Spek-en-sampioen-pasta
Genoeg vir 4.
Bestanddele
- 125 ml (½ k) gedroogde porcini- of sjiitake-sampioene
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 250 g (1 pak) blokkiesspek
- 2 uie, gesny
- 2 knoffelhuisies, gekneus en fyn gekap
- sout en gemaalde swartpeper
- 250 g (1 pak) portobellinisampioene, gesny
- 400 g engelhaarpasta
- 120 g (1 pak) gemengde, eksotiese sampioene soos enoki, sjiitake en porcini
- 60 ml (¼ k) koue botter
- 60 ml (¼ k) gerasperde parmesaan
- crème fraîche vir opdiening (opsioneel)
- hand vol pietersielie, gekap
Metode
- Maak ’n groot kastrol drie kwart vol water en geur met ’n knypie sout. Bring tot kookpunt.
- Bedek die gedroogde sampioene met genoeg kookwater (sowat ’n ½ k) en laat staan vir 5 min. tot sag.
- Verhit solank die olie in ’n groot pan oor hoë hitte en braai die spek, uie, knoffel en portobellini-sampioene tot goudkleurig en gaar. Geur na smaak.
- Voeg die pasta by die kookwater en kook volgens die aanwysings op die pak.
- Dreineer die geweekte sampioene (hou die geurige sampioenwater), kap ruweg en voeg saam met die eksotiese sampioene by die spek-en-uie-mengsel. Gooi die sampioenwater by en kook af tot dit met die helfte verminder het.
- Dreineer die pasta en roer die sampioenmengsel, botter en parmesaan deur.
- Sit voor met ’n skeppie crème fraîche en pietersielie.
#rrWenk: Meng ’n ¼ k crème fraîche deur die pasta as jy van ’n romeriger sous hou. Kry al die bestanddele gereed voor jy begin. Braai die sampioene en spek terwyl die pasta kook en roer dan net deur die warm pasta.
Lees ook: