kategorieë: InspirasieJou lewe

Spanwerk laat ontbytSAKE werk

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Deur Rentia Mynhardt

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Net soos ʼn voertuig brandstof nodig het sodat die enjin kan loop, net só is daar mense agter die skerms nodig wat as ʼn span kan saamwerk, voortdurend vars planne kan maak én dit uitgevoer kry om weekliks die ontbytSAKE-wa deur die drif te trek.

Die gewilde oggendprogram, ontbytSAKE, word Saterdae vanaf 07:30 op kykNET uitgesaai wanneer kykers op ʼn unieke manier op hoogte kom van wat in die ekonomie, landbou, weer en sakewêreld aangaan. Maar dit is nie net ʼn program waar feite uitgeruil word nie. Hier word ook gelag, geredeneer, geëet en gekuier; net die regte manier om ʼn naweek mee af te skop! Om só ʼn program saam te stel, lyk dalk op die oog af maklik, maar dit verg deeglike beplanning, tydskedules en navorsing.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Foto: Andrea Caldwell

Vir kykers is die aanbieders – Dawie Roodt, Charlene Lackay, Anika de Beer, Corli Prinsloo en Leon Gropp – al ou bekendes in hul woonkamers, maar dit is die gesigte ágter die skerms waarvan ʼn mens minder weet. rooi rose het met die bestuur van die produksiespan gesels en gehoor wat dit éintlik verg om so ʼn gewilde program aanmekaar te sit en dit steeds ná jare relevant en vars te hou.

Lees ook: 10 redes waarom jy die Julie-uitgawe van rooi rose móét lees!

Vanaf 2021 vorm ontbytSAKE deel van The B4i Project-groep van maatskappye, met Louis, ʼn gebore Vrystater, as uitvoerende vervaardiger en ook die ruggraat van die groep.


Louis is direk ná matriek weermag toe waar hy ʼn offisier by die artillerieskool in Potchefstroom was. Dit moes hier gewees het waar hy geleer het om op vele terreine van die lewe raak te skiet, want nie lank daarna nie het die entrepreneur in hom wyd begin mik en het hy sedertdien al ʼn hele paar kolskote met sy planne getref.

“Ek het aanvanklik allerhande produkte verkoop, was betrokke in die eiendomsmark en het ook ʼn draai in die finansiële dienstesektor gemaak. Entrepreneurskap het dit moontlik gemaak dat ek nog nooit ʼn salaristjek van enigiemand ontvang het nie,” deel hy en vertel dat hy in die vroeë 2000’s ʼn leemte in die mark raakgesien het waar ondernemings skielik met Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) gekonfronteer is. “Ek het begin om hierop te fokus en het aanvanklik veral klein en middelslagondernemings hiermee bygestaan en rondom die voldoening aan die wet geadviseer.” Hy was ook by onderhandelinge rondom SEB-wetgewing betrokke saam met die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) om na moontlikhede te kyk om voldoeningsvereistes te vergemaklik.

Louis het later sy onderneming met ʼn groter lewensdoel begin bedryf en hy het baie selektief begin om homself met mans en vroue van die Here te begin omring, mense wat volgens Louis grotendeels verantwoordelik is vir die sukses van die onderneming. Hy was die medestigter van die B Loved Foundation wat al talle projekte sedert 2008 van stapel gestuur het om weerlose vroue en kinders te ondersteun. Later jare het ʼn Christelik gefundeerde universiteit in Amerika hom ʼn beurs van 85% aangebied om ʼn meestersgraad deur hulle met die fokus op strategieontwikkeling te voltooi. Hier het hy as 50-jarige tussen ʼn klomp jongelinge die toekenning vir beste verhandeling gekry. “Van hier het die onderneming verder uitgebrei en sluit dit vandag onder meer belange in lugvaart, wyn en brandstof in. My pad het dan ook hier met ontbytSAKE gekruis nadat ek ʼn besluit geneem het om my eie fokus te skuif om alles-Afrikaans te begin ondersteun.”

Hy praat met groot respek van die ontbytSAKE-span en deel dat hy, nadat hy die program in 2021 oorgekoop het, die eerste jaar teruggesit het net om te leer hoe alles inmekaar steek. “Die bestaande span is ʼn groep mense wat ongelooflik kundig is en ons het intussen saam die handelsmerk vernuwe en sterker na vore gebring.” In 2022 het ontbytSAKE ʼn nuwe baadjie aangetrek om groei te bewerkstellig en kykertalle het skerp toegeneem. Segmente, soos ʼn landboufokus vir boere is bygevoeg; ʼn weerkundige het vir die weervoorspelling ʼn nuwe jas aangetrek; en ʼn nuwe aanbieder het aan boord gekom.

