BITTERBESSIE DAGBREEK
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
ʼn spieël het gebreek
tussen my en hom
Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van sy woorde af
Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed
Papegaai-bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroë
weer die koggel kry
Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
© 1961, Ingrid Jonker Trust
Hierdie gedig van Ingrid Jonker is ’n gunsteling want dit vertel hoe ons lewens soms in skerwe kan spat en hoe mense se woorde soms afdraaipaadjies kan vat. Ingrid Jonker vertel van hoe mens se siel kan verdwaal en jy in leed vasgevang kan word.
In die volgende twintig weke neem ek jou deur ’n reeks essays oor splinter-mense. Dit vertel hoe lewens kan versplinter, maar ook hoe die skerwe en brokstukke versamel kan word om ’n mosaïek van hoop te vorm.
Diep in die donker gang het ek na iets verlang
Ek het die wind hoor sing, lente sal liefde bring
Ek het die dag hoor kwyn, dis net die son wat nou verdwyn
En soos die aarde draai, sal ’n haan weer kraai …
Die Gang (Laurika Rauch, Woorde en Musiek: Christopher Torr)
Hy dink sy wis niks, maar sy weet hy is daar. Sy kan sy nat hondlyf hier agter haar ruik. Die laatnag-stilte verraai die ritmiese tik-tik, tik-tik soos sy lang naels op die grys teëls klik. Al agter haar aan. Sy hoef nie te kyk nie. Sy weet sy lyf is laag-sluipend in die skadus van die gang. Bekruipend.
Bliksemse brak.
Sy stap vinniger. Tik-tik, tik-tik kom hy agterna. Sy neus snuiwend agter haar voetval.
Slinkse spoorsnyer.
Hoe stadiger haar pas, hoe sluwer sluip hy saam. Sy asem gejaagd – warm teen haar hak.
Hy gaan sit met ’n sug. Sy hoor sy poot teen sy ribbekas krap. Hy snuif-snork-byt met sy tande teen sy harige lyf.
Sy ruik vuil hond. Hoor hom opstaan.
Tik-tik, tik-tik. Nader. Hy gaan staan weer. Skud sy logge lyf. Stankende sap spat teen haar kuite. Teen die grys mure loop die vrotsel in dun stroompies af.
Hy kom nader. Sy stap vinniger. Wil voor bly. Hy mag haar nie inhaal nie.
Haar kaalvoete val dringend op die teëls. Die koue slaan op teen haar bene. Dit warrel onder die dun katoen van die jurk. Skaam vat ’n hand die pante agter saam terwyl sy haastig stap.
Sy wil hom flous. Glip vinnig agter ’n pilaar in. Dalk hou hy verby? Sy loer vinnig. Sy skadu sluip versigtig nader.
Hy gaan sit. Sy hoor sy tong lekkend in sy lieste. Hy kreun van lekkerte. Staan rekkend op. Selfvoldaan. Bly so staan. Sy wag.
Hy tart haar. Wag dat sy nuuskierig moet raak en kyk. Maar sy sal nie. Sy weet mos dis wat hy wil hê. Dat sy sy teenwoordigheid moet erken. Hy gaan haar nie weer so vang nie, besluit sy. Sy weet, as mens hom sien, dan is hy daar. En as hy daar is, kan jy nie meer oor hom lieg nie. Dan dwing hulle jou om na hom te kyk. Om hom erkenning te gee. Dis al hoe jy hom gaan wen, sê hulle altyd vir haar. As jy erken hy is daar, is dit eerste stap na genesing. So sê hulle altyd.
Maar sy sal hulle wys. Sy sal hom afskud. Die keer gaan sy.
Slinkse Siebie, jy kan maar jou truuks probeer, roep sy. “Ek ken mos al vir jou.”
Sy sluip agter die pilaar uit. Sy wil ’n ent in die gang vorder voor hy haar inhaal.
Sy raak met haar vingerpunte aan die muur soos sy stap. By elke deur huiwer sy. Kamer 12, 13 … Sy weet nie meer watter een is hare nie. Miskien sal sy weet as sy daar kom? Kamer 14, 15, 16.
Sy stop en luister vir die tik-tik, tik-tik op die teëls. Hy kom nog nader. Sy kan al die vrotsel waaraan hy gevreet het aan sy asem ruik. Haar maag ruk van braak binne hou. Vlak asemteugies probeer die stank beheer.
Hy het weer gaan sit. Kyk seker vir haar. Maar sy sal nie omkyk nie. Hy kan dit vergeet.
Sy luister fyn. Hoor hom nader kruip. Dink seker hy gaan haar onverwags aan die hak gryp.
Sy asem jaag nie meer nie. Hy maak sagte piepgeluidjies. Kermend. Net hoorbaar, dog snydend. ’n Flymskerp teemsanik wat aan haar knaag.
Wat makeer hom? Het hy pyn? Sy ken mos ook pyn. Miskien is dit ’n seer wat aan hom vreet?
Hy weet sy luister. Teemsangend. Nou bietjie harder.
Dan hou hy op.
Sy hoor sy tong lekkend aan sy pels. Hy maak sagte kreungeluidjies tussen die lekke.
Weer ’n stilte.
Dan kom die weemoedige tjank. Sag.
Is dit ’n lokval? Hy het haar mos al uitgevang? Hy ken haar weekheid.
Sy luister fyn. Hy huil. Snikkend. Miskien het hy dié keer regtig pyn?
Dalk net vinnig omkyk? Geen oogkontak. Net vinnig.
Die swart figuur sit gehurk teen die muur. Sy lyf vooroor gebuig in pyn. Sy kop hang.
Hy hou op huil. Hy luister. Hy weet sy het hom gesien. Hy weet.
Dan sing hy weer sy treurlied. Sag, wenend.
Sê nou sy ignoreer hom en hy ly regtig? Hy lyk eensaam en pateties daar teen die muur.
Hy herinner haar aan die vrou.
Sy onthou die skadu van die bondel mens op die vloer. ’n Groot vrou. Log. Sy het met haar bene voor haar uitgestrek gesit. Hande op die skoot. Haar kop vooroor hangend teen haar bors. Sy het ook so sag gekerm. Nes die hond. Sy onthou nou. Sy wou haar help. Maar die glas het haar uitgestrekte hand gekeer. Die vrou het opgekyk. Sy kon haar seer sien. Sy het haar hand uitgesteek, maar sy kon haar nie bereik nie. Die spieël was tussen hulle.
Die hond kerm nou harder. Daar is ’n dringendheid aan sy geween. Sy tree stadig nader. Hy wag. Nog nader. Hy kyk nie op nie. Sy steek haar hand uit. Kan aan hom raak.
Hy sug en rol sy lyf op. Sag snikkend lê hy en wag.
Sy kop se pels is sag onder haar hand. Hy kreun. Haar hand voel-voel oor sy groot rug. Klamheid koek sy hare waar stinkende etter uitsypel. Dit drup op die teëls. Hy probeer dit oplek.
Arme dier.
Sy gaan sit op die vloer langs hom. Praat saggies. Hy sit sy groot kop op haar skoot.
“Als sal weer regkom”, sê sy vir hom.
“Jy sal sien, als sal weer okei wees. Ek is nou hier by jou. Jy is nie alleen nie. Ek is hier.”
Hulle sit lank so. Sy en die hond. Sy asem raak rustig en sy gekerm is nou skaars hoorbaar. Dan raak hy stil. Hy haal sag en rustig asem. Vertroosde slaap.
Hy is nou beter. Sy dink hy gaan okei wees. Dis nou veilig om hom alleen te los. Môre sal iemand hom hier kry. Sy moet nou eers gaan.
Sy staan kreunend op. Haar bene is styf.
Dit raak daglig-skemer in die gang. Sy het nog ’n ent om te stap. Miskien kry sy haar kamer noudat dit lig raak. Kamer 24, 25, 26 … Sy sal weet as sy daar kom.
Tik-tik, tik-tik, hoor sy. Hy volg haar weer. Dié keer is hy nader. Sy asem maak ’n warm waas teen haar kuite.
Sy stop. Draai om, en kyk vir hom. Sy oë is geel in die lig. Hy beweeg kruipend nader. Sy lyf laag teen die vloer soos hy altyd doen. Dié keer onderdanig-dankbaar.
Sy steek haar hand uit. Sy snoet is droog. Sy ore koorsig warm. Hy maak tjankgeluidjies.
Stomme Siebie.
“Dis okei,” sê sy vir hom. “Jy kan maar nou saam met my stap. Ek sal stadig loop sodat jy kan byhou. Kom, Siebie Siebie, kom.”
Hulle stap sy aan sy. Sy en die hond. Die oggendlig laat die teëls blink. Die blink streep strek ver voor haar uit tot by die donkerte aan die punt van die gang. Dis ’n baie baie lang gang, dié een, dink sy.
Netnou sal die man haar weer vra of sy die hond in die nag gesien het.
“Nee,” sal sy lieg.
Vandag is dit steeds een van die gewildste plaaslike produksies wat kykers saam laat swets,…
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Hierdie webwerf gebruik koekies.