kategorieë: Lees

Splinters, hoofstuk 11

Die koperkapel

Die koperkapel kom uit sy gat
En sluip die randjie rond:
“Dit het gereën; die veld is nat,
En nat is die rooi-geel grond.”
Die meerkat kom, en sy ogies blink,
En hy staan orent en wag.
En die stokou ystervark sê: “Ek dink
Die reën kom weer vannag.”
Maar die geitjie piep: “Dis glad nie reën!
Dis kollerig, swart en rooi:
Kom jy sulke reën in jou lewe teen –
So glad, so styf, so mooi?”
En die wyse steenuil waag sy woord:
“Dis bloed, dis mensebloed!
Dis die lewensbloed wat hierdie oord
Se bossie-wortels voed!” – C. Louis Leipoldt

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Of die bloed van die geliefde van die onbekende Engelse weduwee werklik by Rooiwal naby Koppies in die Vrystaat gevloei het, weet ons steeds verseker nie, maar ek het aan Leipoldt se woorde gedink toe ek en Giel presies 116 jaar na die slag van Rooiwal die klipkoppies uitgeklim het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Mensebloed. Lewensbloed het beslis daar gevloei.

Ons wou terugloop op die spore van tyd om die graf van die weduwee se geliefde op te spoor. Giel se Geskiedenis-onderwyser by Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria het graag die storie van die weduwee vertel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

’n Mooi storie.

Ons het geklim tot waar die klippe in halfmane gepak is en waar Engelse soldate snags waggestaan het. Hulle kon uitkyk tot by die spoorlyn, waar die Boere dikwels Engelse treine vol ammunisievoorraad oorval het en ook in ’n stadium die brug opgeblaas het.

Voor ons in die laagte het die ruïnes van die Engelse barakke gelê. ’n Paar rou rooigrond baksteengeboue deur die jare van pleisterwerk gestroop. (Oom Dolf van Koppies vertel die Engelse het omtrent elke doringboom in die omgewing afgekap om die bakstene te bak.)

Mens kan steeds duidelik sien waar die Boere se Krupp-kanon sy teiken getref het. Van die mure het ook na buite geval, waarskynlik weens die plofstof wat na die slag deur die Boere in die geboue geplant is.

Ons kon uitkyk tot waar die spoorlyn oor die brug oor die Renosterrivier loop. ’n Paar meter onder die moderne brug kan jy steeds die klipfondamente van die ou brug sien.

’n Ent links voor ons het die  begraafplaas en gedenkteken ter nagedagtenis van die slag van Rooiwal gelê.

Dis waarheen ons wou gaan om die soldaat se graf te soek.

Dit is ’n geweldige emosionele ervaring om te besef dat soveel bloed op die stukkie aarde voor jou gevloei het. Op 7 Junie 1900 het 47 Engelse en een Boer daar gesterf nadat generaal Christiaan de Wet die Boere opdrag gegee het om die barakke met die Britse voorrade aan te val.

In die begraafplaas is daar agt grafte met klein metaal wit kruise waarop staan: “Unknown Soldier British Forces”. Netjies in ’n ry, elk omring met wit klippe.

In die ry langsaan is die graf van Percy Draper van Camptons Horse. Sy grafskrif sê hy het in 1900 per ongeluk verdrink. Langs hom rus Lance Corporal J Mahood van die Royal Irish Rifles wat in 1901 gesterf het aan wonde wat hy in ’n geveg opgedoen het. Aan die einde van dieselfde ry is die een Boer begrawe wat in 1900 die slag van Rooiwal gesterf het. P. Myburg het van Heilbron gekom.

Die gedenkteken langs die grafte is ’n reuse klipstapel. Die inskripsie herinner dat die oorwinning by Rooiwal ’n groot aanmoediging vir die Boere was aangesien die moraal op daardie tydstip van die oorlog baie laag was.

As die verhaal van die weduwee se geliefde waar is, moes hy dae na die Vrede van Vereniging op 31 Mei 1902 gesterf het. Dus, vroeg in Junie 1902. Byna presies twee jaar na die slag van Rooiwal op dieselfde terrein. Dit maak sin dat hy ook in die begraafplaas begrawe sou word. Waarskynlik in een van die ongeïdentifiseerde grafte.

