Ons almal wil die beste vir ons kinders hê en ouers belê baie in verrykende klasse en die regte skole. Tog is daar meer en meer kinders wat met agterstande op fisieke en spraakgebied sukkel en nie skoolgereed is nie. Dit belemmer leer en kan op die lang duur groot emosionele en sosiale probleme veroorsaak. Die skuld word direk aan ons gejaagde lewens en gebrek aan vryheid toegeskryf omdat kinders nie meer ruimte het om fiets te ry en op die gras bollemakiesie te slaan nie. Boonop is hedendaagse vermaak soos televisie en televisiespeletjies passiewe ontspanning wat wel algemene kennis en oog-handkoördinasie ontwikkel, maar verhinder dat kinders hul basiese mylpale bereik.
Die goeie nuus is dat dit eenvoudige outydse speletjies is wat kinders skoolgereed maak, eerder as duur gespesialiseerde rekenaarlesse en leeskursusse voor skool. Ons praat met ’n hand vol kenners om jou met raad en daad by te staan.
Lees ook: Boekuittreksel: Vyf ankers wat jou kind veilig laat voel
Maak doodseker jou kind is skoolgereed
“Om ’n kind wat nie gereed is nie skool toe te stuur, is gelykstaande aan emosionele mishandeling,” sê Yvette Strydom, ’n opvoedkundige sielkundige, “want skoolgereedheid is jou heel eerste stap tot ’n suksesvolle skoolloopbaan.” Sy sien daagliks die dilemma van kinders met ’n negatiewe selfbeeld en leerprobleme weens ’n agterstand wat van graad een af kom. “Skoolgereedheid meet nie ’n kind se intelligensie nie, maar kyk of ’n kind emosioneel reg is om die druk van onderrig in ’n groot groep te hanteer. Soms het kinders agterstande met taal en motoriese ontwikkeling wat ook kan verhinder dat hulle die mas opkom. Die skoolervaring behoort ’n baie positiewe ervaring te wees, maar as ’n kind gedurig sukkel, ontwikkel hy ’n negatiewe selfbeeld wat sy akademiese potensiaal strem en selfvertroue reg deur sy skoolloopbaan negatief affekteer.
“Ek sê altyd vir ouers dis baie beter om ’n kind eerder in graad R terug te hou as wat hulle graad een moet oordoen. Maar ouers moet ook besef dat ’n kind nie net die jaar herhaal nie. Daar moet ’n definitiewe program wees waar die probleme aandag kry en die terapeut, kleuterskool en ouers aktief saamwerk om seker te maak dat die kind daardie ekstra tyd ten volle benut om agterstande uit te wis.” Sy voel baie sterk daaroor dat ouers nie moet toelaat dat laerskoolhoofde of kleuterskole hulle intimideer om kinders te vroeg skool toe te stuur nie. “Laat toets jou kind by ’n geregistreerde sielkundige, want dit dien as ’n amptelike dokument waarmee jy ’n jaar uitstel verkry.” As ’n kind nie gereed is nie, hoop die probleme op. “Soms bly kinders grensgevalle vir die eerste drie jaar, maar sodra hulle in graad vier kom, het hulle begrip, organisatoriese vaardighede en gevorderde konsentrasie nodig om die werk baas te raak. Dis dan gewoonlik hiér waar hulle nie meer kan bybly nie.”
Lees ook: Begaafde kinders sukkel ook
Wat die kleuterskooljuffrou sê
Mary van Zyl van die Fonties Kleuterskool was eers 13 jaar ’n graad een en twee juffrou en is nou al ses jaar by kinders in die voorskoolse jaar betrokke. “Ons sien deesdae beslis meer kinders met probleme ten opsigte van skoolgereedheid. Dis ’n feit dat omtrent alle ma’s moet werk en ons veroordeel dit nie. En die meeste ma’s maak tyd om aan hul kinders te bestee. Ons vind net soms dat ouers op gevorderde vaardighede fokus en van die basiese dinge vergeet. “Sommige kinders verras ons met hul algemene kennis, woordeskat en wiskunde, maar hulle het nie genoeg fyn motoriese ontwikkeling om ’n potlood ordentlik vas te hou of met ’n skêr te knip nie. Heelparty kinders het ook ’n agterstand op groot motoriese ontwikkeling en kan nie ’n bal vang of op een been balanseer nie. Sommige se spierontwikkeling is so swak dat hulle nie kruisbeen op die mat kan sit of regop in ’n stoel nie.