Daar is nie sprake van planne wat gaan opraak nie, en Louis wil die volgende vyf jaar veral op die ontwikkeling van verskeie Afrikaanse rolspelers soos ondernemings, organisasies, feeste en kunstenaars fokus. “Vanuit die ontbytSAKE-platform is ons juis nou besig om produksies aanmekaar te sit om onafhanklike, opkomende Afrikaanse kunstenaars deur die RugTeenRug-platform die geleentheid te gee om by groot feeste saam met groot name op te tree.”

Met nederigheid en in afhanklikheid, maar ook met doelgerigtheid staan Louis aan die stuur van ʼn groep  maatskappye wat ondernemings ondersteun, sodat hulle weer op hul beurt mense kan opbou. “Wins is vir ons belangrik, maar mense net so baie. ‘Ons mense. Ons besighede. Ons trots’ is ontbytSAKE se slagspreuk vir 2024 en die ontbytSAKE-toekennings wat ons nou ingestel het, het ten doel om die ondernemings nog verder met blootstelling te versterk.”

Louis het nie net ʼn kop vir sake nie, maar wil ook graag op verskeie terreine ʼn verskil maak. “My gesin is vir my baie belangrik. Ek is geseënd met ʼn wonderlike vrou en twee lieflike kinders. Dit is hulle wat my in staat stel om sterk te staan en balans te hou wanneer daar soveel dinge rondom my aan die gebeur is.”

Foto: Andrea Caldwell

Melinda, ontbytSAKE se regisseur en vervaardiger, is in Vereeniging as een van vier kinders gebore. Haar pa is oorlede toe sy nege was, waarna haar ma hulle alleen grootgemaak het. Dit was juis haar ma, ʼn sakevrou en Melinda se rolmodel, wat haar geleer het om te volhard in dit wat sy doen.

Melinda is ná matriek Pretoria toe en het in 1988 ʼn aanbieding by die SAUK gekry om as produksiesekretaresse by die destydse TV4 te werk. “Ons het konserte op die strande gedoen en met al die bekende kunstenaars gewerk. Dit was ʼn bitter lekker werk vir ʼn jong meisie.”

Sy was langer as nege jaar by die SAUK en het ontbytSAKE in 2000 saam met Johann Joubert begin. “Ek is sowaar steeds hier, en dit voel behoorlik soos my kind wat vir 24 jaar gegroei en ontwikkel het.”

Wanneer jy al vir só lank deel is van ʼn organisasie, kan jy ʼn boek vol stories vertel. Soos die dag wat beurtkrag vir groot konsternasie gesorg het. “Tydens ʼn regstreekse uitsending het die krag afgegaan, en ten spyte van kragopwekkers, wou alles behalwe die ligte werk. Ons moes skielik ʼn ander plan maak. Die stel op wiele is gesleep tot by ʼn deel van die gebou waar daar wel ligte was, en ons kon met die uitsending voortgaan so tussendeur ʼn paar halfgeboude stelle.”

ʼn Bloedjong Bobby van Jaarsveld het die hele span ook lekker laat lag toe hy met die stoel se hefboom tydens ʼn uitsending gevroetel het. “Toe ons weer sien, het net sy kop uitgesteek!”

Een episode verg die betrokkenheid van ʼn stewige klompie mense, van produksiebestuurders, teksskrywers, kameramanne, tot ʼn klankingenieur en stemkunstenaars. Melinda bly as vervaardiger en regisseur deurentyd deel van die hele proses. “Ek stel die program saam en hardloop ook natuurlik die hele tyd tydens ʼn program met my gehoorstukkie op en af!”

Sy weet sy is kwaai, maar reken dit is op ʼn mooi manier. “Dat ek puntenerig, streng en taakgerig is, sal ek ook nie mee stry nie. Dit is ʼn liewe klomp saam met wie ek werk, maar as jy vir hulle vrye teuels gaan gee, gaan dit chaos wees,” lag sy. “Dit is regtig ʼn merkwaardige span, en ten spyte daarvan dat ons uiteenlopende mense is, vul ons mekaar vreeslik goed aan.”

Melinda gee krediet aan die hele span as dit by nuwe idees kom. “Sedert Louis in ons midde is, word ons uitgedaag om te vernuwe, wat soms uitdagend is, maar ook baie lekker.”

Voor die kamera sal jy haar nie maklik kry nie. “Dit is baie makliker om vir ander te sê wat om te doen! Hoewel ek ʼn regte ou drama queen is, verkies ek dit om agter die kamera te wees. Ek is versot op my werk en verruil dit vir niks. Elke dag is vir my lekker.”

Foto: Andrea Caldwell

Maderi se wortels lê op ʼn Karooplaas buite Williston. Omdat die plaas so ver uit die dorp was, moes sy al op sesjarige ouderdom koshuis toe gaan. Nietemin sien sy steeds haar grootwordjare as idillies, en praat sy met ʼn hart vol warm herinneringe daaroor.