Of dit is soos ons graag sou wou glo.

Soos Giel se onderwyser 41 jaar gelede die storie vertel het, was daar na die sluiting van die Vrede van Vereeniging nog heelwat Boerekommando’s in die veld wat nie die boodskap ontvang het dat die oorlog verby is nie.

Die kommando by Rooiwal buite Koppies was glo een van hulle.

Die Engelse Bevelvoerder in Koppies het ’n patrollie uitgestuur onder leiding van ’n jong offisier om die Boere in te lig om die wapen neer te lê.

Die Boere, wat nog geglo het die oorlog is aan die gang, het ’n hinderlaag vir die Engelse patrollie gelê en die voorste offisier doodgeskiet voor hulle die Engelse se wit vlae gesien het.

Ons kon nie die verhaal in geskiedskrifte opspoor nie. As dit waar is, was die dood van die offisier waarskynlik ’n verleentheid vir die Boere en ’n slag vir sy makkers wat die vredesboodskap wou oordra. Dalk was almal van hulle al dat die uitgerekte oorlog en wou hulle nie die bepalinge van die vredesverdrag skaad nie.

Soos ek sê, dit is wat ons wil glo.

Die legende lui dat die offisier se weduwee die graf elke jaar met die herdenking van sy dood besoek het. Sy het elke keer ’n week in die omgewing vertoef en elke dag by die graf gaan sit. Jaar na jaar het sy getrou gekom.

En toe het sy weggebly.

Prof. C.J Barnard het in sy Grepe uit die Krygskuns van die Boere-generaals beskryf dat die Engelse duisende ponde se voorraad by die barakke op Rooiwal gehou het en dat generaal De Wet se teiken veral die baie ammunisie was.

Na die bloedige slag het die Boere die barakke geplunder. Daar was genoeg warm klere om die hele Vrystaatse mag te klee, skryf Barnard.

Die ruim voorraad het verkykers, horlosies, koek, sjokolade, vleis, vrugte, koffie en suiker ingesluit. Die Boere kon buit wat hulle wou en het glo veral in die vonkelwyn ingevaar.

Barnard skryf ’n heildronk is op Lord Roberts gedrink om hom te bedank vir die voorraad wat hulle kon buit. Die manskappe het ook drie dawerende “Hoera’s vir oom Christiaan” geskree. Dik sigare is gerook en daar is fees gevier met die kiste vol vonkelwyn.

Generaal de Wet het die manne vroeg die volgende oggend blykbaar moeilik van die groot buit weggekry. Elkeen is daar weg met ’n perd wat so gelaai was, dat hulle die perde moes lei.

Voor hulle die volgende oggend met hul voorraad en krygsgevangenis kon vertrek, het Generaal De Wet opdrag gegee dat die oorblywende voorraad en ammunisie aan die brand gesteek moes word. Volgens Barnard is die voorraad met ’n geweldige vuursuil die lug in geskiet.

In die koppies rondom die barakke het ons talle stukkies antieke porselein en glas opgetel. Voor die barakke het ek ’n gedeelte van ʼn silwer lepel uit die grond gegrawe.

Net voor ons vertrek, het ons ’n laaste draai deur die begraafplaas gestap. Dit word steeds netjies in stand gehou en die grond rondom die grafte word omgespit en gehark.

Toe lê dit daar. Na 116 jaar lê die Martini-Henri-koeëldoppie op die gras en wag om opgetel te word.

Op ’n slagveld soos die, is elke koeël afgevuur om iemand dood te maak. En vir elke gestorwene was daar ’n ma, familie of ’n weduwee wat vir jare na die oorlog nog gerou het.

Soos die onbekende Engelse weduwee.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Maak vanjaar jou beste jaar

Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…

4 hours Gelede

Skoonheidsprodukte: foute wat almal maak

Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…

5 hours Gelede

Maklike gemmerbier – sonder gis

Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.

6 hours Gelede

Ken jou vonkelwyn

Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…

9 hours Gelede

5 maniere om jou dag reg te begin

Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…

10 hours Gelede

Choux-kerskranse

Lewer sowat 9 kranse   Bestanddele   100 g (160 ml) koekmeel 175 ml water…

10 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.