“Ek het al ’n kind in my graad een klas gehad wat vlot kon lees nadat die ma haar voorskools geleer het. Ongelukkig het sy geen insig gehad nie en was teen die einde van die jaar een van die swakste lesers in die klas. Ouers moet versigtig wees as hulle leesprogramme (baie keer Amerikaans) gebruik wat dalk van die skool se metodes verskil.” Sy vind dat dogtertjies oor die algemeen goeie fyn motoriese ontwikkeling het vir inkleur en uitknip, maar ’n agterstand op groot motoriese ontwikkeling. Seuntjies, wat die hele dag balle gooi en klim en klouter, kan weer nie knip of inkleur nie. “Ouers moet seker maak dat seuns én dogters beide vaardighede ontwikkel.” Sy benadruk dit dat dit wonderlik is as ouers by hul kinders betrokke is, maar duur programme vir voorskoolse kinders is nie die oplossing nie. “Laat staan al die ekstra lesse en ‘skoolhou’ tuis. Speel eerder met jou kind buite, gooi balle, klouter en klim en lees vir hulle. Ouers kompeteer ook soms onder mekaar en plaas druk op kinders. As hulle ’n stewige grondslag in basiese vaardighede het, kan hulle meer suksesvol die akademiese vaardighede soos lees en skryf by die skool baasraak. As jy wel jou kind voor die tyd wil leer lees, vind uit watter metode hulle by die skool gebruik.”
Werkende geheue is die geheim vir sukses op skool
Reinette Potgieter is ’n remediërende terapeut en kom agter dat meer en meer kinders deesdae sonder die regte vaardighede hul skoolloopbaan begin. Een van die groot probleme is die gebrek aan ’n werkende geheue (working memory). Dis basies ’n stelsel vir die tydelike storing en bestuur van inligting wat jy nodig het om komplekse kognitiewe take soos leer, redenering en begrip uit te voer. Dis jou korttermyn ouditiewe geheue wat die basis vir langtermyn geheue vorm. “Baie kinders het geen insig nie en kan dus nie vorder met lees of wiskunde nie. Ouers is baie besig, maar daar’s baie maniere waar jy speel-speel vir kinders begrip van woorde en syfers kan leer en hul korttermyngeheue kan verbeter – selfs met tien minute in die kombuis terwyl jy kos maak. Vra hulle om vir jou drie oranje wortels aan te gee. Of tien aartappels uit te tel.” Gee ’n paar takies op een slag en kyk of hulle alles kan onthou en uitvoer. Sit tien minute saans opsy om vir hulle ’n storie te lees en toets hul geheue deur agterna vrae te vra soos: “Wat was die hasie se naam?” Speel speletjies wat die geheue en begrip prikkel, soos Memory Game, dominoes, slangetjies en leertjies, en kaartspeletjies soos Snap saam met hulle. As jy nie tyd het, nie kan jy ’n oppasser leer om dit te doen.
Spraak- en taalontwikkeling bepaal sukses op skool
Kerstin Tönsing is ’n spraakterapeut en verbonde aan die Sentrum vir Aanvullende en Alternatiewe Kommunikasie aan die Universiteit van Pretoria. “Spraak en taalontwikkeling is die grootste faktor wat sukses op skool bepaal. Ons het gevorderde taal nodig om te leer en dit het ’n groot invloed op geletterdheid. As kinders in graad een en twee agter raak, is dit amper onmoontlik om die agterstand in te haal. Dis uiters belangrik om ’n taalbasis vóór skool te vestig.” Volgens Kerstin sien spraakterapeute beslis meer en meer jong kinders met spraakprobleme. “Dit het baie met ons gejaagde lewenstyl te doen. Taalontwikkeling geskied deur interaksie met mense en hier is die ouers die belangrikste skakel in ’n kind se lewe. Ons lewens is ook hoog in stres en dus kies mense passiewe vermaak soos televisie wat geen interaksie bied nie. Kinders kan ook gebrekkige luistervaardighede hê weens allergieë wat toe neuse en oorontstekings veroorsaak.”
Hoe jy kan help
- As jou kind se spraak stadig ontwikkel, gaan spreek die huisdokter. Dalk is daar ’n gehoorprobleem weens oorontsteking. As jy steeds bekommerd is, kan jy ’n volledige gehoortoets by ’n oudioloog laat doen. Soms bou vog weens herhaaldelike oorontstekings op – wat gehoor erg kan benadeel en spraak vertraag.