“Ek wou altyd ʼn joernalis word en het ná skool by Universiteit Stellenbosch gaan studeer. My loopbaan het met ʼn internskap by Rapport afgeskop, waarna dit ʼn draai deur die parlement gemaak het. Ek het ook ʼn hele ruk vir Pasella navorsing gedoen voordat ek in 2005 die Kaap vir Johannesburg verruil en by ontbytSAKE aangesluit het.”

Haar rol as produksiebestuurder behels onder meer heelwat skryfwerk van teks wat tydens die program gebruik word. Sy doen ook navorsing oor die gaste en gee dan riglyne aan die aanbieders vir wanneer hulle onderhoude met hulle voer. “Ek tref al die reëlings met die gaste en maak gewoonlik dubbeld seker van goed soos spelling en titels, omdat daar so maklik ʼn fout kan insluip.”

Al is daar riglyne, gebeur alles steeds natuurlik. “Ons wil dit juis nie te voorskriftelik maak nie om die atmosfeer te behou. Dit is eintlik maar georganiseerde chaos, maar die dinge gebeur darem altyd op die ou einde soos dit moet, binne ʼn ligte atmosfeer vol pret en energie. Dit is wat ontbytSAKE spesiaal maak.”

Sy vertel dat geen program ooit dieselfde is nie en dat sy ná 19 jaar steeds haar werk geniet. “Dit voel nog elke keer vir my soos ʼn rocket launch wanneer die aftellery voor ʼn program begin. Ons beplan alles vooraf so goed moontlik, maar daar sal altyd ʼn mate van onvoorspelbaarheid wees. Teen hierdie tyd weet ek ons span kan enigiets hanteer. Ons moet heeltyd op ons voete dink.”

Maderi verduidelik dat die sakeFOKUS-insetsels wat oor ondernemings, sekere terreine en temas gaan, vooruit opgeneem word. “Die volledige program word Saterdae sonder enige redigering uitgesaai. Omdat die meeste van ons al so lank saamwerk, weet ons al wat die ander een dink. Ons is regtig ʼn familie, vul mekaar aan en vra mekaar se raad. Ons is baie lojaal teenoor die program en sorteer verskille vinnig uit wanneer dit opduik.”

Maderi lag as sy onthou hoe Bill Flynn eendag hul fokusgas sou wees, maar hy het verslaap ná ʼn kuier die vorige aand en het nie opgedaag nie. “Dan moet jy vinnig ander planne maak. Die ontslape politikus Constand Viljoen was dié dag daar vir ’n insetsel, en net soos wat hy die gebou wou verlaat, het Melinda hom voorgekeer en gevra of hy nie ons hoofgas sal wees nie. Hy het ingestem en ons het ’n baie interessante onderhoud oor hom as mens gehad. Ons het ook een keer verskriklik gelag toe Corli vergeet het om kleefweerder in die bakkies te spuit waarin sy bobotiepasteie gemaak het. Die pasteie wou net nie uit die bakkies loskom nie en sy moes dit naderhand letterlik uitgrou! Corli kon net nie ophou lag nie! Dit was verskriklik snaaks.”

Maderi erken dat sy nie vir die kollig gemaak is nie en geen behoefte het om voor die skerms te wees nie. “Nee dankie, ek is eintlik ʼn baie groter introvert as ʼn ekstrovert. Ek verkies gemaklike klere en kies ʼn braai saam met my man en seun ver bo ʼn fees. Ek is dolgelukkig agter die skerms.”

Al drie hierdie dinamiese mense speel ʼn unieke rol in die sukses van ontbytSAKE. Een ding het hulle wel gemeen: Hulle raak opgewonde oor mense en ondernemings wat Suid-Afrika maak werk, en beleef daagliks hoe Suid-Afrikaners net nooit gaan lê nie. By ontbytSAKE kry hulle die geleentheid om dit vir hul kykers te wys, en dít doen hulle onverbeterlik.

Kyk saam met ons:

rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.

Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.

Lees ook: Anika de Beer: Onweerswolke stuit haar nie

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

5 maniere om meer selfvertroue te hê

Ons wil almal die soort vrou wees wat ’n kamer binnestap en selfvertroue uitstraal. Gebruik…

16 hours Gelede

‘n Velsorggids vir elke ouderdom

Soos ‘n mens ouer word, raak dit moeiliker om die sigbare tekens van elke verbygaande…

17 hours Gelede

Karamelspringmielies-en-mout-koekies

Gebruik ons resep vir basiese soetkoekies en maak hierdie lieflike karamelspringmielies-en-mout-koekies. Die koekieblik sal nie…

20 hours Gelede

Vanaand op ‘Een keer om die son’

Een keer om die son, volg die lief en leed van een familie oor die…

21 hours Gelede

Suidooster: Vyf stormagtige kinkels wag op kykers in Julie

’n Tornado van drama gaan glo Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, dié…

2 days Gelede

Maklike resepte vir ’n maand

Hierdie gesonde, smaaklike etes is die ideale uitweg vir almal wie se dae te vol…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.