Sê “Cindy Nell” en jy dink dadelik aan lang, lang bene. Superglad en volmaak. G’n teken van spatare nie. Kan jy so lyk? Wel, niemand kan jou haar beenvorm gee nie. Maar hier is die troos: jy kan met RFA halfpad daar kom en van jou spatare en spinnerakaartjies ontslae raak.
Hierdie tegniek skakel die ou operasie met sy onooglike, lang littekens uit. “Ek het al my eerste spataar in graad vier gekry toe ek begin verspring het. Dit loop in ons familie,” vertel Alicia Louw van George. “Ek was glad nie verras toe ek later jare ’n yslike, onooglike monster van ’n knop-aar hier reg langs my knie kry nie. Omtrent ’n jaar gelede het die knop begin warm word en party dae geklop. Ek is in die Polisie se administratiewe afdeling, en op die dae wanneer ek volle uniform moes dra, het my been erg gepyn. ’n Mens is maar bang vir ’n bloedklont en ek is dokter toe.
“My ma het jare terug ’n operasie daarvoor gehad – nog daardie outydse een waar hulle die spataar uitsny van die enkel tot die knie – en jy sit met littekens wat erger as die spatare lyk. Dit is wat ek verwag het: ’n pynlike operasie, weke se bloukolle en ’n permanente litteken. Maar toe doen die dokter dit sommer in ’n daghospitaal. En nou, amper ’n jaar later, het jy behoorlik ’n vergrootglas nodig om die merkies te sien.”
Hoe?
Slagare vervoer bloed van jou hart na jou liggaam, terwyl are bloed terug na die hart dra. Are moet bloed teen swaartekrag in boontoe gestoot kry, wat gedoen word met ’n reeks kleppe. Jou beenspiere beheer die kleppe deur subtiel saam te trek, wat die kleppe oopdruk sodat bloed kan deurvloei. Sodra die spiere ontspan, sluit die kleppe en kan die bloed nie terugvloei nie.
So sorg jou beenspiere dat die bloed terug na jou hart en longe sirkuleer. As die kleppe verswak, sluit hulle nie meer goed nie en die bloed begin opdam – wat jy as ’n spataar sien. Namate die toestand vererger, swel jou bene al dikker en verskyn al meer spatare. Loop en staan word al pynliker. Maar die lelik is vir ons vroue vir seker die ergste. ’n Interessante kontras: hoe meer jy staan, hoe beter is jou bloed-sirkulasie.
Maar as jy eers verswakte aarkleppe het, is dit moeiliker om bloed opgestoot te kry. Dan laat staanwerk meer bloed in jou are opdam en vererger die spatare. Dr. Frikkie Rademan, Kaapse chirurg, sê dit gaan medies gesproke nie oor hoe onooglik spatare is nie. “Spatare is gevaarlik omdat hulle op lang termyn lei tot veneuse ulserasie – oop sere aan veral die enkels en kuite – wat baie moeilik genees. Bloedklonte kan vorm, wat in die dieper are kan inbeweeg en tot trombose kan lei.”
Die beste raad is om siek are te verwyder. Gelukkig is die liggaam, en veral jou bene, ryklik voorsien van are. Die liggaam kompenseer baie gou en kanaliseer die bloed doodeenvoudig hierdeur.
Jou opsies
Die gewildste en suksesvolste opsies is laser, skleroterapie of radiofrekwensie-ablasie, of RFA. Laser is goed vir spinnerakaartjies; skleroterapie vir spinnerakaartjies en spatare; en RFA vir spatare. Daar is ’n groot prysverskil tussen die laaste twee – sowat R2 000 per been vir eersgenoemde, teenoor sowat R22 000 vir een been of R28 000 vir altwee met RFA. Die mediese fondse betaal nie vir skleroterapie nie, maar wel vir RFA. Dus: watter een is vir jou, veral as jy nie ’n mediese fonds het nie?
Dr. Nardus le Grange wat in verskillende mediese skoonheidsterapieë spesialiseer, sê albei vernietig die beskadigde are, waarna jou ander are oorneem en omdat hul kleppe onbeskadig is, is jou bloedsirkulasie terug hart toe beter as tevore. Dr. Rademan stem saam, maar sê baie hang af van waar jou probleem lê en hoe ernstig dit is.
“As jou oppervlakkige spatare eintlik ontstaan weens klepskade in die dieperliggende are gaan sklero- en laserterapie net tydelik help. Die langtermynoplossing is om die oorsaaklike diepaar weg te neem, met RFA van die spesifieke diepaar met die klepskade, en dan sklero- of laserterapie te doen van oppervlakkige, sigbare spatare, as dit nodig is. Daarom doen ons ’n sonar met dopplermeting van dieper are om klepskade te bevestig voor ons op RFA besluit.”