Oorvou-rok
Hierdie rok se lengte en moutjies maak dit perfek vir werk en die snit is boonop vleiend. Vermy uiterse hoë hakke of te sexy bandjie-ontwerpe vir professionele instellings. ’n Lae tot matige lengte hak sal die ding doen. Hou dit eerder ’n bietjie meer konserwatief as uitspattig. Jy kan naweke die rokkie ook met sandale dra.
Swart nommertjie
Swart bly maar ’n staatmaker vir aandgeleenthede (ja, jy mag swart na ’n troue dra). Swart skoene is ook steeds die nommer-een-keuse by ’n swart uitrusting – onthou om alles van kop tot tone in dieselfde skakering van swart te hou. Vermy te dun of te hoë hakke vir troues – jy gaan lank op jou voete wees en heel moontlik op gras vertoef vir ’n gedeelte van die funksie. Kies hakke soos katjiehakies, of blokhakke vir ’n meer veelsydige opsie.
Oop skouers
Hou dit klassiek deur swart skoene by ’n gestreepte pakkie te dra. Bonkige modetekkies mag dalk te oordadig wees vir die lengte en snit van dié rokkie. Dra eerder aanglipskoene vir ’n gemaklike en moderne gevoel.
Maksi-rok
Die lengte van dié maksi-rok bied jou die geleentheid om byna enige tipe skoen daarby te dra. Hou by ’n natuurlike kleurpalet of maak weer staat op swart by die rok met patrone.
Lospassend en uitklok
Skoene in ’n natuurlike kleur is die beste pasmaat vir ’n wit rokkie. Jy wil nie formele skoene by ’n somerrok dra nie. Indien jy korter bene het, vermy skoene met enkelbande of T-bande by ’n kort rokkie. Die band verdeel jou been en is geneig om jou bene dan nog korter te laat lyk.
Hemprok
Die lengte van dié rok laat jou toe om ’n skoen met ’n enkelband of tekkies te dra. Die klein deeltjie van jou been wat uitsteek, sal steeds mooi lyk met ’n enkelband en tekkies is ook nie te oorweldigend nie. Vermy ’n streng kleurooreensteming tussen jou skoene en die rok met patrone, tensy die kleur ’n natuurlike kleur is.
Dun bandjies
Die dun bandjies van die rok is baie informeel en perfek vir die strand. Oorweeg eerste ’n skoen sonder ’n enkelband omdat die band nie alle enkels komplementeer nie. Kies skoenkleure wat met jou rok ooreenstem en dra eenvoudige swart skoene wanneer jou rok baie helder patrone bevat.
Midi-rok
Dié rok se kleur en snit het ’n boheemse gevoel. Hou die skoene ook informeel en in natuurlike kleure. Die lengte van die rok laat ook toe dat jy ’n skoen met ’n enkelband kan dra, maar tekkies is te bonkig vir hierdie rok.