hugenote aan wal gestap het. Nie een van hulle het ooit skeef getrap nie. Pilare van hul gemeenskappe. Hoogs geleerde gestewel en gespoorde Humans. Oupagroot was ’n professor, haar pa was een, ma is een.
En toe is ek gebore.
Arme Ma.
Die eerste keer wat ek gesny het, was in graad nege. Ek het daardie aand gehoor hoe ma met ’n onderwyser by die skool praat oor ek sukkel om aan te pas by die nuwe skool.
“Sielkundige!” Ek kon hoor hoe ergerlik Ma was. Hoe kan ’n onderwyseres haar aanraai om haar kind na ’n sielkundige te neem?
Noudat die letsels van jare se sny my pyn lyn vir lyn naboots, wens ek Ma het destyds vir die arme juffrou geluister wat my uit radeloosheid uit die koshuis van die spogskool laat skors het. Sy het ’n punt beet gehad, ou juffrou Maree. Sy was die eerste een wat kon raaksien Prof. Human se dogter is nie net ’n rebel nie, sy is effe mal.
Ma het daardie aand seker ’n uur op my gegil oor die vernedering en oor ek ondankbaar is oor alles wat sy doen om vir my die beste te gee.
Ek het na haar tirade sit en luister en gedink, my arme blinde ma. Sy kon Pa nie verstaan nie. Hoe sal sy my kan verstaan?
Arme Pa. Arme Ma. Arme mev. Niemand se kind met die bloedlyne.
Ek het nie voor daardie aand geweet presies watter verligting sny kan bring nie. ’n Rukkie voor Ma se tirade is die saad geplant. Ek het myself met ’n mes raak gesny. Ek het met ’n soort selfbevrediging staan en staar na die bloed wat op ma se wit kombuisteëls drup. Ek het daardie aand die kloppende vingerpunt vasgehou en gekoester. Myself getroos in die pyn. As die vinger ophou klop, het ek dit gedruk dat dit weer bloei. Ek was in beheer van die pyn. Ek was in beheer van iets.
Die aand van Ma se tirade het ek op die bed sit en dink aan die bloed op die kombuisvloer en die genot van die pyn.
Pa se badkamer en kamer is onaangeraak gelaat na sy dood. Ma het die deure toegetrek. Ek het partykeer ingesluip as ek na Pa verlang. Dan het ek op die bed gaan sit en staar soos Pa. Ek wou sien wat hy gesien het.
Pa was pynlik netjies in sy kamer en badkamer. Hy was baie presies oor sy besittings. Sy boeke was gekategoriseer, sy notas netjies in sy spykerskrif. Bokant Pa se lessenaar was sy grade in goue rame. Ma het dit daar gehang na sy dood.
Ek het altyd graag staan en kyk hoe pa skeer. Die presiese hale vanaf sy strottehoof tot onder sy ken. Voor sy dood het hy hom al meer begin raak skeer.
Pa se hande het nie gebewe nie. Sy siel het geruk.
My slim Pa. My siek Pa.
“Hart eis bekende akademikus,” So het die koerante oor Pa se dood geskryf. Ek het die oggend van Pa se dood gesien hoe Ma en die dokter die leë pilhouers weggooi.
Arme Ma. Arme Pa met die siek hart.
Pa het ’n paar pakkies Minora Blades in sy badkamerkassie gehad. Ek het die wit boksie met die geel en rooi streep netjies oopgemaak. Soos Pa dit altyd met presisie gedoen het.
Die lemmetjie was lig en koud in my bewende hand.
My werk as navorser in Engeland was vir ma ’n verligting. Dit het haar onthef van die plig om my lyf elke aand in die badkamer te kom inspekteer.
Toe het die beroerte Ma se briljante brein ingesluk. Die ouetehuis het laat weet Ma gaan agteruit en hulle sukkel om haar te hanteer.
Dat so ’n wrede siekte juis vir Ma uitgesoek het. Sy het heeltemal beheer oor haar brein verloor.
Die traxirit vanaf die lughawe tot by die ouetehuis was ’n terugreis. Ek het in Londen verleer om aan my pyn te dink.
Ek het my moue opgeskuif en na die ou letsels gekyk. Dit het lank geneem om te genees.
Ma was in die afdeling van verswakte bejaardes. Sy het regop op die bed gesit en staar na die muur. Sy het my nie herken nie.
“Dis ek, Ma se dogter.” Ek wou haar dwing om my te onthou.
“Ek het nie ’n dogter nie,” het sy gesê.
Ek het lank langs die bed gesit en na my slapende Ma gekyk. Sy was nie meer my ma nie. Sy was ’n klein bondel mens in ’n fetusposisie op ’n bed.
Laatmiddag het die dokter opgedaag om met my te kom praat. Hy het my vertel hoe die beroerte Ma se brein vernietig het en hoe sy 24 uur per dag opgepas moet word omdat sy haarself leed aandoen.
Hy het sy hand saggies op my voorarm gesit.
“Ek wil jou iets wys.”
Hy het die moue van Ma se nagklere opgeskuif.
My binneste het geruk.
Op haar maer arms was daar honderde dun lyne.
Bloedlyne.