- Sommige kinders het geen probleem met meertaligheid nie, maar spraakterapeute vind dat dit beter is om een taal vir die eerste vyf jaar ten volle te vestig voor jy met ’n nuwe een begin. Waar ouers verskillende tale praat, is dit beter om elkeen by sy eie taal te hou sodat een taal met een persoon geassosieer word.
- Gesels met ’n kind, moenie net instruksies gee nie. Wees geduldig en gee hulle kans om te reageer en luister dan na wat hulle sê.
- Verbaliseer jou dagtake. As jy die melk uithaal, sê: ”Ek haal gou die melk uit die yskas.”
- Lees vir kinders van so jonk as een jaar. As hulle ouer is, kan jy interaksie bevorder deur in die middel van die storie te stop en vrae te vra. Prikkel hul verbeelding en vra wat hulle dink gaan gebeur. Of ontwikkel hul emosies deur te vra hoe hulle dink die karakter voel, ensovoorts. Lees dieselfde boeke oor en oor.
- Maak dit moontlik vir almal om saam aandete te eet wanneer almal dan oor hul daaglikse ervarings praat. Wat was jou hoogte- en laagtepunt? So leer kinders om emosies te verbaliseer.
- Musiek, liedjies, rympies en ritme leer kinders taalvaardighede.
- Leer kinders om goed te onthou deur hulle in te span as jy inkopies doen. Laat hulle drie dinge onthou wat jy moet koop.
- Los formele onderrig vir die skool. Speel liewer met kinders en bied hulle geleenthede vir interaksie
- Koop minder speelgoed en laat hulle met alledaagse dinge verbeeldingsvlugte onderneem.
Swak motoriese ontwikkeling skaad konsentrasie: Prof. Kitty Uys is ’n arbeidsterapeut en verbonde aan die Sentrum vir Aanvullende en Alternatiewe Kommunikasie aan die Universiteit van Pretoria. Sy gee ons moderne lewenstyl die skuld vir kinders se ontoereikende motoriese ontwikkeling. “Kinders speel nie meer buite op die gras en spring en slaan bollemakiesie nie. Dis alles bewegings wat groot motoriese vaardighede ontwikkel. Boonop is kinders so gewoond aan passiewe vermaak soos die televisie en rekenaarspeletjies dat hulle nie meer weet hoe om te speel nie. Hedendaagse speelgoed ontwikkel ook nie kreatiwiteit nie. Jy druk ’n knoppie of trek ’n toutjie en die speelding reageer. Geen kreatiwiteit van die kind is meer ’n vereiste nie. “Kinders is ook nie meer so aktief soos voorheen nie en baie kinders kan nie op ’n tweewielfiets balanseer nie.
Ongelukkig kring swak spierontwikkeling veel wyer uit. As ’n kind die meeste van sy konsentrasie moet gebruik om regop te probeer sit, is hy te moeg om te konsentreer op wat die juffrou sê. Swak konsentrasie gaan hand aan hand met swak spierontwikkeling. Ander ouers probeer weer te veel inpas. “Laat staan eerder al die voorskoolse lesse en gebruik daardie tyd om met jou kind te speel en koekies te bak. Kinders hoef ook nie te kan lees voor hulle skool toe gaan nie. Dis immers die graad een juffrou se taak. Gee kinders die geleentheid om kind te wees.” Sy voel ouers het deesdae ’n groter verantwoordelikheid om betrokke by kinders se speeltyd te raak omdat hulle grotendeels in die huis grootgemaak word weens sekuriteitsprobleme en die gebrek aan ruimte.
Lees ook: 5 redes hoekom speletjies speel goed vir jou kind is
Wat gebeur as ’n kind ’n agterstand het?
Motoriese agterstande kan tot langtermyn emosionele en sosiale probleme lei. As kinders agterkom dat hulle nie die mas opkom nie, probeer hulle dit maskeer met ander gedrag. Dit kan wees dat so ’n kind hom terugtrek, want hy word deur die maatjies gespot omdat hy sukkel. Of hy word die klashanswors wat altyd gekskeer om aandag weg te lei van die probleme wat hy binne die klas ervaar.
Help só
- Laat kinders in die modder speel – morsige aktiwiteite is ’n wonderlike geleentheid om teksture te ontdek en handfunksies te ontwikkel.
- Koop meer basiese speelgoed soos houtblokkies sodat kinders hul verbeelding kan gebruik om iets te skep.
- Maak seker dat kinders aktief is. Kinders ontwikkel hul spiere deur aan sport op skool deel te neem en boonop leer hulle ook baie sosiale lesse.
- Wees ’n rolmodel vir jou kind en leer hom hoe om te speel.