Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts en verskaf deur Crave Concepts.
Dié wat weet, ken Kaapstad se geheim: winters is die eintlike speeltyd in die Moederstad. Met lang aande voor kaggels, rooiwyn en hartlike maaltye, is dit die tyd om weer ou vriendskapbande te verstewig; lank in jou geliefde se oë te staar; of bordspeletjies met skemerkelkies in die hand, te speel.
Min mense begryp hierdie waarheid so goed soos David Donde, stigter van TRUTH.CapeTown en What Food Group.
TRUTH.CapeTown in Buitenkantstraat, wat wêreldbekend is vir hul koffiewinkel en bekroonde fluisterkroeg, The Art of Duplicity, het pas hul nuutste speelse projek, PlayDate, onthul. Dis ‘n spesiale aand-spyskaart en in een van die knus perdeskoen leerbanke, kan jy die ure omkuier met lekker kos en wyn.
Al die winter-gunstelinge is daar, maar elkeen het ‘n speelse kinkel, gemaak onder die kulinêre oog van sjef Serushia ‘Sush’ Naidoo. Of jy nou na die hartlike gerief van beesstertkerrie; of die vegetariese alternatiewe; of in vleishemel wil wees met ‘n Tomahawk-biefstuk om te deel, daar is iets vir elke smaak.
Vir diegene wat lus is vir iets vars, bied die Groenlys die varsste vangs van die dag en die lekker geroosterde hoender is die ideale maaltyd vir meer as twee mense.
Dis lekker koud en reënerig buite, toe ons na ons tafeltjie heelagter in die intieme restaurant gelei word. Die sagte beligting laat jou amper voel asof jy alleen in die hoekie is. Kort-kort gaan die deur van die fluisterkroeg oop en borde kos word ingedra, maar andersins is dit net die sagte musiek en kelners se vrolike gesels by ander tafels, wat jy hoor.
Die ryk en romerige kenmerkende koffie Martini’s is die regte manier om die aand mee in te lui. Dit is immers die geboorte- (en rooster-) plek van Kaapstad se gunsteling koffiebone.
Die beste manier om ‘n koue aandjie se eet-ervaring uit mee af te skop, is met tuisgemaakte uiesop met ‘n lekker verouderde Franse kaaslagie bo-op en Truth se tuisgebakte brood daarin te doop.
PlayDate se porsiegroottes skep die perfekte balans tussen ruim trooskos en deelborde, sodat almal by die tafel van alles kan geniet. Daarbenewens het Truth ‘n verskeidenheid speletjies beskikbaar en met sterk wi-fi, is dit ook die ideale plek vir digitale nomades wat ‘n gemaklike aandwerkplek soek. Dus geen verskoning om alleen te voel as jy in Kaapstad op ‘n sakereis is nie.
David kom groet by ons tafel en vertel: “PlayDate is ‘n viering van kos, pret en samesyn, wat ons gaste ‘n unieke eet-ervaring bied, wat die gees van speelsheid versinnebeeld.”
Op die keurige wynlys is daar wyne per glas en bottel beskikbaar en kelners is ingelig om wyn en kos pasmaats voor te stel. Die spyskaart het lekker nageregte, maar ons visier is op Rapt – David se ander breinkind oorkant die pad – ingestel.
In ware Charlie en die Sjokoladefabriek-styl, het hy en sy sakevennoot Ken Walton, ‘n sjokolade-avontuur, wat enige sjokoladeliefhebber – jonk en oud – weer kind maak. Rapt – The Art of Indulgence, is ‘n ware sjokolade- en roomys-reis.
Hierdie is nie sommer enige sjokolade-toevlugsoord nie; jy kan jou eie sjokoladestafie laat maak, daar is suiwellose- en suikerlose opsies en die kakao is van die wêreld se beste gehalte. Donkersjokolade-opsies sorg ook dat baie min suiker gebruik word, so selfs dié wat hul middellywe dophou, sal hier iets lekker vind.
Soos jy deur die winkel beweeg, ontmoet jy die vriendelike personeel wat ook “Choc-O-Lattes” (sjokolade lattes) en “Sudden Nitrogen Ice-Cream” (kits stikstof roomys) van jou eie keuse binne sekondes maak. Die resep agter Rapt is dié van Kaylah Greenberg, medestigter van MySugar, en gelei deur die fyngebak-ghoeroe, Laurence Smith, voormalige Hoof en Uitvoerende Fyngebaksjef by Leeu en Delaire Graff landgoed.
Die kinders geniet die glyplank wat soos ‘n reuse uitgestrekte blomtong lyk en ook hier is kleur en speelsheid die tema.
Jy voel waarlik weer kind as jy al lekkende aan jou kits-stikstof roomys terugstap motor toe, met Tafelberg wat in die agtergrond waak.
Lees ook: Alles wat jy van kykNET se nuwe komediereeks, ‘Pronk Primêr’ moet weet
Wonder jy Wat’s Aan in Kaapstad hierdie naweek? Ons het die volledige lys van geleenthede en aktiwiteite!