Ek’s so bly ek’s nie ‘n vlieg nie. Ek het my skoon in survival mode in geskrik toe ek gistermiddag ná werk ‘n baie, baie, báie groot spinnekop in my woonkamer kry. Die harige kreatuur het my oombliklik in ‘n skoktoestand gehad, en ek is soveel groter as hy. Hoe moet dit voel as jy ‘n onskuldige vliegie is wat op ‘n lentemiddag ewe vrolik vir jou plesier rondzoem, en so ‘n monster doem voor jou op?
Miskien kom die dood vinnig en ongesiens. Of nee, dit doen nie. Spinnekoppe vang vliegies mos in ‘n web, spin hulle toe, en volg ‘n biltongmaakproses wat oor ‘n ellelange tydperk strek. Dit het ons in standerd een geleer. Dit kan nie lekker wees om in die vliegie se pote te staan nie; dit laat my dink aan Hansie-houtkapper-se-kind wat stelselmatig deur die heks vetgevoer is sodat sy hom kon braai en eet.
Ek dwaal af. Met die morele ondersteuning van my geliefde in ‘n ander stad het ek en my seunskind dapper van die aarts-angswekkende spinnekop ontslae geraak. En ook net nadat ek 1. onthou het daar is net een ding wat erger is as ‘n spinnekop wat jy in jou ruimte ontdek, naamlik ‘n spinnekop wat jy in jou ruimte ontdek en dan uit die oog verloor; en 2. per BBM daarop gewys is dat my verestoffer ‘n lang handvatsel het wat beteken ek is “ver van die gevaar”.
Dit fassineer my dat ek, wat blog-skryf tegnologie gebruik wat ‘n paar geslagte terug na pure magic sou lyk, so bang kan wees vir iets met ‘n miniskule brein. Is my oervrese nog nie aangespreek nie? En hoekom het ek my onmiddellik na die manne in my lewe gewend? Skandelik hoe die trotse tradisie van geëmansipeerde vroue-onafhanklikheid binne sekondes kan verkrummel.
Dalk is daar iewers ‘n spinnekopteelstasie (deur mans bestuur) wat met behulp van die Verspreiding van Groot Spinnekoppe die waan van vroulike selfstandigheid in toom wil hou.
En dalk is dit nie ‘n slegte ding nie. As ek eerlik moet wees, is dit net so ‘n kléin bietjie lekker om teen die gevare van die lewe beskerm te word …