Sweetheart
Niemand kon ná die tyd onthou hoe Gustaf Brink in die dorp aangekom het nie. Hy was een dag net daar op die Imperial se stoep. Netjiese wit pak. Panama-hoed. Mooie man.
Na hy die derde dag op die stoep alleen sit en tee drink het, het Hermien Basson, mede-eienaar van die hotel, vir Keinie van Wyk gebel.
“Kom kyk in jou lunchtyd wat sit hier op ons stoep. Ek dink hy is hier om te bly. Glo stinkryk. Wewenaar. Aantreklik hoor! Hy het sy gebroke hart hier op Sederville kom laaf. Foei.”
Keinie se Jan was toe al ’n jaar dood en Hermien het gedink haar vriendin verdien die eerste kans op die los gelukkie wat die hubare vroue op Sederville getref het.
Die nuus het gou versprei en Keinie was nie die enigste vrou wat skielik die behoefte gekry het om by die Imperial te gaan tee drink nie. Hermien moes ’n nuwe helper in die kombuis en ook ’n kelnerin aanstel om die dorp se vroue op die stoep te bedien.
Hubare én gehude vroue het op die hotel se stoep kom kwetter om teepotte. Party net om te kyk. Ander om te kwyl. Gustaf eenkant en waardig by sy tafel. Immer besig met sy koerant en kamma onbewus van die koketterige kykery in sy koers.
’n Halfmaan tafels het hom daagliks oor die randte van teekoppies beloer. Die vroue van die drie susterskerke elk by hul eie tafel en dan was daar ook die vroue van die AGS in die kring koekeloerders.
Die aantreklike wewenaar se koms het ’n hupse blomtydperk in die distrik se sosiale lewe veroorsaak. Die silwer en kristal is uitgepak en gepoets en stoom het uit stowe getrek. Gustaf was natuurlik die eregas by elke ete en sy plek gereserveer onder die vlerk van die hoopvolle gasvrou.
Almal het aan sy sjarmante lippe gehang. Die vroue bewonderend en die mans dapper om nie by die nuwe kêrel af te steek nie. Van boerdery tot politiek kon hy praat. Hy het die gasvroue met hul kookkuns gekomplimenteer en harte week gemaak as hy bewoë sy oorlede Hetta se gastronomiese vernuf besing.
Gustaf Brink was die beste ding wat die distrik in jare getref het en gou was hy op elke moontlike komitee op die dorp. Hy het uitgeblink in rolbal en jukskei en sy vaardigheid met ’n pannekoekpan by basaars het altyd ’n klein skare om hom vergaar.
Na die tweede maand waarin hy ruimskoots van die Imperial se gasvryheid gebruik gemaak het, het Hermien begin kriewel oor die betaling van die rekening. Sy banksake is gekompliseerd met Hetta se boedel het hy vertel en ’n brief gewys wat belowe dit is net ’n kwessie van tyd dan sit hy dik in die pond.
Dit het Hermien nie lank gelukkig gehou nie en sy het al suurder begin raak met haar flambojante gas se verskonings. Hoe harder sy gekla het, hoe meer koeverte met kontant van weldoeners is onder haar deur ingestoot. Later genoeg om Gustaf nog ses maande in die Imperial te laat bly.
Dis Kerneels, Hermien se man, sleeping partner in die hotel, en bestuurder van die kroeg, wat haar gereeld herinner het dat die Imperial se stoep sedert Gustaf se koms elke dag volgepak is.
Net die eerste maand het die mooie man sy afstand op die hotel se stoep gehou. Daarna het hy die vroue genooi om hul tafels teen syne te skuif. Hy het potte tee en skons bestel en bontgestaan om galant stoele uit te trek.
Kerneels en die ander manne van die dorp het die teedrink-sirkus op die hotel se stoep vanuit die kroeg betrag. “Soos ’n klomp brommers om ’n …” was die meeste boere se opsomming van die verskynsel, maar Hermien se sleeping partner wou nie toelaat dat die man wat die nuwe blomtydperk by die Imperial veroorsaak, openlik sleggesê word nie. “Manne, hy hou die vroue besig en uit ons hare. Hierdie rondte is op my. Op Blink Brink!”
Die enigste hubare vrou van die distrik wat nie op die Imperial se stoep gekuier het nie, was Ella Jones, erfgenaam van haar pa se imposante Brahmaan-stoetery. Nooit getroud nie en enige tyd net so ’n hardwerkende boer soos die ander in die distrik. Sy is die enigste vrou wat in Kerneels se kroeg saam die manne ’n dop mag drink. Daar is selfs ’n foto van haar en Boeta, haar voorste stoetbul, in die kroeg wat geneem is toe sy een van die finaliste van Landbouweekblad se boer van die jaar was. Ella in die Johnsons hemde en broeke en vellies wat sy soos haar pa en oupa by die Koöperasie koop.
Dis hoekom die ding almal onverwags gevang het. Een oggend het Ella haar nuwe wit Ford Ranger voor die Imperial getrek en Gustaf en sy koffers opgelaai.
Die distrik het gesidder van skok. ’n Opvolg-skok het die dorp die volgende week getref toe Ella in ’n fleurige geblomde somerrok aan die arm van Gustaf by die Imperial aansit vir tee.
Kerneels het vertel mens kon die atmosfeer op die stoep nie met ’n broodmes deursaag nie. Die ronde tafels is weer van mekaar weggeskuif. In die waas van hul nuutgevonde liefde was Gustaf en Ella klaarblyklik onbewus van die bitsige blikke van die skinderbekke. Ook vir die mans was Ella se transformasie ’n bitter pil, maar Kerneels het geweier om die Landbouweekblad-foto af te haal.
Gustaf het gou sy eie bloedrooi nuwe Ford Ranger gery. Hy het sy wit pakke vir John Deere-hemde verruil. Pure boer.
Hy en Ella is stil by die landdroskantoor op ’n buurdorp getroud en daar was lank ’n voelbare verdriet onder die hoopvolle vroue van die dorp. Dat vaal ou Ella hulle so kon fnuik.
Ella het Gustaf die hoof van haar huis en boerdery gemaak en Herklaas Nortier, Ella se bankbestuurder, het lang konserwatiewe waarskuwings op haar verliefde ore laat val.
Skinderbekke het openlik verkondig hulle sal elke motgevrete kerkhoed in hul hangkaste opvreet as dié huwelik hou.
Daar was nie meer een goeie woord oor Blink Brink op Sederville gesê nie.
Maar vir Ella was hy haar “Sweetheart”. Hulle het Vrydagaande in die Imperial se eetkamer gaan eet en Ella het vooraf gebel om Hermien opdrag te gee hoe om Sweetheart se gunstelinge te berei. Hermien het nie gekla nie want die res van die eetkamer was gewoonlik vol bespreek want Ella en Sweetheart se bewegings is so getrou soos ’n sepie op TV gevolg. Verslag van elke sent wat Sweetheart van Ella se hardverdiende geld bestee het, is soos ’n sappige brokkie deur die dorp versprei.
Blink Brink se vertrek uit die dorp was net so ongesiens en onverwags as sy koms.
Ella se Ford het die oggend met skreeuende bande voor die bank stilgehou. Sy was ure by Herklaas Nortier en Lafras Venter, haar prokureur van Bloemfontein, het ook die middag op die dorp aangekom.
Die nuus het gou versprei: Sweetheart het Ella leeggesuig soos ’n bosluis en laat spaander.
Uit simpatie het nie een kerkhoed gesneuwel nie en toe Ella ná die drama weer die eerste keer met haar Johnsons-klere by die kroeg instap, het Kerneels ’n rondte dubbels gegooi om haar weer in die broederskap te verwelkom. Ella het aangekondig sy gaan vir die eerste keer in jare bietjie vakansie hou. Kaap toe. Toe bestel sy nog ’n rondte.
Nie lank daarna nie het Kerneels een middag met die koerant onder die arm by die kroeg ingedraf.
“Sakeman sterf tragies.” So het die koerantopskrif gelui by die berig oor Gustaf Brink wat by Chapmans Peak in die Kaap beheer oor sy rooi Ford bakkie verloor het en in die see gestort het.
Toe Ella terugkom van haar vakansie, het sy met een van haar blomrokke by die kroeg ingestap en ’n rondte dubbels bestel.
“Op ’n nuwe begin,” het sy aangekondig. “Hoor hoor,” het die manne beaam.
Voor die Imperial se kroeg het haar wit Ford Ranger gestaan. Kerneels het opgemerk die regterkantse voorste lig is flenters.